Boomplantweek: Plant ʼn maroelaboom

‘n Maroelaboom. (Foto: Brett Hilton-Batber/Krugerpark)

Talle skole, kerke en organisasies is vandeesweek aan die werskaf om bome te plant as deel van Nasionale Boomplantweek wat van 1 tot 7 September gevier word.

Boomplantweek word gehou om bewusmaking te skep van die belangrikheid van bome en die noodsaaklikheid dat inheemse bome wat bedreig word, bewaar moet word. Die kollig word ook geplaas op geleenthede vir volhoubare ekonomiese ontwikkeling, gemeenskapsbetrokkenheid en werkskepping in die bosboubedryf.

Daar word elke jaar twee bome gekies wat aanbeveel word om tydens Boomplantweek te plant – een algemene boom en een minder algemene spesie. Vanjaar is die maroelaboom en die appelblaar gekies.

Die maroelaboom is ʼn middelslag- tot groot bladwisselende boom wat in antieke tye ʼn belangrike voedselbron vir mense was. Die boom dra vlesige vrugte wat aanvanklik liggroen is en geel word wanneer dit ryp is. Die vrugte word deur beide mens en dier geëet.

Maroelabome is oorspronklik in suidelike Afrika, Madagaskar en Ethiopië aangetref. Die hout van die boom word gebruik vir meubels, vloere en houtwerk, terwyl die binnelaag van die bas gebruik word om sterk tou te maak.

Die appelblaar is ʼn boom wat minder algemeen voorkom en gewoonlik in die bosveld, op oop, beboste grasveld, op die oewer van seisoenale strome en naby vloedvlaktes aangetref word. Die hout word gebruik om huishoudelike items te vervaardig, soos handvatsels vir gereedskap en maalblokke. Die blare van die appelblaar is ʼn gunsteling onder kameelperde en die peule word ook deur diere geëet.

Het jy geweet?

  • Die maroelaboom is tweeslagtig, wat beteken hulle is óf manlik óf vroulik.
  • Volgens Venda-tradisie kan aftreksels van ʼn maroelaboom se bas die geslag van ʼn ongebore baba bepaal. Indien ʼn vrou graag ʼn seuntjie wil hê, word die bas van ʼn manlike boom gebruik en omgekeerd vir ʼn dogtertjie.
  • Daar word vertel dat die maroelaboom altyd ʼn gewilde bymekaarkomplek vir stamvergaderings was en dat groot besluite in die skadu van hierdie boom geneem is.
  • Die maroelavrug is die grootte van ʼn klein pruim en is ʼn uitstekende bron van vitamien C.
  • Die maroelavrug kan vars geëet word, of gebruik word om konfyt, sap of alkoholiese drankies te vervaardig.
  • Die vrugte en blare van die boom word ook graag deur kameelperde, olifante, waterbokke, vlakvarke en koedoes geëet.
  • Maroelaboomolie word in velsorgprodukte gebruik.
  • Die bas van die maroelaboom bevat antihistamien en word ook gebruik vir reiniging deur die bas in kookwater te week en die stoom in te asem.
  • Maroelabome het nie baie water nodig nie, maar is sensitief vir ryp en benodig vrugbare grond in vol sonlig.

Vrugte van ‘n maroelaboom. (Foto: https://www.bushwise.co.za)

Hoekom ʼn boom plant?

  • Bome verminder koolstofdioksied en stel suurstof vry.
  • Bome hou grond in plek en voorkom gronderosie.
  • Bome kan help om wind af te weer en skadu te skep.
  • Bome is ʼn uitstekende manier om natuur in digbevolkte en stedelike gebiede in te bring.
  • Bome kan die waarde van jou eiendom verhoog.
  • Navorsing het bewys bome is voordelig vir geestelike gesondheid en kan angstigheid verminder.
  • Sommige bome se vrugte en neute is ʼn bron van voedsel.
  • Bome kan help met geraasbeheer deur harde geluide te absorbeer.

Jy kan ook jou deel doen vir Boomplantweek deur hulp of ondersteuning te bied aan verskeie nie-winsgewende organisasies wat fokus op boomplant en hervestiging van woude.

Luidens ʼn inligtingstuk deur die Wes-Kaapse provinsiale regering bedek Suid-Afrika se woude sowat 31,1% van die land se grondoppervlakte. Die bosboubedryf bied werk vir ongeveer 158 400 werkers, terwyl bosbou-bedrywighede lewensbestaanondersteuning vir 692 000 van die land se landelike bevolking bied.

Die pulp- en papierbedryf verskaf ongeveer 13 200 direkte en 10 800 indirekte werksgeleenthede. Dit word verdeel in onder meer die saagmeulbedryf, die houtwerkbedryf en die mynbedryf. Dit is daarom noodsaaklik dat bome wat afgekap word om hierdie bedrywe aan te dryf weer vervang word deur nuwe bome te plant.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

AndreD ·

Nie een van die twee bome sal ‘n winter oorleef in die Vrystaat nie.

Dorothy ·

Gee vir my eder die Luiperdboom in Gauteng. Veral as hulle so klomp bymekaar staan.

Wasser ·

Waar buite limpopo en mpumalange kan mens die maroeleboom plant?

PJN ·

Maroelabome gooi ‘n digte skaduwee. Baie mooi boom en hier is baie van hulle in die Limpopo Provinsie.

Fielies ·

Daai bome gaan dit nie maak by ons nie, hier plant ons Witstinkhout, Karee, Kombretum, Taaibos, Salie, Olienhout, Soetdoring en Breeblaar Wag-n-Bietjie.

OWO ·

Die laaste item,onder hoekom ‘n boom plant, het geen effek op geraasbeheer nie.As jy die fisika van klank en die akoestiek van klank ontleed, sal gesien word dat bome geen bydrae maak tot geraasbeheer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.