Broers se gewigsverliesreis: ‘Ons is letterlik deur dik en dun’

Barend (links) en Mark (regs) Brand op die Otter-roete in die Oos-Kaap. (Foto: Verskaf)

Barend (links) en Mark (regs) Brand op die Otter-roete in die Oos-Kaap. (Foto: Verskaf)

Toe twee oorgewig broers van Kempton Park in September 2016 op die ingewing van die oomblik saam die Otter-staproete aanpak en een van hulle weens onfiksheid moes omdraai en huis toe gaan, het hulle besluit dit is tyd vir ʼn drastiese verandering in hul gesondheid.

Barend Brand (43) en sy jonger broer, Mark (40), was vasbeslote om ʼn verskil in hul lewens te bewerkstelling en het besluit om vir die kykNET-program Slank in te skryf. In Februarie 2017 het hul lewens drasties verander toe hulle in 12 weke onderskeidelik 28 kg en 30 kg verloor het met behulp van Slank en die Slender Wonder-gewigsverliesprogram.

“Ons het nog altyd probeer om gewig te verloor en dan weer tou opgegooi en nooit deurgedruk nie. Ons selfbeeld was baie laag. Ek was altyd die ou wat myself afgekraak het en grappe oor my gewig gemaak het sodat ander mense nie hoef nie,” vertel Barend, ʼn risikobestuurder van beroep, in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Die Otter-roete was nog altyd op my emmerskoplysie en in 2016 het een van my broer se vriende 30 geword. Hy het toe ʼn groepsbespreking gemaak vir hom en ʼn paar vriende, maar ʼn maand voor hulle sou gaan stap het twee ouens onttrek en dis toe dat ek en Mark besluit het om die Otter-roete aan te durf.”

Hy vertel hy het op die tweede dag besluit hy moet omdraai. “Ek kon nie meer nie, my lyf was vodde. Ek was heeltemal te onfiks vir die staproete van 45 km en dit boonop met ʼn rugsak van byna 20 kg op my rug.”

Daar het sy oë oor sy gesondheid finaal oopgegaan, sê hy. “Ek het besef ek is op ʼn baie slegte plek en dat my liggaam in ʼn baie slegte toestand was. Dis tóé dat ons besluit het om vir Slank in te skryf en weer die Otter-roete aan te pak.”

Barend en sy dogter, Chanté, op die Otter-roete. (Foto: Verskaf)

Barend en sy dogter, Chanté, op die Otter-roete. (Foto: Verskaf)

Nie net kon Barend in September verlede jaar die Otter-roete saam met sy broer voltooi nie, maar sy oudste dogter, Chanté (20), het ook saamgestap. “Dit was vir my ongelooflik. Sy en my ander dogter, Suné (18), is mal daaroor dat ek nou fikser is. Hulle geniet dit dat ek saam met hulle aktief kan wees en meer betrokke is by hulle. Ons pak nou gereeld oor naweke saam staproetes aan.”

Hy sê hy en Suné gaan ook in April vanjaar saam ʼn staproete in die Drakensberge aandurf. “Ek draf nou ongeveer 40 km per week. Draf laat my goed voel en ek geniet dit vreeslik en ek kan dit nou gemaklik doen.”

Barend vertel ook dat hy ʼn goeie balans handhaaf in terme van sy gewig. “Ek voel ek het nou genoeg verloor. Ek lei ʼn normale lewe – in die week eet ek gesond en sal oor naweke ʼn braai of pizza geniet. Dalk net nie meer ʼn hele pizza soos in die verlede nie,” lag hy.

Hy voeg by dat Mark ook “draf-mal” is en dat hy ook Crossfit doen. “Ek het ook Crossfit gedoen, maar weens ʼn ou sportbesering in my skouer kan ek dit ongelukkig nie meer doen nie.”

Barend sê hy en Mark, wat ook die pa van twee dogters, Elri (14) en Milan (11) is, is baie na aan mekaar. “Ons is beste vriende en ons woon in dieselfde kompleks. Ons is letterlik deur dik en dun. Alles wat ons doen, doen ons saam voluit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ronel ·

Uitstekend! Baie geluk julle2! Ek het self al 33kg afgeskud en voel fantasties. Ekt my eetgewoontes verander, by n gym aangesluit, draf ongeveer 35km per week en doen gereel parkrun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.