Brandweermanne sal marathon draf met al hul toerusting

Jermaine Carelse en Renaldo Duncan in die toerusting waarin hulle die Twee Oseane-halfmarathon gaan hardloop. (Foto: Verskaf)

Twee ervare brandweermanne sal Sondag, geklee in hulle volle toerusting, die Twee Oseane-halfmarathon in Kaapstad aandurf.

Dit sal die tweede keer wees wat Jermaine Carelse en Renaldo Duncan die langpad van 21,1 km aandurf om geld vir die Volunteer Wildfire Service in te samel.

Carelse is reeds die afgelope 22 jaar ʼn brandweerman en is tans die afdelingsbevelvoerder van die Goodwood-brandweerstasie. Duncan is die afgelope 13 jaar ʼn brandweerman en werk by die Sir Lowry’s Pass-brandweerstasie.

Die manne se doel is om die 21,1 km onder twee en ʼn half ure kaf te draf, al moet hulle dit doen met die swaar toerusting wat hulle daagliks dra om brande te bestry.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid in die Kaapse metroraad, sê hy en sy span is uiters trots op Carelse en Duncan.

“Ons personeellede maak ons so trots. Hierdie is net ʼn voorbeeld van individue wat uit hulle pad uit gaan vir ʼn goeie doel,” sê Smith.

“Ek wil vir Jermaine en Renaldo sterkte toewens vir die avontuur wat voorlê. Dit is nie ʼn maklike taak wat voor hulle lê nie, maar ek het volle vertroue in hulle vermoë.”

Smith moedig ook lede van die publiek aan om ʼn skenking aan die Volunteer Wildfire Service te maak.

“Die organisasie is sonder winsbejag en is ʼn ongelooflike vennoot vir verskeie brandweeragentskappe. Elke bietjie help om hulle te ondersteun.”

Skenkings kan hier gemaak word. Volg ook die organisasie op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

sarieniemand ·

sjoe julle sien kans vir baie, dink nie dit gaan maklik wees nie daai goed is mos swaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.