Gemeenskap knap voortrekkerbegraafplaas op

Die span werkskaf in die voortrekkerbegraafplaas. (Foto verskaf)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Brits en Hartbeespoortdam-kultuurnetwerk het in samewerking met die Koersvas Voortrekkerkommando, dit onlangs op hulle skouers geneem om die Bart Pretorius-voortrekkerbegraafplaas naby Broederstroom skoon te maak en op te knap.

Dit is vanjaar die 185ste gedenkjaar van die Groot Trek en alhoewel die FAK se kultuurnetwerke elke naweek projekte soos dié aanpak, is die vergrootglas vanjaar op ons Groot Trek-tydperk en die impak wat die Voortrekkers gemaak het, en vandag steeds het.

“Dit was ’n absolute voorreg en fees om te sien hoe die kinders van vandag bereid is om hulle hande diensbaar te stel om ons erfenis te bewaar deur dit te onderhou,” het Barry Müller, die FAK se kultuurkoördineerder van die noordelike provinsies, gesê.

“Die kinders het met soveel vreugde hulle hande vuilgemaak en gewerk om skoon te maak. Dit gee ʼn mens waarlik hoop vir die toekoms dat die volgende generasie bereid is om die vaandel op te neem en die stryd teen die aftakeling van ons erfenis teen te staan.”

Hierdie voortrekkerbegraafplaas is vernoem na die broer van Andries Pretorius, Hercules Albertus (Bart) Pretorius. Hy was Andries Pretorius se adjudant toe Pretorius kommandant-generaal was met die Slag van Bloedrivier.

Broederstroom is gestig toe die Pretorius-broers, Piet (Henning Petrus Nicolas), Wynand (Johannes Lodewyk Wynand) en Bart (Hercules Albertus) hulle op die oewer van die Krokodilrivier gevestig het – vandaar die naam Broederstroom. Die erf waarop hierdie voortrekkerbegraafplaas staan, is al in 1845, volgens die erfregister van Potchefstroom, aan Bart toegeken.

In hierdie Voortrekkerbegraafplaas is daar ongemerkte grafte. Pastoor Tony Louch wat in hierdie omgewing woon, vertel dat dit waarskynlik die nageslag van hierdie Pretoriusse is wat volgens oorlewering tydens die Spaanse Griep in groot getalle oorlede is en haastig begrawe moes word.

Die kleindogter van Piet Retief is ook in hierdie begraafplaas ter ruste gelê.

Lede van die Brits en Hartbeespoortdam se kultuurnetwerk en Koersvas Voortrekkerkommando het die begraafplaas opgeknap. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hennie ·

Baie dankie aan elkeen wat dit moontlik gemaak het. Julle is sterre!!!!!!

trotsNAMSA ·

Maak my hart so bly dat Afrikaner kinders die graaf en hark opgeneem het om ons voorsate se begraafplaas skoon te hou. Ek het nou weer hoop vir die Afrikaner. Al my liefde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.