Bring hierdie Kersfees hoop vir vervolgde Christen-kinders

Sele het ʼn spesiale Kerskaartjie gemaak om Geopende Deure vir hul hulp te bedank.

Vir Christene is Kersfees tradisioneel ʼn tyd van vreugde waartydens Jesus se geboortedag gevier word. In Suid-Afrika is dit ʼn tyd waartydens talle mense ʼn welverdiende somervakansie neem en tyd saam met hul geliefdes deurbring. Vrolike Kersversierings is oral te sien en Kersfeesmusiek kan in die winkels gehoor word.

Die Kersseisoen lyk egter dikwels heeltemal anders vir gelowiges in die vervolgde Kerk, wat Kersfees in die geheim moet vier uit vrees vir vervolging. Hulle het nie die voorreg om ʼn sorgvrye Kersfees saam met hul geliefdes te vier nie en ervaar die feesseisoen as ʼn uitdagende tyd waartydens hulle verskerpte vervolging, alleenheid en verwerping in hul gemeenskappe ervaar.

Kinders in die vervolgde Kerk kry dikwels die swaarste en betaal nes hul ouers ʼn duur prys vir hul geloof. Baie van hulle ken nie die vreugde van ʼn Kersboom en geskenke op Kersdag nie, en kan nie op dié dag sorgeloos speel en lag nie. Dikwels moet hulle ook met ʼn pynlike gemis en ʼn leë sitplek aan hul Kerstafel saamleef omdat hulle geliefdes weens vervolging verloor het.

Sele, ʼn 13-jarige seun van Nigerië, is een van talle Christen-kinders wat geliefdes weens vervolging verloor het. Die Kerstyd is vir hom en sy gesin bittersoet, want die verlange na sy oorlede pa is dan ekstra erg. Kersfees is egter steeds ʼn betekenisvolle tyd van die jaar vir die gesin waartydens hulle graag Jesus se geboorte vier.

Sele se pa was ʼn boer wat in 2011 tydens ʼn aanval op Christene in hulle dorp met sy lewe moes boet vir sy geloof. Aangesien hy die gesin se broodwinner was, sukkel hulle sedertdien om kop bo water te hou. Sele moet elke dag ná skool hard op die plaas werk om sy ma te help om kos op die tafel te sit.

Sele en sy ma, Cecelia, met ʼn foto van sy oorlede pa.

Sy ma, Cecelia, vertel: “My man se dood het ons gesin baie swaar getref. My grootste bekommernis is om te verseker dat my kinders genoeg kos het om te eet en kan skoolgaan. Ek het egter besluit om op die Here te vertrou en glo dat Hy in ons daaglikse behoeftes sal voorsien.

“Ek is baie trots op Sele, wat ondanks al die swaarkry steeds ʼn positiewe gesindheid het en presteer. Hy is ʼn flukse student wat daarvan hou om skool toe te gaan en sy huiswerk elke dag getrou voltooi. Hy is ook my regterhand op die plaas.”

Sele droom daarvan om eendag ʼn dokter te word, sodat hy mense kan help en lewens kan red. “Ek is dankbaar vir die geleentheid om skool toe te kan gaan. Geopende Deure help om vir my onderrig te betaal. Die onderwysers by my Christen-skool help my om my pa se geloof, wat sy lewe gekos het, te verstaan. Hulle help my ook om as Christen te groei en my verhouding met Jesus sterker te maak. Dit is veilig om by my skool openlik te bid en my geloof met ander te deel.

“Dankie aan Geopende Deure en julle vennote dat julle my skoolfonds betaal, en aan my die geleentheid bied om skool toe te gaan. Mag die Here julle ryklik seën omdat julle help om vir my ʼn blink toekoms te verseker,” sê hy.

Cecelia beaam: “Ek waardeer dit ontsettend baie dat Geopende Deure my gereeld help, besoek en met Sele se skoolgeld ondersteun. Die geleentheid om skool toe te gaan, het sy hele lewe verander. Hy ervaar vreugde en hoop vir die toekoms, wat ʼn inspirasie vir ander mense is.”

Danksy die ondersteuning van gelowiges regoor die wêreld, is Sele vanjaar geseën met ʼn spesiale Kersgeskenk wat vir die res van die jaar vir hom hoop en vreugde kan bring. Die nuwe hemp, broek en ’n geïllustreerde Bybel wat hy ontvang het, was presies wat hy wou hê.

Met die ondersteuning van Geopende Deure se vennote, kan ons die hoop laat opvlam in die lewens van vervolgde Christen-kinders soos Sele en vir hulle ʼn beter toekoms verseker.

Klik hier om vervolgde Christen-kinders met ʼn finansiële Kersgeskenk te seën. Dit sal aangewend word vir hulpmiddels soos Bybelse onderrig, Christelike materiaal, basiese skoolonderrig en noodleniging.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.