Brawe vroue durf langpad Kaap toe te voet aan

Die sewe dinamiese vrouens wat Maandag te voet Kaapstad toe vertrek. (Foto: verskaf).

ʼn Groep van sewe dinamiese vroue pak in die oggendure van Maandag, 31 Januarie, ʼn reusestaptog van Pretoria tot Kaapstad ten bate van minderbevoorregte kinders aan.

Die niewinsgewende organisasie Dynamic Women for Children (DWFC) het besluit om vanjaar sy Cape2Care-geldinsamelingsprojek van stapel te stuur.

Michelle van Biljon, maatskaplike werker en een van die dinamiese vroue wat aan die stuur van die projek sit, het met Maroela Media gesels. Sy het die verreikende en onontbeerlike uitwerking van dié projek op die kinders in DWFC se sorg verduidelik.

“Ons versorg daagliks 50 kinders in die Kameelfontein- en Kameeldrift-omgewing net hier noordoos van Pretoria. Ons organisasie het die rol van ouer in die meeste van die kinders se lewe oorgeneem.”

“Alles wat ʼn gewone ouer vir haar of sy kinders sou doen, doen ons vir die kinders wat ons versorg. Ons gee hulle pap in die oggende, ons pak kosblikke vir skool, versorg hulle smiddae ná skool, koop skryfbehoeftes en skoolklere aan – ons hou tot vir hulle verjaardagpartytjies. Hulle slaap net nog nie by ons nie.”

Geldbronne is egter ʼn uitdaging vir die organisasie.

“Ons het tydens die grendeltydperk twee koshuisgeriewe op ons perseel gekry, maar weens finansiële redes kan ons dit nog nie open nie.”

Die vrouens loop met die vers Markus 11: 24 in hul harte: Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou. (Foto: verskaf)

Daar is ook net R15 000 per maand tot die organisasie se beskikking om na die kinders om te sien.

“Ons beoog om R5 miljoen in te samel. Dit klink soos ʼn reusebedrag, maar dit is 1 470 km – so as ons 1 470 mense kry wat elk vir ons R3 500 gee, is ons daar.”

Sy het egter bygevoeg dat geen gegewe perd in die bek gekyk sal word nie. “Elke R100 maak ook die emmer vol – elke bydrae tel.”

Van Biljon hoop om Suid-Afrikaners te inspireer om hande te vat tydens hul staptog. “Ons wil graag die mense van elke dorp ontmoet. Ons wil ook graag hê dat mense en sakeondernemings mekaar moet uitdaag om geldskenkings te gee of selfs ʼn kilometer te borg.”

Die sewe vroue het die afgelope ruk baie tyd in die gimnasium deurgebring ter voorbereiding van die staptog. “Ons het bulte uitgeloop en geoefen. Ek dink nie een van ons besef werklik wat dit is wat ons aanpak nie, maar ons doen dit met ons harte en glo dat dit die moeite werd gaan wees.”

Sy het vertel dat dit nie net ʼn fisieke nie maar ook ʼn emosionele uitdaging vir die vroue gaan wees. Hulle gaan die langpad in skofte aanpak. “Ons stap twee op ʼn slag. Ons stap tans vier kilometer in ʼn halfuur.”

Die toekoms van die kinders is vir Van Biljon ʼn veel belangriker verantwoordelikheid waarna omgesien moet word.

“Kinders is die toekoms van ons land.” Sy het ook benadruk dat dit makliker is om sterk kinders groot te maak as om gebroke volwassenes heel te maak.

“Die kinders is deur hul omstandighede en die stelsel gefaal.”

Die groep beoog om dit ʼn langtermynprojek te maak. “Ons sal in die toekoms weer so iets wil aanpak, dalk ʼn ander roete of met ander mense.”

Daar is reeds mense wat daarin belangstel om saam met die dinamiese vroue te stap. “Ons het reeds ons roete verander sodat daar ʼn paar vroue van Victoria-Wes tot Loxton kan saamstap.”

Indien enige leser meer wil weet of ʼn bydrae wil maak, kan hulle gerus die projek se Facebook– of Instagram-blad besoek. Hulle kan ook ʼn ogie op die amptelike webwerf hou.

Dié sosialemediaplatforms gaan deurlopend gebruik word om ondersteuners op die hoogte van die groep se vordering te hou.

Lesers kan ook soggens na die TV-program Groot Ontbyt kyk om te sien waar dié groep dinamiese vroue in daardie stadium in die land is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

piet ·

4km per halfuur is ‘n redelike vinnige pas. Ver ent om daai pas vol te hou. Die dames moet redelik fiks wees.

quartus ·

Forrest Gump in gedagte gehad ? 4 Kilometer in n halfuur. Dit wil gedoen wees. Ek hoop daar sal mense wees wat julle gaan beskerm teen al die gevare waaraan ons daagliks in SA blootgestel word, en die weer speel ook nie juis saam nie. Maar sterkte vir julle en hoop julle haal die teiken.

Tanya ·

Ons Vader in die hemel gaan Sy Engele Stuur om julle te beskerm. Ps. 91:11-12
Waar daar ń wil is, is daar ń weg, maar waar Ons Vader is, is daar wonderwerke en ń wenner by die eindstryd. Mag julle ń lieflike stap tog beleef en baie sterkte.

SlinkseKoljander ·

Ek hoop nie julle word aan geval op die roete nie, ons mense is orals op kyk na nuwe slagoffers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.