Bredasdorp se mense neem ‘brugkinders’ onder vlerk

 PROJEK-OMGEE-002.jpgSuid-Afrika is geseën met soveel mooi plekke. Een daarvan is Bredasdorp, geleë in die prentjiemooie Overberg. Maar ook dié pragdorp het sy uitdagings.

So was daar vele gesprekke waarby die plaaslike radiostasie, Radio Overberg 101.8 FM, betrokke was. In omtrent al die gevalle het die gesprekke soos volg verloop:

“Het jy gehoor wat het die ‘brugkinders’ al weer aangevang?”

“‘Brugkinders’?”

“Ja. Hulle snuif petrol daar onder daai brug en jaag aan in die dorp. Ons raak nou die joos in vir hulle! Hulle het helder oordag by die groentewinkel ingestap en links en regs goed van die rakke af geëet. Die arme vrou in die winkel kon net daar staan en kyk.”

Vir Radio Overberg was dit duidelik dat iets gedoen moet word. Hulle het hul luisteraars getoets oor hoe om betrokke te raak. Van die terugvoer was dat daar maar net ontslae geraak moet word van hulle, maar nog meer het laat weet dat dit maar net kinders is – kinders wat hulp nodig het. Baie het gevra: “Wie help hulle?”

 Overberg_1STE-BYEENKOMS-FEB-2017-SKEP-RADIODRAMA-002_edit2.jpg

Die groep kinders wat hulle eie radiodrama geskryf en opgeneem het. (foto verskaf)

So het Projek Omgee, ʼn gemeenskapsprojek, ontstaan wat hierdie “brugkinders” onder die brug uithaal en onder die vlerk neem.

Volgens Letty-Ann Möller, die projekleier asook ʼn omroeper by Radio Overberg, wil hulle ʼn verskil maak in die kinders se lewe.

“Ons wil die kinders uit die middelafhanklikheidspatroon verlos. Selfrespek en -dissipline moet aangeleer word. Ons wil hulle vaardighede aanleer om selfstandig hul eie potjie te krap.”

Sy voeg by: “Die hoofdoel van die projek is om in die oplossing van die probleem die daklose kinders en ‘brugkinders’ weer in hul plaaslike gemeenskap aanvaar en opgeneem te kry.”

Aanvanklik het die Möller-egpaar die kinders in die Kindersorg-lokaal gevoed en hulle laat deelneem aan verskeie aktiwiteite.

Verskeie projekte is reeds van stapel gestuur. Daar is ʼn sterk fokus op mentors. ʼn Mentorsgroep is op die been gebring en brei stelselmatig uit. Tans is daar beraders, musikante en jeugwerkers betrokke. Hulle faseer egter ʼn formele “Youth Hub” in waar baie van die mentors die brugkinders se ouderdom is en hulle help om sekere lewensvaardighede aan te leer waaroor hulle nog nie beskik nie.

 Overberg_GOSPELKONSERT-AUG-2017_edit-1.jpg

‘n Groep van die kinders saam met een van hulle mentors tydens ‘n konsert. (foto verskaf)

Die kinders het hope talent en het al hul eie radiodrama opgeneem en uitgesaai oor Radio Overberg. Hulle leer vaardighede aan soos pannekoek bak, die maak van “padpizza’s” en daar word gereeld lekker wors gebraai. Hulle leer ook om weer kinders te wees deur uitstappies mee te maak, deel te neem aan kaskarresies en konsert te hou.

Hulle is ook ingespan om die brandweerstasie se tuin mooi te maak. Projekte soos dié leer hulle weer om terug te gee.

after-foto-brandweertuin-16-mei-2018-3.jpg

Projek Omgee help by brandweerstasie met die mooi maak van die tuin. (foto verskaf)

Vir Möller, haar kollegas en medewerkers is die gesegde “It takes a whole village to raise a child” ʼn werklikheid. “Vandat die projek in Februarie 2017 afgeskop het, slaap die kinders nie meer onder die brug nie, snuif nie meer petrol nie en is ook nie meer besig met skelmstreke in die dorp se strate nie.”

Dit is ʼn projek waar die hele gemeenskap saamstaan om kinders van die straat af te kry, en positiewe saadjies in hul lewe te saai.

Wil jy betrokke raak by Projek Omgee? Maak gerus kontak met Letty-Ann Möller, e-posadres [email protected], of besoek Radio Overberg by www.radiooverberg.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.