Brent Lindeque: ‘Een klein welsynsdaad verander wel die wêreld’

Brent Lindeque het tyd by die Othandweni-kinderhuis spandeer as deel van RAK-veldtog. (Foto: Verskaf)

Deur Sarie Marais-Nell

Kan mens werklik self jou gemoed opbou sodat jy nie knak nie, te midde van al die hartseer verhale wat ons daagliks hoor? Brent Lindeque van Good Things Guy glo beslis so.

“Ons het die mag in ons hande – dis ons eie besluit of ons wil fokus op die negatiewe of die positiewe dinge rondom ons,” glo Brent Lindeque (35) van Johannesburg.

Brent was 28 toe hy die drank-georiënteerde aanlyn speletjie NekNominations leer ken het. “Deelnemers neem ’n video waar hulle drank met een teug vinnig afsluk terwyl hulle diepseeduik of ’n voertuig ry en daag daarna vriende uit om iets meer roekeloos te doen terwyl hulle drink.

“Ek het die speletjie só bekyk en gedink aan al die armoede hier in Suid-Afrika; gewonder of ek nie hierdie sosiale medium kan gebruik om een honger persoon se dag te verander nie.”

Hy het ’n R20-wegneemete gaan koop, ’n kort video daarvan gemaak terwyl hy die kos vir ’n hongerige persoon oorhandig en die video op NekNominations geplaas.

“Ek het twee van my vriende getaak met die uitdaging om dieselfde te doen; gehoop twee ander werklose persone se dag sal opgehelder word.”

Enkele ure later het Brent se oë gerek: Sy video is duisende kere gedeel en oor die ganse aardbol het jongmense begin met dade van omgee. Random Acts of Kindness (RAK), noem Brent dit.

“Dit was 2014. Nooit in my wildste drome kon ek voorspel watter gevolge daardie kort video sou hê nie,” sê Brent laggend.

Bygesê, Brent lag gereeld. Uit sy maag en opreg. Want sedert daardie eerste RAK in 2014, fokus hy op die skryf van goeie nuusartikels en versprei dit as Facebook-inskrywings en blogs.

Brent het voorheen in die advertensie- en bemarkingswêreld gewerk, maar spits my die laaste ses jaar toe op goeienuusjoernalistiek. (Foto: Verskaf)

“Ek het voorheen in die advertensie- en bemarkingswêreld gewerk, maar spits my die laaste ses jaar toe op goeienuusjoernalistiek.

“Daardie eerste maande was moeilik; ek moes hard soek na goeie nuusstories. Vandat die Good Things Guy (TGTG) op 1 Augustus 2015 gestig is, het ons vinnig gegroei – dit het pas amptelike erkenning gekry as ’n aanlynkoerant.”

Met een miljoen gereelde lesers en meer as 2,5 miljoen kyke elke maand op een van die die Good Things Guy-platforms (Facebook, Twitter, Instagram, LinkedIn, podsendings  en radio-onderhoude op Jakaranda FM), stuur lesers en ondersteuners deesdae gereeld goeienuusstories aan. Sedert inperking gesels Brent ook aanlyn op Skyroom met bekendes soos The Kiffness en Riaan Manser.

“Ek het soveel geleer die afgelope jare; dis ’n fantastiese reis. Nou wéét ek die mens is inherent goed. Ek sien op ons sosialemediaplatforms hoe mense op nuus reageer – soos die getye se oppe en affe, plaas lesers soms baie negatiewe reaksies op ’n storie, veral as ons land met nóg hartseer nuus geslaan word. Suid-Afrika is in ’n moeilike fase, maar dit maak nie saak hoe tragies ’n situasie is nie, daar is altyd een persoon of geleentheid om mense vorentoe te help – ek belówe dis die waarheid.”

Brent Lindeque glo sy lewensroeping is om alle Suid-Afrikaners toegang te gee tot goeienuusstories. (Foto: Verskaf)

Bowenal het Brent sy lewensroeping gevind: “Ek wil graag sien dat alle Suid-Afrikaners toegang tot hierdie goeienuusstories sal kry. Hier is soveel goeie mense en goeie stories; dit kan die gees van weerlose en moedelose mense ophef wanneer hulle dit besef en positiewe verhale lees. Daar is wel ’n Android Moya-app wat datavry is – ons ondersoek nou daardie roete.

“Kan jy dink, as alle Suid-Afrikaners weer hoop kry, weer trots voel oor dinge in hul land … Dalk is dit een van die redes waarom die Good Things Guy so gegroei het tydens inperkings – almal soek hoop.”

Die Good Things Guy se groei sedert 2015 is fenomenaal. In Suid-Afrika het feitlik elke TV- en nuusstasie reeds oor hom berig.

“Maar die mees oorweldigende oomblikke was toe Die Good Things Guy op internasionale TV-programme bespreek word, onder meer die Huffington Post, CNN, BBC, Sky News, Oprah en Ellen DeGeneres. Hierdie blootstelling was die katalisator vir groot nuwe dinge, soos drie volhoubare voedingskemas wat in Kanada, Amerika en Ierland ontwikkel het.

“En alles het met een goeie daad begin.”

Is sy familie trots op hom? Weer sy laggie: “Hierdie eienskappe kom van my ouers af. Ons is vier kinders en het goedgeaardheid en welwillendheid saam met moedersmelk ingekry. Hulle is altyd trots op ons.”

Het Brent advies vir sy landgenote in troebel tye?

“Lees elke dag bietjie minder nuus. Die daaglikse herhaling van slegte dinge wat jy glad nie kan beheer nie, maak mens pessimisties, depressief, angstig en soms ook aggressief. Herhaalde slegte nuus beperk jou kreatiwiteit en gesonde denke. Beperk jou tyd op sosiale platforms – kom bietjie in die son, doen iets goeds vir iemand anders, raak betrokke by ’n organisasie in jou streek, raak skeppend. Dit werk elke keer!”

Sedert 2014 het die Good Things Guy herhaaldelik die volgende eerbewyse ontvang: Lead SA Hero, Talented Young South African Entrepreneur, South Africans you need to follow on Social Media, South African Blog Awards – Top Blog of the Year, 100 Best Global Websites, Mail & Guardian se gesogte Top 200 Young South Africans en One of the “Most Influential Young South Africans”, 100 Young Mandelas of the Future, Top 25 African Blogs to Follow, asook die Top SA Blog to Follow. Die Good Things Guy is ook pas aangewys as The Good Estate Global se Top Blog 2020.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sênet ·

Ons het meer mense soos Brent nodig, om weer in ons self te glo

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.