Bou ʼn wêreldrekord-Kersboom, voed minderbevoorregtes

Die 13m-hoë Kersboom van 2015 het ongeveer 20 ton niebederfbare kosse aan behoeftiges voorsien. Foto: Verskaf

Die 13m-hoë Kersboom van 2015 het ongeveer 20 ton niebederfbare kosse aan behoeftiges voorsien. Foto: Verskaf

Verlede jaar se wêreldrekordpoging om die grootste Kersboom met niebederfbare kosprodukte te bou, het meer as 20 ton kos aan minderbevoorregtes voorsien. Vanjaar vat die makrogemeente kerksondermure en verskeie kettingwinkels weer hande in ʼn tweede poging om die grootste Kersboom óóit te bou.

Die inisiatief agter dié projek is om in die gesindheid van Kersfees die goeie nuus van die verlossing te deel en behoeftige gemeenskappe in die omgewing van Centurion te ondersteun.

Die kos word spesifiek vanjaar aan 14 plaaslike skole se kosblikprojekte vir minderbevoorregte leerders, sowel as vele ander gemeenskapsprojekte in en om Centurion, geskenk.

Verlede jaar se Kersboom was 13 meter hoog en 12 meter breed. Minstens 32 bakkies van een ton elk het die niebederfbare kosprodukte weggery.

Skenkings vir vanjaar se Kersboom kan tussen 23 November en 25 November by enige van die deelnemende kerkkantore afgegee word. Vanjaar se projek word ondersteun deur die makrogemeente self, Lewende Woord Centurion, Kerk in Suid, die Centurion-winkelsentrum, Makro Centurion, Midstream Superspar, Lyttleton Superspar en Valhalla Spar.

Ander pakkies, bokse, kratte, palette en bakkievragte kruideniersware kan op 27 November tussen 09:00 en 14:30 direk na die amfiteater in Centurion-winkelsentrum gebring word waar dit in die boom ingebou sal word.

Die skenkings word om 15:00 aan die projekte toegeken en weggery.

Vir meer inligting oor hoe om bydraes te maak skakel 012 663 2003. Besoek ook kerksondermure se Facebook-blad of webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.