Boomplantmaand: ʼn Vars briesie deur die land

Hoërskool Bothaville vier saam Boomplantmaand. Foto: Verskaf.

Hoërskool Bothaville vier saam Boomplantmaand. Foto: Verskaf.

AfriForum het sy nuwe inisiatief, Boomplantmaand, gister bekend gestel en die belangrikheid van bome en hul erfenis benadruk.

Volgens Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, is die inisiatief ʼn vars briesie wat deur die land gaan waai. “Mense regoor Suid-Afrika vier lenteweek gewoonlik gedurende die eerste week van September. AfriForum wil egter die hele Septembermaand aan bome wy,” het Kleynhans gesê.

Die organisasie het weereens ʼn plan vir Boomplantmaand in 2015 regoor die land uitgerol. “130 AfriForum-takke landswyd gaan meer as 1 000 bome deur die loop van die maand plant. Die takke gaan verskeie besighede, gemeenskappe en skole besoek om oor die belangrikheid van bome te praat, terwyl uitheemse uitwissingsprojekte ook van stapel gestuur gaan word. Ons gaan probeer om meer as 700 bome net in Gauteng te plant,” het Kleynhans bygevoeg.

ʼn Onlangse studie in New York het bewys dat die 343 meer bome per km² die tempo van asma met tot soveel as 24% tot 29% verlaag by kinders tussen die ouderdomme van 4 en 5. “Bome is erfenis, hulle is ʼn belangrike deel van die ekosisteem en is ʼn natuurlike hulpbron waarsonder niemand in staat sal wees om te oorleef nie. Hulle verskaf suurstof, skaduwee en voedsel,” het Kleynhans gesê.

Daar word vanjaar op twee bome gefokus:

 Wetenskaplike naamAfrikaansEngels
1Combretum krausiiBosvaderlandswilgForest Bushwillow
2Heteromorpha arborescensWildepietersieliebosParsley tree

 

Volgens Kleynhans is dit nie nodig om net hierdie bome te plant nie. Jy kan enige boom wat inheems in jou gebied is, plant. AfriForum moedig lede, skole, kerke en die gemeenskap as ʼn geheel aan om ʼn inligtingsdokument oor Boomplantmaand, gratis van sy webtuiste af te laai.

“Ons wil graag al ons skenkers bedank, veral Chartwell Castle vir hul bydrae van 500 bome vanjaar. AfriForum moedig gemeenskappe landwyd aan om aan Boomplantmaand deel te neem, om die program te versprei en die toekoms te verander,” het Kleynhans afgesluit.

Klik hier vir die boomplantmaandhandleiding: Boomplantmaand 2015

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann Marx ·

Die SAPD het my laas naweek afgetrek en bietjie boom in my kar gekry. Hulle wou nie glo dat ek oppad was om dit te gaan plant nie…..*sug*..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.