Bonteheuwel: Die mooi, te midde van ’n pandemie

Die eerste dag van afsondering in Bonteheuwel. (Foto: Verskaf deur Angus McKenzie)

Dit is liters sop, pakke hoender, die voorbereiding van maaltye, die uitdeel van brood, gesigmaskers, seep en, voeg Henriëtte Abrahams by, “die pamfletjie vir die mense om te weet hoe moet hulle nou maak”.

Bontas, kort vir Bonteheuwel, op die berugte Kaapse Vlakte in die Wes-Kaap het baie beskrywings. Van ‘n bendegeteisterde gebied met ’n hoë werkloosheidsyfer, ’n hoë alkohol-en-dwelmmisbruik-sone, tot ’n arm gemeenskap waar hongerte in baie huisgesinne die norm is.

Maar dan kom skyn die Covid-19 pandemie ’n lig op die mooi van Bonteheuwel. ’n Mooi wat nog altyd daar was. Maar wat té maklik oorskadu word deur negatiewe beskrywings.

Henriëtte, ’n gemeenskapswerker en lid van die georganiseerde straatkomitee, verduidelik dié komitee is al die afgelope twee jaar reeds aan die werk in al 16 blokke wat Bonteheuwel uitmaak. Met die staat van afsondering het die vrywilligers in die straatkomitee die Bonteheuwel Covid-19 Reaksiespan saamgeroep; ’n geoliede stelsel bestaande uit omgee en harde werk.

Omgeepakkies word gepak (Foto verskaf deur Henriëtte Abrahams)

“Toe die president die lockdown aankondig het, het baie mense nog nie ge-pay nie, en toe het dit vir ons nou gekos om navraag te doen onder gemeenskapslede vir ’n R10 hier, ’n R50 daar of ’n R200 en het ons só R15 000 onder mekaar ingesamel. Ons kon vir so net oor die 200 mense omgeepakkies gee.

“’n Omgeepakkie bestaan uit slegs die basiese goedere: brood, meel, suurdeeg, boontjies, lensies, rys, suiker, tee, seep en die pamfletjie vir die mense om te weet hoe moet hulle nou maak.”

Danksy ’n skenking uit die gemeenskap, het hulle groente en brood ontvang. Daar word boontjies en soppoeier bygevoeg om 100 liter sop te maak. Dit word daagliks voorberei om saans aan inwoners uit te deel.

“Die blokke maak beurte, een aand is dit die een, ander aand daai een,” verduidelik Henriëtte.

Intussen het die woord versprei en het die Bonteheuwel Covid-19 Reaksiespan skenkings van buite die gemeenskap ontvang. Waar hulle die eerste week 12 kospakkies per blok kon gee, kan hulle nou 16 omgeepakkies per blok uitdeel.

Henriëtte sê: “Die pakkies gaan aan die mense waar daar groot hongerte in die huis is, aan hulle met ’n swak immune, om hul system op te bou en hulle die nodige nutrition te gee. Sodat wanneer hulle die virus kry, hul immune system darem bietjie kan terugbaklei.”

Wykraadslid van Bonteheuwel Angus McKenzie by skenkings van brood. (Foto: Verskaf deur Melanie Croucher)

’n Inisiatief wat verlede jaar tot stand gebring is, die Bonteheuwel Business Network, bestaan uit plaaslike mikrobesigheidseienaars wat projekte tot voordeel van die gemeenskap aanpak.

Melanie Croucher, ’n aktiewe lid van die netwerk, sê met die Covid-19-krisis is dit hul eerste groot geleentheid om die gemeenskap te ondersteun.

Deur onder meer twee keer per week 400 brode te skenk hoop hulle om die hongerte in die gemeenskap effens te verlig.

Croucher, ook ’n oudinwoner van Bontas en wie se ma nog daar woon, bestuur haar eie besigheid. Volgens haar moet besighede hul deel doen. “Hierdie is die tyd om saam te staan. Dit maak nie saak wat jou politieke verbindings is, wie jy is of wat jy doen nie. Ons moet mekaar ondersteun. Klein- en groot besighede moet die mense in nood help.”

Meel in grootmaat word aangekoop en in kleiner sakkies verpak. (Foto: Verskaf deur Henriëtte Abrahams)

Die gemeenskap se wyksraadslid, Angus McKenzie, sê hy is oorweldig oor die wyse waarop die inwoners van Bonteheuwel saamstaan.

McKenzie sê:Dit is die eerste keer dat ons ’n noodtoestand in Bontas ervaar. Die meerderheid slaan sover ag op die regulasies. Onderrig en bewusmaking oor die virus vind op verskillende maniere plaas.”

Hy erken egter dat voedselsekerheid in die gemeenskap ’n uitdaging is, maar voeg by dat besighede, inwoners en vrywilligers reeds na vore gekom het om te help.

“Die sleutel tot hierdie sukses,” sê McKenzie, “is eenheid, want as ’n gemeenskap is ons sterk.”

Henriëtte van die Bonteheuwel Covid-19 Reaksiespan en die span vrywilligers is altyd gereed met ’n oplossing.

“Toe ons R40 vir een masker moes betaal, maak ons plan. Ons het baie mense in ons blokke wat uit die kleremaakindustrie kom en werkloos is. Toe koop ons materiaal en maak ons eie maskers. Die maskers gaan in die omgeepakkies terwyl die ander vir R25 verkoop word en só kry die kleremaakster ook ’n inkomste, verstaan?”

Hulle het al 100 maskers op dié wyse verkoop.

Daar is ook uitdagings – van ’n tekort aan materiaal omdat materiaalwinkels gesluit is, tot oorvol huise waar ’n virus maklik kan versprei. Maar dit is die hongersnood onder die mense wat eerste gestel word.

Groepfoto van gemeenskapslede in Bonteheuwel (Foto: Verskaf deur Melanie Croucher)

“Die need is so, so, so baie. In Hanover Park, Mitchells Plain, Athlone, Heideveld – hulle bel my, whatsapp my en facebook my – hulle vra ‘help my asseblief auntie’. Die need is verskriklik groot.

“Ek raai ander gemeenskappe aan om dit wat ons doen, ook te doen, om mekaar te help op straatvlak, verstaan?” sê Henriëtte, wat saam met elke inwoner en vrywilliger deel vorm van die mooi van Bonteheuwel, te midde van.

  • Lesers wat Henriëtte met haar projek wil ondersteun, kan ’n e-pos stuur aan [email protected]. 
  • Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.