Boere en stigting span saam om voedseltekorte in Mpumalanga te pak

CMR Mpumalanga het die Mike Loutfie-stigting en Agri SA bedank vir die skenking van kospakkies met vars groente en vrugte in. (Foto: Amanda Badenhorst.)

Die Mike Loutfie-stigting het Vrydag saam met Agri SA en die Christelik- Maatskaplike Raad (CMR) Mpumalanga gewerk om ʼn duisend kospakkies met vars produkte aan gemeenskappe in Mpumalanga uit te deel wat onmiddellike voedselhulp nodig het.

Ongeveer 5 000 mense is gehelp met kospakkies wat groot hoeveelhede gesonde, vars vrugte en groente soos aartappels, uie, tamaties, wortels, appels, lemoene, beet en patats insluit.

Met hierdie projek wil Agri SA en Mpumalanga Landbou beklemtoon dat alle mense in Suid-Afrika toegang tot vars en voedsame kos moet hê.

“Voedselsekerheid word nie net bepaal deur die vermoë om voedsel op ’n volhoubare manier te produseer nie, maar ook deur die beskikbaarheid en bekostigbaarheid daarvan om dit op alle mense in Suid-Afrika se tafels te sit. Dit is ’n voorreg vir Mpumalanga Landbou om hierdie projek van Agri SA in ons provinsie te koördineer en om die positiewe beeld van ons produsente in die geheues van ons klante te versterk deur ’n verskil in behoeftige gemeenskappe te maak.

‘n Duisend kospakkies is Vrydagmiddag CMR Mpumalanga se Middelburg kantoor ontvang en verpak. (Foto: Amanda Badenhorst.)

“Mpumalanga Landbou wil Yara vir hulle skenking bedank, en die personeel van die Mike Loutfie-stigting en Mpumalanga CMR vir hulle geweldige bydrae om hierdie projek te laat slaag,” sê Robert Davel, woordvoerder van Mpumalanga Landbou.

Hy voeg by dat die produsente en plaaswerkers ook erkenning verdien vir hul onvermoeide pogings, ten spyte van moeilike omstandighede, om veilige, gesonde en bekostigbare voedsel aan die mense van Suid-Afrika te verskaf.

CMR Mpumalanga as welsynsorganisasie is die grootste nieregeringsorganisasie sonder winsoogmerk in Mpumalanga wat op die gebiede van kinderbeskerming, kindersorg en gesinsontwikkeling bedrywig is. CMR Mpumalanga bereik jaarliks ongeveer 71 700 behoeftige mense.

CMR Mpumalanga, met CMR-kantore reg oor Mpumalanga, streef daarna om in die behoeftes van gemeenskappe te voorsien en hulle hoop te gee, veral tydens gebeurtenisse soos die Covid-19-ramp, wat in die geskiedenis ingeëts sal word.

Ludie Erasmus Vervoer het ook gehelp om die waardevolle kospakkies af te lewer by die regte plekke in die provinsie. (Foto: Amanda Badenhorst.)

“Dit is vir ons ’n voorreg om in vennootskap met die Mike Loutfie-stigting en Agri SA te werk om voedsame kos vir die kwesbaarste mense te verkry en om liefde, lig en hoop met diegene in nood te deel. Baie dankie hiervoor,” sê dr. Susan Louw, CMR Mpumalanga se direkteur.

Ludie Erasmus Vervoer, ’n kundige logistiekmaatskappy, het goedgunstiglik hulle tyd en hulpbronne geskenk om die geweldige taak te hanteer om die waardevolle kospakkies af te lewer.

Zani Kunz, uitvoerende direkteur van die stigting, sê in reaksie op die verwoesting wat honger in die gemeenskappe saai, “Ons is trots om deel te wees van Agri SA en Yara Africa Fertilizer se voedselhulpprojekte en saam met die CMR, Mpumalanga Agriculture, Ludie Erasmus Transport en die RSA Group te werk om kwesbare gemeenskappe direk te help deur vars produkte te verskaf wat die immuunstelsel versterk”.

Die Mike Loutfie-stigting in die hartjie van die varsproduktebedryf is perfek geplaas om te help met die betekenisvolle ontwikkeling van individue en gemeenskappe. Benewens die fasilitering van varsprodukteskenkings, werk die stigting ook daaraan om volhoubare voedselverligting te bring deur sy Fresh Zone-inisiatief waardeur groentetonnels opgerig word en gemeenskappe toegerus word om selfonderhoudend te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.