Boerseun ruil rugbystewels vir wynkelder

Kwagga Boucher is tuis tussen die wingerdstokke. (Foto: Verskaf)

Een van die moeilikste dinge vir Eddie “Kwagga” Boucher was toe die eindfluitjie in 2012 vir sy rugbyloopbaan geblaas het en hy sy stewels finaal moes ophang.

Boucher (38) is ʼn boerseun van die Vrystaat wat in die vroeë 2000’s as beroepspeler uitgedraf het. Toe ʼn lastige besering sowat 10 jaar later nie wou herstel nie, het Boucher geen ander keuse gehad as om uit te tree nie.

“Natuurlik was dit baie moeilik. ʼn Mens voel hulpeloos, want jy oefen en werk hard, maar dan kom ʼn simpel ding soos ʼn ligament wat pla en jy besef daar is nie ʼn ander uitweg as om op te hou speel nie,” vertel hy.

Om te boer is in Boucher se bloed; sy pa boer steeds in die Koppies-Kroonstad-omgewing en het al met mielies en sonneblomme geboer. Boucher het na skool saam geboer én rugby gespeel en was altyd van plan om in die Vrystaat te bly. Maar die 2008-resessie het ʼn stokkie voor Boucher se toekomsplan gesteek.

“Dit het in daardie tyd baie swaar op die plaas gegaan. Ek sou altyd in die Vrystaat gaan boer het, maar tydens die ekonomiese krisis het ek anders oor my toekoms op die plaas begin dink en besef dat ek graag sou wou uitbrei en iets anders wil doen,” sê Boucher.

Kwagga Boucher is ‘n wynmaker en die hoofbemarker van La Boucher-wyne. (Foto: Verskaf)

In 2010 het hy by die Boland Kavaliers in Wellington aangesluit en ongeveer ʼn jaar vir hulle gespeel. Die Wynland het ʼn groot indruk op hom gemaak en toe sy rugbyloopbaan in 2012 eindig, was dit asof die wynbedryf hom nader gewink het.

“Boerdery is beslis in my bloed, maar nie wynmaak nie,” lag Boucher. “Ek het eintlik niks van die bedryf geweet nie en dit wat ek gedink het ek weet, was nie naastenby genoeg om self wyn te maak nie.”

Boucher het voelers uitgesteek en agtergekom dat wynmaak nie ʼn ingebore talent is nie. Dit is ook nie ʼn vereiste om jou eie landgoed en wingerde te besit of uit ʼn generasie van wynboere te kom nie.

Met sy boerderyagtergrond was dit vir Boucher darem redelik maklik om werk in die wynbedryf te kry. Aan die einde van 2012 het hy die Vrystaatste vlaktes verruil vir die Kaapse Wynland.

“Ek onthou spesifiek toe ek by Farmco BEE, ʼn plaas wat druiwe aan kelders lewer, in Darling gewerk het. Ek het nauurs op my eie kursusse gedoen en meer oor die wynbedryf en -boerdery geleer.”

Mettertyd het Boucher sy voete tussen die wingerde en wynvate gevind en later eers begin om self wyn te maak.

Kwagga Boucher met ‘n bottel La Boucher Pierré. (Foto: La Boucher Wines/Facebook)

“Ek het êrens die idee gekry dat ek dalk op my eie en op ʼn klein skaal wil begin wyn maak en toe ʼn vriend my nader met ʼn soortgelyke idee, was die tyd reg vir ʼn volgende tree,” vertel Boucher.

Hulle het wingerde en kelderruimte gaan huur en so het La Boucher (uitgespreek as “La Boo-shay”) Wines in 2018 die lig gesien, waar Boucher ʼn wynmaker en hoofbemarker is. Volgens hom huur hulle steeds grond en eiendom en het ʼn doelwit gestel wat eers bereik moet word voor die volgende stap oorweeg word.

“Wingerdboerdery is van die oudste boerderye in Suid-Afrika,” sê Boucher. “Maar wyn is ongetwyfeld een van die moeilikste produkte om te bemark omdat dit ʼn luuksheid is.”

Boucher dink vlugtig terug aan die begin van hulle bemarking vir La Boucher-wyne en hoe sosiale media, restaurantbesoeke en wynproeaande ingespan is om dié nuwe produk aan potensiële verbruikers bekend te stel.

“Ek het natuurlik mentors gehad by wie ek om raad aangeklop het en wat leiding gegee het. Dit is nie nodig om hieroor skaam te wees nie. Ek is ook glad nie bang om te sê dat ons hulp inkry nie,” sê hy.

Gedurende die afgelope paar jaar het Boucher, sy gesin en die hardwerkende span saam La Boucher-wyne opgebou tot wat dit vandag is. Boucher verklap dat die wynboerdery vinniger as wat verwag is, gegroei het. Die eerste wynproduksie het minder as 8 000 bottels gelewer, maar nou produseer hulle meer as 20 000 bottels per oes.

Wynwinkel vir familieboere

Boucher se passie vir die wynbedryf het ook gelei tot sy betrokkenheid by die Suider-Afrika Agri-Inisiatief (Saai). Hy was van 2019 tot met die totstandkoming van Die Wynboer in Saai se direksie.

Die Wynboer, ʼn aanlyn wynwinkel wat daarop gemik is om familieboerwyne teen kelderdeurpryse aan verbruikers van oor Suid-Afrika beskikbaar te stel, het te danke aan gesprekke by vergaderings en tussen lede ontstaan. Boucher vertel:

“Ek onthou nog dat ons êrens in 2019 tydens ʼn vergadering gesels het oor moontlikhede om lidmaatskapgetalle in die Wes-Kaap te laat groei. Ek en een van die ander direkteurslede, William Waugh, het op pad lughawe toe verder hieroor gesels.

Kwagga Boucher saam met sy vrou, Marica, en hul kinders. (Foto: Verskaf)

“Ons het gesels oor struikelblokke wat boere en wynmakers in die bedryf moes trotseer, of hulle genoeg aandag aan bemarking en logistieke beplanning gee en of hulle weet dat ʼn begroting en finansies maklik handuit ruk as jy dit nie beheer nie,” vertel Boucher.

“Omdat ek van die platteland af kom en besef hoe min ek van die wynbedryf geweet het, het ek besef met watter uitdagings hierdie boere sit.”

En van daar af het die idee ontstaan om ʼn platform te skep wat familieboere, veral dié wat op die platteland bly en nie toegang tot die nodige hulpbronne het nie, oplei.

Wanneer Boucher nie rondry vir werk nie, is hy dolgelukkig by die huis saam met sy gesin. Hy is met Marica, ʼn boorling van Phalaborwa in Limpopo, getroud en die egpaar het twee kinders, PJ en Qumé. Marica het aan ʼn landbouskool matriek behaal en menslikehulpbronbestuur studeer.

Natuurlik is dit moeilik om lang tye weg van die huis af te wees, maar dit doen hy met ʼn groot glimlag.

“Alles wat jy doen, doen jy vir jou kinders. Dít is veral waar vir wynboere, want dit is ʼn baie lang proses,” skerts hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Weet hy van onteiening sonder vergoeding wat net om die draai is?
Die media kan ook maar ophou om met berigte en TV programme oor suksesvolle boere. Daars genoeg mense in die ANC wat wel Afrikaans verstaan en wat dié goed ook lees en sien. Môre oormôre begin onteiening sonder vergoeding en dan is dié “suksesvolle boere” wat so in die media opgehemel word, bo aan die lys om eerste onteiening te word.
As jy wit is in SA, VERAL as jy ‘n wit boer is, BLY DAN WEG vanaf enige blootstelling van jou bates, persoonlike besonderhede ens ens.

deon ·

Mooi so….ons boere gaan le nie,veral nie vir politiek nie..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.