Borskankerstryd bring Kaapse skool byeen

Hayley Daniels saam met van haar leerders(Foto: Brandan Magaar/ANA)

ʼn Skool in Kaapstad het onlangs sy ondersteuning gewys vir ʼn personeellid wat uitgevind het dat sy borskanker het.

Hayley Daniels, die sekretaresse by Forest Leadership Academy in Blue Downs in Kaapstad, is in Januarie vanjaar met fase 3-borskanker gediagnoseer.

Daniels het besef iets is fout toe haar agt maande oue baba nie aan haar linkerbors wou drink nie. Sy is kort daarna by die Tygerberg-hospitaal se borskliniek gediagnoseer.

“Die ondervinding sover was nie maklik nie, maar die wete dat ek ʼn klein babadogtertjie en ʼn familie het om voor te veg, maak dit makliker,” het Daniels gesê.

Daniels kan ook op haar skool-familie staatmaak, wat Vrydag hul ondersteuning vir haar gewys het deur ʼn “shavathon” met die naam “Vir Hayley” te hou om geld in te samel vir Daniels se mediese onkoste.

Die studente laat hul hare verkillende kleure spuit (Foto: Brandan Magaar/ANA)

Daniels se kollegas, die leerders, die skool se beheerliggaam, ouers en mense van die wyer omgewing het almal gekom om haar te ondersteun.

Die leerders kon hulle hare ʼn kleur laat spuit deur hul onderwysers, maar dit was toe mense vir Daniels gevra het om hulle hare af te skeer dat die trane begin vloei het.

Twee van die onderwysers, die skool se opsigter en van die ouers het gevra dat Daniels dit self doen, en sy het in trane uitgebars.

“Vandag beteken vir my so baie. Ek is lief vir my kollegas, ek is lief vir hierdie leerders, en die manier waarop hulle my ondersteun beteken vir my alles,” het Daniels gesê. “Daardie vinnige drukkie en die woorde van aanmoediging help my om aan te hou veg, en dit gee my hoop.”

Kaytlyn Minnies, ʼn gr. 2-onderwyser by dié skool, het gesê sy ken Daniels al vir vier jaar, en sy beskryf haar as die lig by die skool wat altyd positief is en almal saamsnoer.

“Ons doen maar net wat sy nog altyd vir ons gedoen het; ons is hier om haar te ondersteun en ons glo sy sal hierdeur kom,” het Minnies gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

IK ·

Ek bid vir jou Haley, ek het hierdie pad met my vrou geloop. Ek kan sien aan die gesiggies dat daar opreg vir jou omgegee word waar ons as grootmense dalk dit nie bedoel uit die diepte van ons menswees. Dis egter ‘n ‘borskankerstryd’ en nie ‘… tyd’.

Nico Strydom ·

Dagsê IK
Baie dankie die berig is reeds gewysig.
Vriendelike groete
Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.