Borg ʼn student en verander ʼn lewe

dawn-1840298_1280Nog ʼn akademiese jaar het begin en vir die bykans 240 studente onder Atterbury se vlerk vanjaar, is die hulp en bystand wat hulle deur middel van die beursprogram kry, die verskil tussen ʼn blink toekoms en voortslepende armoede wat hulle terughou.

Atterbury se beursfonds word in stand gehou deur die vrygewige bydraes van individue en maatskappye. Dit werk op die beginsel van geldelike ondersteuning, voortdurende monitering en verdere bystand deur onder meer Grolife-mentorsessies.

Studente word nie net aan hul eie genade oorgelaat nie en daarom is die slaagsyfer baie hoog. Studente word deel van die Atterbury-familie en smee waardevolle bande wat vir ʼn leeftyd  hou. En as ʼn student afgestudeer het en ‘n eerste werk kry, begin hulle die beurs rentevry terugbetaal en sodoende dra hulle weer ʼn volgende student.

Dit kos vanjaar ongeveer R60 000 om een student vir een jaar op universiteit te hou en ʼn drie-jaar graad kos dus in die omgewing van R180 000, ʼn ontsaglike groot som vir selfs ʼn middelklas gesin en heeltemal onmoontlik vir ʼn arm gesin. Dit is waarom elke weldoener so waardeer word.

Ben Stewart (naam verander) is so iemand. Hierdie Britse sakeman van Londen het vroeër baie sake in Suid-Afrika gedoen en was onder meer betrokke by die opleiding van jong analiste in die finansiële bedryf. Sy ervarings het hom laat besluit om ʼn beursprogram te stig waardeur hy op verantwoordelike wyse ʼn borg kon word vir een jong Suid-Afrikaanse uitblinker wat die hulp nodig het. Danksy een van Atterbury se baie gewaardeerde vennote het Ben by die Atterbury Trust uitgekom. Hy moes ons Afrikaanse webwerf met behulp van Google Translate lees, maar het die spyker op die kop geslaan: “I presume Zahn Hulme, the chief executive trustee of the trust is the ex Deloitte CA who could be expected to have a disciplined and businesslike approach!” Inderdaad so!

Ben se rede waarom hy ʼn student wou borg, is baie persoonlik en geïnspireer deur sy oorlede moeder. “Sy het van ʼn baie arm familie gekom. Haar pa is oorlede toe sy baie jonk was, maar sy het dit reggekry om te kwalifiseer vir een van baie min skoolbeurse wat in daardie tyd beskikbaar was. Sy het dit as ʼn trappie boontoe gebruik en met baie harde werk het sy dit reggekry om die leer te klim en haar lewe ten goede te verander. Ek wil graag iemand in Suid-Afrika help wat in dieselfde omstandighede is as my ma in die dertigerjare om dieselfde resultaat te verkry en dit is hoekom ek ʼn spesifieke individu wil ondersteun.”

Zahn het vir Ben vertel van een van ons nuwe BCom Rek-studente, Layla Mayambala, wat op ʼn jong ouderdom haar ma verloor het en die ooreenkomste met sy eie ma se agtergrond het Ben oortuig om vir Layla “aan te neem” vir minstens ʼn jaar. Hy skenk R50 000 en deel ook sy storie met Layla om haar verder te inspireer.

In ʼn ander geval is ons genader deur drie jongmense in hul middel-twintigerjare, wat onlangs begin werk het en in die bevoorregte posisie is om geen studieskuld te hê nie, aangesien hul ouers wel in staat was om vir hul studies te betaal. Die drie saam het besluit om elke maand ʼn bedrag opsy te sit, wat hulle nou aan die Atterbury Trust geskenk het om ʼn BRek of ingenieurswesestudent vir ʼn jaar te borg. Dan is daar ook een van die argitekte met wie Atterbury soms werk, wat aangebied het om die studies van ʼn argitektuurstudent te borg en verder behulpsaam te wees met raad, fotokopieë en watter ander spesifieke hulp die student dan ook sou nodig hê.

Daar is baie matrikulante wat so graag verder wil studeer om hul lot in die lewe te verbeter, hul gesinne te help en ʼn betekenisvolle bydrae tot die samelewing te maak. So baie van ons is so bevoorreg en of mens ʼn klein bedrag skenk of ʼn student vir ʼn hele kursus borg, ons kan almal ʼn verskil maak aan iemand anders se toekoms. Atterbury nooi alle vriende uit om deel te neem aan hierdie noodsaaklike, uiters bevredigende inisiatief.

Vrae wat dikwels gevra word:

Hoe gereeld evalueer Atterbury die studente se vordering?
Studente word kontraktueel verplig om twee maal per jaar hul uitslae voor te lê. Leonie van Grolife, wat as mentor en lewensafrigter optree, maak ook minstens een keer per jaar met elke student kontak en is beskikbaar as hulle meer sessies nodig het. Die studente word jaarliks in Februarie na Atterbury se kantore genooi.

Wat gebeur as ʼn student nie na verwagting presteer of aanpas nie?
Ons maak ʼn afspraak en evalueer die oorsaak van die probleem, verwys hulle na die bestaande universiteitsdienskanale en sal ook self ander professionele hulp inwin, afhangende van wat ons identifiseer.

Kan ek ʼn student kies en hoe word dit bepaal?
Skenkers kan bepaal watter veld van studie hulle wil ondersteun en ons maak graag voorstelle wat skenkers en individuele studente bymekaar bring.

Sê nou ek kan nie bekostig om ʼn hele graadkursus te borg nie?
ʼn Borgskap kan vir enige periode geld en ons moedig mense aan om soos in Ben se geval die persoonlike element van ondersteuning te deel, sodat die studente en hul gesinne ook weet ʼn weldoener is aan hulle kant!

Hoe kan ek help? Bel gerus vir Zahn by 082 325 9225 of stuur ʼn epos na [email protected]

Artikel verskaf deur Atterbury Trust

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.