‘Boer soek ʼn vrou’-egpaar se baba gebore

Boer Gerrie en sy vrou, Carna (Foto: Cindy Louwrens Fotografie)

Die Boer soek ʼn vrou-egpaar Gerrie en Carna Rossouw het Donderdag net ná 16:00 vir die eerste keer ouers geword.

Hul babadogtertjie weeg ʼn gesonde 3,29 kg en is 49 cm lank.

Carna is gesond en gelukkig, het Gerrie aan Maroela Media gesê. “Sy lyk heel happy. Sy wou graag normaal kraam, maar die dokter het toe voorgestel dat sy eerder ʼn keisersnee laat doen, so dit is hoe dit aan die einde gebeur het. Maar sy lyk goed, sy is mos tough. Vroue is mos maar taaier as mans as dit by pyn kom.”

Gerrie en Carna het hul babadogtertjie Sanri genoem, vernoem na Carna se ma, Sandra. Gerrie het gesê hy het tydens Sanri se geboorte ʼn gevoel gehad wat hy nog nooit vantevore beleef het nie.

“Ek het nogal gestres, eintlik meer as Carna. Ek was baie bewoë toe die kindjie gebore is, dis ʼn gevoel wat ʼn mens nie ken nie, en nog nooit gehad het nie. Ons is verskriklik dankbaar. Maar die werklikheid het nog nie regtig ingeskop nie. Dit sal eers real voel as ons haar terug plaas toe vat.”

Carna het self Sanri se kamer op die plaas ingerig. “Die kamer is lekker bont, maar merendeels groen. Carna het self geverf en al die dekor gedoen,” het Gerrie gesê. “Sanri is klaar so bederf, haar babakamer is vol speelgoed en sy sal seker nie eens al die klere een maal kan dra nie, so baie is daar!”

Gerrie en Carna Rossouw (Foto: Cindy Louwrens Fotografie)

Gerrie kan nie wag om vir klein Sanri die plaas te wys nie. “Ek dink ek en Sanri gaan sommer groot pelle wees,” het Gerrie gesê. “Ek spot heeltyd met Carna en sê dat Sanri nie skool toe sal wil gaan nie, omdat ek haar heeltyd in my bakkie op die plaas gaan rondry. Ek en sy gaan lekker saam-saam boer.”

Oor doeke omruil is Gerrie nog huiwerig.  “Ek het nie ʼn goeie maag nie, so ek sal maar die piepiedoeke hanteer, ek weet nie van die ander nie. Carna weet darem ek raak vinnig naar, gelukkig is sy op haar gemak daarmee,” het hy laggend gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

sonia ·

baie geluk julle twee. my geboorteplaas…het daar groot geword en kindwees was n fees op daardie plaas. hoop kleinding gaan elke sekonde geniet.

Tokkie ·

Baie geluk. Hoop sy bring vir julle baie vreugde. En Pa hou maar al die haelgeweer reg. Sy gaan ‘n regte dametjie wees

Doris ·

Baie geluk Gerrie en Carna ek ken julle nie maar net van die program op die TV. julle was van die begin af twee pragtige mense en ek wens julle alle seênwense toe met daardie pragtige pienk bondeltjie liefde wat julle ontvang het van GOD en ek weet julle sal haar in die weê van JESUS groot maak en sy sal n plesier in julle lewens wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.