Brei vroetelmoue vir demensie- en alzheimer-pasiënte

Verskeie vroetelmoue. (Foto: Helpende Hand)

Net soos ʼn kind wat deur ʼn kombers of speelding gesus word, só word ʼn persoon wat met demensie of alzheimersiekte leef deur ʼn vroetelmou gesus.

Helpende Hand het in April vanjaar ʼn Breinaald-projek van stapel gestuur waar die gemeenskap vroetelmoue brei om pasiënte soos dié se gemoedere te verbeter.

“Die hele land se mense was gaande oor die projek en mense in werkskomplekse, skole en tehuise het saam gebrei,” sê Benette Welman, projekorganiseerder.

“Ons wil eintlik net alzheimer- en demensie-pasiënte se hande en verstand besig hou gedurende hierdie tyd.”

Mense wat met demensie of alzheimersiekte leef, soek dikwels na iets om aan te peuter. Hulle trek of byt aan hul klere, bal hul vuiste saam, vryf hul vingers teen mekaar, of krap selfs hul arms stukkend. Hulle voel telkemale geïrriteerd of angstig as hul nie uiting aan hul emosies kan gee nie. Dit is ook waarom dié persone soms gewelddadig raak.

Vroetelmoue help om hierdie pasiënte se rusteloosheid te verminder en voorsien ook ure se stimulasie en pret.

Vroetelmoue kan gebrei of gehekel word en op die mou word allerhande items vasgewerk waarmee die pasiënte kan peuter, soos gebreide wurms, krale, knopies, klokkies, lint, spons of selfs net stukkies wol. Studies vanuit versorgingseenhede wys dat hierdie soort moue baie voordelig is vir die gemoedstoestand van demensie- en alzheimer-pasiënte.

Die idee het aanvanklik by Helpende Hand se tak in Randburg ontstaan, maar sedert die projek van stapel gestuur is, het die Wes-Kaap die meeste vroetelmoue ontvang en aan pasiënte versprei.

“Baie van die vrywilligers het familie of vriende wat demensie of alzheimersiekte het en hulle verstaan die frustrasie wat sulke persone beleef en wou graag verligting bring deur middel van ʼn vroetelmou,” sê Alisha de Lange, Wes-Kaap se streekorganiseerder.

“Ons het ʼn geskatte waarde van byna R20 000 se vroetelmoue ontvang wat meer as 446 moue is. Hierdie moue is by 15 tehuise in die streek afgelewer.”

Vroetelmoue is egter nie die enigste manier om hierdie pasiënte te sus nie.

“Saam met die vroetelmoue het ons ook heelwat vroetelkomberse ontvang wat baie populêr is onder die vrywilligers wat nie kan brei nie, maar steeds kreatief wil wees.

“Te danke aan die publiek se donasies en die vrywilligers wat die nood raakgesien het, was en is hierdie projek steeds ʼn reusesukses,” sê De Lange.

Hoe kan ek betrokke raak?

Kan jy brei? Hou jy van hekel? Het jy ʼn klomp bolle wol by die huis wat rondlê?

Brei dan ʼn vroetelmou vir ʼn demensie- of alzheimer-pasiënt met hierdie maklike, stap-vir-stap-instruksies:

Stap-vir-stap-instruksies. (Foto: Helpende Hand/Facebook)

As jy nie ʼn brei-foendi is nie, maar steeds ʼn bydrae wil maak, kan jy gerus wol by jou naaste Helpende Hand-tak aflaai, ʼn vroetelkombers maak of ʼn finansiële bydrae aan die projek maak.

Besoek gerus Solidariteit Helpende Hand se webwerf by https://helpendehand.co.za/donasie/ vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.