Boer wil in hok sit vir minderbevoorregtes

Argieffoto

Hoe verseker jy dat ʼn liefdadigheidsinisiatief volgens plan verloop? ʼn Boer van Naboomspruit in Limpopo gaan op 10 Julie tydens Nasionale Bokkieweek in ʼn hok klim en eers weer uitklim wanneer R100 000 ingesamel is vir plaaslike studente se studiefondse.

Johan de Beer, ’n Solidariteit Helpende Hand-takvoorsitter, gaan as deel van die Naboomspruit-gemeenskap se inisiatief om geld op kreatiewe maniere in te samel vir studente wat nie studiegeld kan bekostig nie, poog om talle jongmense se lewe met dié projek te verander.

Helpende Hand se studiefondssentrum (SFS) het verder ook die Sente vir Studente-projek van stapel gestuur om gemeenskappe te ondersteun wat in hulle jeug belê. Vir elke sent wat die gemeenskap insamel, verdubbel die SFS die bedrag tot en met R25 000.

“Hierdie projek het Johan de Beer geïnspireer om sy eie vryheid op te gee. Op 10 Julie gaan Johan die koue trotseer en in ’n hok klim wat uitgestal word by die Nasionale Bokkieweek. Die hok sal heeltemal leeg wees totdat daar R25 000 ingesamel is. Dan eers sal Johan basiese behoeftes soos kos en water ontvang,” sê Helpende Hand in ʼn verklaring.

Verlede jaar is daar deur die Nasionale Sente vir Studente-projek R868 797 ingesamel.

Die Nasionale Bokkieweek bestaan sedert 1991 en word jaarliks aangebied wanneer skole-rugbyspanne teen mekaar kragte meet.

Die geleentheid vind plaas by die Hoërskool Hans Strydom (Negende Straat, Naboomspruit).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.