Boer gee stukkie mielieland prys om jawoord te vra

Tiaan en Andrea nadat hulle verloof geraak het (Foto: Verskaf)

ʼn Vrystaatse mielie-en-boontjieboer het die grootste opoffering gemaak toe hy ʼn deel van sy mielieland prysgegee het om sy geliefde te vra om met hom te trou.

Tiaan de Wet (25) het sy meisie van die afgelope drie jaar verras deur die woorde “trou met my” in die mielieland op die plaas Mooigelegen buite Kestell te vertoon tydens ʼn helikopterrit oor die plaas. Maar ten spyte daarvan dat die meeste mense gedink het hy het dié letters uit sy mielieland gesny, het hy eintlik al lánk voor die tyd die projek begin aanpak, want dié mielies is so geplant.

Andrea Bierman (22), De Wet se verloofde, het aan Maroela Media vertel dat sy heeltemal onkant betrap is.

“Ek het dit glad nie verwag nie. Tiaan se ma het die vorige aand gesê daar is roes op die mielies omdat daar hael geval het. Hulle het gesê Tiaan se pa gaan met die helikopter vlieg om te kyk wat die skade is en ek moet saamkom. En ek het nogal die storie geglo!” het Bierman gesê.

Die woorde wat Tiaan ‘n jaar gelede so laat plant het (Foto: Verskaf)

Bierman was eintlik nog onseker of sy wou saamgaan, want sy was nie lus om so vroeg op te staan nie. Maar die volgende oggend het Tiaan haar met koffie in die bed wakker gemaak, sodat sy móés saamgaan.

“Ek belowe ek het régtig probeer kyk vir roes en toe sien ek die woorde daar staan,” het sy gesê.

Sy het aanvanklik nie verstaan wat aangaan nie. Sy het toe na Tiaan langs haar gekyk. Hy het begin lag en die ring uit sy sak gehaal.

“Alles het so vinnig gebeur, ek het eers later besef ek het nooit ‘ja’ gesê nie! Dit het my baie spesiaal laat voel,” het sy gesê.

Tiaan en Andrea trou in Augustus 2019 (Foto: Verskaf)

“Wat die beste is, is dat die meeste mense wat die foto’s op sosiale media sien, dink Tiaan het die woorde uitgesny, maar hy het nie. Hy het dit al verlede jaar so geplant! Hy het net gewag dat dit reën sodat dit kan groei.”

Bierman het gesê lank terug het iemand vir hulle gevra wanneer hulle verloof gaan raak, en toe sê De Wet se pa dat dit een van die dae gaan reën. Destyds het sy nie verstaan hoekom hy dit sê nie, maar nou weet sy.

Sedert hulle verlowing kry hulle baie kommentaar oor die jawoord-vraag en mense keer hulle in die dorp voor om verder uit te vra. Daar is ook mense wat toevallig oor die plaas gevlieg het, De Wet se handewerk gesien en hom op sosiale media sterkte toegewens het.

Bierman en De Wet het op 17 Februarie verloof geraak, en beplan om op 10 Augustus vanjaar te trou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

LinQ ·

Dit gee nuwe betekenis aan ‘wanneer die tyd reg is’ en ‘Die Here sal besluit’. Mag julle baie gelukkig en geseend wees op julle lewenspad

Heksie ·

sjoe, hys ‘n outjie duisend … hoop hulle is baie gelukkig!

AnnieL ·

Dis nou n goeie boer. Hyt sy beplanning lank vooruit gedoen! Wens julle n pragtige toekoms saam.

Nettie ·

Awwwww …………………… Dit is SOOOOOOO romanties!!!!!!!!!!!!!!! Baie geluk julle twee, mag julle mooiste dag in Augustus 2019, werklik jul MOOISTE, MOOISTE dag wees en mag julle vir ewig en altyd gelukkig wees.

Martins ·

Dit is nou alles baie nice tot my vrou die sien,ek reken dis weer kfc vanaand.

CarenC ·

@ Martins – hoe lekker lag ek nou! Verras maar jou vrou vanaand met KFC en ‘n bossie blomme.

Maria ·

Baie geluk julle twee. Dit is baie romanties. Dit is n heel besonderse manier gewees om te vra… ?

Naas Vermaak ·

Sy het nie “ja” gese nie….volgens haar…..hulle sal weer moet vlieg……

Foxi ·

N man uit n duisend!!! So skaars soos hoedertande???Baie geluk julle twee???

Anna Smith ·

Hierdie boer soek nie n vrou nie…hy het een gekry..???

Miggie Pelser ·

Aaaah dit is sooo mooi !!!! Baie geluk julle tweetjies, julle is so pragtig, julle pas so mooi bymekaar xx

Arendoog ·

‘n Boer Maak ‘n Plan!
Wonder of dit op satteliet fotos wys?

anoniem ·

Dis nou SO oorspronklik en SO romanties.. :-) enige meisie se droom. Geniet dit ounooi. Lykmy jy het die “jackpot” geslaan.

Anoniem ·

@ Martins hierbo: As ek jou reg lees ou, het jy nie sulke truuks nodig nie; jou sin vir humor maak op vir al daai. :-)

Rina Kotze ·

Ai, dis so oulik!
My broer het ook my skoonsus op ‘n soortgelyke manier gevra om te trou, hy het net ‘n suk land gaan ploeg met die woorde op!

Veels geluk aan julle 2, mag julle baie baie jare saam gelukkig wees!!!

Wit Willem ·

Hoop nie die regering sien daai lappie ongebruikte plaasgrond nie.

Dis mos goeie rede vir onteiening? Of plakkers.

Geluk julle, mooi storie.

Gesiggie ·

Sjoe…. dit is nou wat jy ware Liefde noem? Well Done Tiaan” dit is nou waarlik n mooi gebaar gewees”’ baie romanties… baie geluk en als wat mooi is vir jou en Andrea…mag jul mielies gooi by die troue”’

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.