Briel-familie beskerm Burgeroorlog-monument reeds 60 jaar

Adrien en Hennie Briel. (Foto: Verskaf)

Die beskermhere van die 60 jaar oue Transvaalse Burgeroorlog-monument is vereer vir hul bydrae tot Afrikanererfenisbewaring.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het erkenning gegee aan die Briel-familie nadat die Lenteskool van Brits op 5 Julie 1961 die monument op hulle plaas, buite Brits in Noordwes, opgerig het.

Hennie en Adrien Briel, wat steeds op hierdie familieplaas woon, sê dit is ’n voorreg en plesier om na die gedenkwaardigheid om te sien nes hulle voorouers het.

Volgens Briel was sy voorouer, Chrisjan Gehardus Johannes Briel, teenwoordig by die ondertekening van die 1864-vredesverdrag.

Op 15 Januarie 1864 het die Transvaalse Burgeroorlog geëindig in die skaduwee van ’n enorme ou kareeboom by Silkaatsnek naby die huidige dorp Brits. Hierdie ou boom waaronder die strydende leiers byna ’n week lank beraadslaag het om vrede te maak, is in 1961 tot ’n historiese gedenkwaardigheid verklaar.

Barry Müller, projekorganiseerder van die FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng en Noordwes, sê erfenisbewaring is van kardinale belang.

“Dit is regtig inspirerend om te sien hoe Afrikanergesinne die leisels oorneem by hul voorgeslagte, om só die behoud en toekoms van ons gedenkwaardighede te verseker. Mag die Briel-gesin meer Afrikaners inspireer om dieselfde te wil doen,” sê Müller.

Die karee-vredesboom waar die Transvaalse Burgeroorlog op 15 Januarie beëindig is, het doodgegaan nadat hy aan hoëspanningsdrade geraak het en nuwe lote het die huidige boom gevorm.

Min Suid-Afrikaners weet waarskynlik dat die Transvaalse Republiek sy eie Burgeroorlog gehad het.

In 1860 was die Transvaalse Republiek in vier verskillende gebiede, naamlik Potchefstroom, Rustenburg, Lydenburg en Soutpansberg, verdeel.

’n Rusie het ontstaan tussen die Volksleër en die Staatsleër vir die posisie van presidentskap; die groepe is destyds aangevoer deur WC Janse van Rensburg en Stefanus Schoeman.

Die Staatsleër onder leiding van Paul Kruger en pres. Van Rensburg het by Rustenburg byeengekom sodat hulle teen die rebelle in Pretoria kon optrek en tot oorgawe dwing.

Schoeman en Jan Viljoen, kommandoleier, het hiervan te hore gekom en hulle vanuit Pretoria tegemoetgegaan. Van Rensburg en Paul Kruger het hulle laer tussen die Krokodilrivier en Swartkoppies getrek, terwyl die rebelle hul laer by Silkaatsnek getrek het.

Op 5 Januarie 1864 het die groot geveg begin. Terwyl die geveg nog aan die gang was, het pres. MW Pretorius (president van die Vrystaat) na die gevegsterrein aangejaag gekom en as vredemaker opgetree. ’n Wapenstilstand, wat grotendeels deur Paul Kruger bewerkstellig is, is dadelik tussen die twee groepe gesluit.

Dae lank het die twee partye in die skaduwee van die kareeboom onderhandel totdat die formele vredesverdrag op Woensdag 15 Januarie 1864 onderteken is.

Dit alles het plaasgevind op die geskiedkundige ou familieplaas Hartbeesfontein, wat nog steeds in besit van die Briel-familie is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Dui die ligging asb mooi aan dat boosdoeners dit kan gaan beskadig…

Andre ·

Die burgeroorlog het ontstaan a.g.v. die feit dat Stefanus Schoeman beswaar gemaak het omdat M.W. Pretorius op daardie stadium terselfdertyd president van die Vrystaat én die Transvaal was. Dit was teenstrydig met die grondwet.

Driekus ·

Dankie tog. Iets interesants om te lees. Al so moeg vir die Zuma debakel en die feit dat die Britse Leeus ons aangepaste Currie Beker spanne stukkend speel. Dit self het gisteraand soos ‘n Burger oorlog gelyk toe een SAner ons 15 ander SAners stukkend gespeel het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.