Boishaai maak ’n ‘groen’ belegging

Hoër Jongenskool Paarl (HJS) se waterbottels (Foto: Verskaf)

Hoër Jongenskool Paarl (HJS), oftewel Boishaai, se kenmerkende blou kleur moes tydelik die knie buig toe dié skool onlangs sy geld in ʼn ander kleur belê het.

Boishaai het besluit om “groen” by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se Borg ʼn Woord-projek te koop.

“Vir ʼn skool wie se kleure al meer as 152 jaar blou is, is dit vir seker vreemd om in die woord “groen” te belê,” skerts Willem Erwee, hoof van bemarking by die skool. Dit vorm deel van ʼn bewusmakingsveldtog oor die belangrikheid daarvan om tot ʼn gesonder omgewing en leefstyl by te dra.

“Een van HJS se doelwitte is juis om seuns tot mans te ontwikkel wat ʼn positiewe bydrae maak tot ʼn wêreld wat grootliks negatief is”, sê Derek Swart, die skoolhoof.

Erwee gee te kenne dat Boishaai beslis nie die voorste “groen” skool is nie en voeg by dat hulle reeds op verskeie maniere pogings aanwend om ʼn verskil te maak.

‘n Foto van Boishaai se spekbome (Foto: Verskaf)

Dit sluit waterbesparingstelsels, herwinningsprojekte wat in samewerking met die Drakenstein Munisipaliteit hanteer word, tydskakelaars vir ligte en die aankoop van spekbome vir klaskamers en koshuise in.

“Daar is ʼn groot fokus op die hergebruik en herwinning van plastiek,” vertel Erwee. “Geen ballonne word meer by byeenkomste vrygelaat nie en die plastiek wat tydens Interskole om bome gedraai word, word in samewerking met die Drakenstein Munisipaliteit verwyder.”

Erwee verduidelik ook dat plastiekbottels met aluminiumblikkies vervang is en dat die skool nou sy eie koffie- en waterflesse tydens byeenkomste verkoop.

“Boishaai voeg woord by daad en wil met dié poging alle skole wat reeds hul “groen” bydrae gemaak het, bedank. Ons wil ook skole wat nog nie hul deel vir die saak doen nie, aanmoedig om “groen” praktyke te vestig en saam met ons ʼn verskil te maak,” het Erwee ten slotte gesê.

Hoe om ʼn woord te borg

Woorde kan teen R100 per woord geborg word en elke deelnemer ontvang ʼn sertifikaat met sy naam en die woord of woorde wat hy of sy borg. Jy kan ook ʼn woord vir R5 000 koop en niemand anders mag dan daardie woord borg of koop nie. As jy R5 000 skenk vir ʼn woord, ontvang jy ʼn 18A-belastingsertifikaat. Alle deelnemers wat woorde borg, kry ook ses maande gratis toegang tot die aanlyn weergawe van die WAT en indien jy ʼn woord koop, kry jy gratis toegang vir vyf jaar.

Een prys van R25 000, geborg deur Sanlam, kan gewen word. Almal wat woorde borg of koop, kom vanselfsprekend vir hierdie prystrekking in aanmerking.

Indien jy ʼn woord wil borg, gaan na www.wat.co.za en klik op Borg ʼn Woord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae