Boer slaap op dak vir bewusmaking

Johnny Theunissen slaap op sy dak om geld in te samel vir die droogte in die omgewing (Foto: Verskaf)

Johnny Theunissen, ʼn lusern- en skaapboer van Beaufort-Wes, het onderneem om op sy padstal se dak te slaap tot R50 000 ingesamel is vir die droogte in dié area.

Theunissen (62) het met die idee vorendag gekom omdat hy bewusmaking wil skep oor die erns van die droogte.

“Die droogte kom nou al van lankal af, en die boere kry regtig swaar. Die boere kan nie meer voer koop nie, en al kry ons skenkings van ander plekke in die land af, kos dit tussen R15 000 en R20 000 om dit te vervoer. Die boere kry ook nie lenings nie,” het Theunissen aan Maroela Media gesê.

Die geld wat ingesamel word, word gebruik om die vervoerkostes te dek van voer wat geskenk word en ook om vragmotors te koop.

“Ons het vanmôre ʼn boodskap gekry van iemand in Dubai wat vir ons R10 000 inbetaal het, én ons het nog drie geborgde vragmotors gekry. Ons is nog nie seker presies hoeveel geld ingesamel is nie, maar ek dink ons is al ver oor die R50 000, “het Theunissen gesê. “Maar ek gaan maar op die dak slaap tot Vrydag.”

Die padstal is langs die pad op pad Oudshoorn toe en Theunissen sê hy kry nou al baie aandag omdat baie mense weet wat hy doen.

“Partykeer sal vragmotors hier verbyry en op die toeter blaas om my aandag te kry. Ek is bly daaroor, ek wou sommer so ’n bietjie humor by die morbiede droogte inbring, en ek’s bly ek kan dit op so ’n manier doen.”

Die padstal waar Johnny slaap (Foto: Verskaf)

Theunissen het die eerste twee nagte lekker op die dak geslaap met goeie weer, maar die derde nag was hy nie so gelukkig nie.

“Ek het gisteraand vreeslik koud gekry – ek het amper opgestaan en terug plaas toe gegaan. Toe bid ek maar net en sê: ‘Asseblief, Here, maak my net aan die slaap,’ en toe het ek nogal lekker geslaap die res van die aand!”

Theunissen sê hy is baie dankbaar vir almal wat tot dusver gehelp het en skenkings gemaak het.

“Ek wil net baie dankie sê vir die gemeenskap wat ons gehelp het. Die ouens wat nie boere is nie, weet nie altyd hoe erg dit is nie, maar hulle het ons baie gehelp in die saak. Die geld wat geskenk word, kom nie van boere af nie, dit is die ander mense, die mense wat die produkte moet koop wat die geld skenk en ons waardeer dit opreg. Elke R10 help.”

Vir meer inligting oor skenkings, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Denise ·

Dit is baie hartseer dat die boere nou sover moet gan om geld in tesamel vir die droogte ????? Intussen word die land leeg besteel deur die mense wat aan bewind is en hulle almal moet ook eet . LYK dit vir julle of hulle omgee oor die boere wat swaartrek asgevolg van die droogte ek dink nie so nie hoekom sal hulle ,hulle gee nie eens om vir die boere wat vermoor word nie!!!!

hannes marais ·

denise dis nie net boere war swaar trek nie..gaan kyk hoe lyk dit in wit plakkerskampe..daars geen hulp vir dai mense nie

Stephen Namibia ·

Pasop Johnny jy word net nog n statistiek. Ek voel vir die boere maar die droogte kom nou tweede.

Vermeende ·

My vriend, ek bid dat jy op jou dak papnat reen, sal dit nie n seen wees nie?

Haan ·

Kan Maroela Media nie dalk die inisiatief se bankbesonderhede deel – of ons net in die regte rigting wys nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.