Bruin gemeenskap dans al lank ‘langarm’

Die May-Wedel Troubadours van Distrik Ses. Davy May en die Wedel-broers was die stigters van die groep. May was ‘n mentor vir Willie Jales (Foto: Met vergunning van Jerome Jales/Willie Jales Collection)

Hierdie artikel is geskryf en saamgestel deur die korporatiewe afdeling van die Universiteit Stellenbosch.

Die gewilde Suid-Afrikaanse dansvorm “langarm” roep dikwels beelde op van paartjies wat op die maat van Afrikaanse popmusiek sokkiedans. Dit is waarskynlik hoe baie wit Suid-Afrikaners langarmdans sal beskou.

Maar langarm, soos dit vandag kortweg bekend staan, is baie meer as net sokkie: dit het ʼn ryk geskiedenis en was reeds in die koloniale tydperk in die Kaap as vorm van ontspanning en vermaak bekend.

Langarm het mettertyd al meer gewild binne die bruin gemeenskap geraak, en is beïnvloed deur ʼn verskeidenheid dansstyle en musiek, waaronder Engelse kontradans (oftewel country dancing), kadrieldanse, militêre dansgroepe en Kaap-Maleise kadrieldansgroepe.

“Die term ‘langarm’ is reeds wyd deur die sogenaamde bruin gemeenskap van Distrik Ses en die Kaap as geheel teen die laat twintigste eeu gebruik, om te verwys na die destydse baldans-geleenthede (ballroom) en dansgroepe, asook vroeë baldans-geleenthede en groepe van die 1930’s af,” sê Michael Dunseith, wat onlangs sy meestersgraad in Musiek aan die Universiteit Stellenbosch (US) voltooi het. Hy ondersoek tans verskeie bykomende onderwerpe vir publikasie, na aanleiding van sy tesis.

Wyle mnr. Willie Jales se passie om die nalatenskap van die Kaapse langarm-dansgroepe te behou, was die inspirasie vir Dunseith se navorsing. Dunseith het die betekenis en oorsprong van langarmdans ondersoek, asook wat dit vir die bruin gemeenskap in die Kaap beteken. Jales was ʼn tenoor en alt-saksofoonspeler, oorspronklik van Distrik Ses, asook die leier van ʼn Kerskoor en ʼn baldans-langarmgroep genaamd Willie’s Starlite Orchestra.

Willie Starlite se orkes in 1975. Willie Jales is heel regs (Foto: Met vergunning van Jerome Jales/Willie Jales Collection)

Dunseith het primêre en sekondêre bronne benut om historiese inligting te versamel vir sy navorsing, en ook talle onderhoude met leiers en lede van twee aktiewe dansgroepe, The Strand Combo en Kallie’s Dance Band van Grabouw, gevoer en baie van hul geleenthede bygewoon.

Soos Jales het Dunseith die term ballroom-langarm gekombineer in ʼn tweetalige term wat die kultuur binne die klassieke baldans-praktyk vestig. ʼn Plaaslike invloed is egter duidelik merkbaar met die vastrapritme, wat uitsluitlik gebruik was by kadrieldanse maar wat tans gebruik word vir los- of lyndanse.

“Die bruin mense van die Kaap het die term ‘langarm’ hul eie gemaak en vir hulle verwys dit spesifiek na ʼn baldans-geleentheid en die musiek en danse wat daarmee verbind word,” sê Dunseith.

“Geen ander kulturele groep in Suid-Afrika gee uiting aan ʼn aand van ballroom-langarm op dieselfde manier as lede van die bruin gemeenskap nie. Bruin mense het uitstekende baldans-vaardighede wat gekombineer is met oorblyfsels van die kadriel (oftewel ‘squares’) en ook die vastrapritme gebruik. Hierdie ritme is aangepas vir moderne weergawes van die Amerikaanse lyndans wat herinner aan ʼn spesifieke vorm van Engelse volksdanse, genaamd ‘longways’.”

Volgens Dunseith het navorsing getoon die baldans-langarmmusiek- en danspraktyke van Kaapse bruinmense verteenwoordig ʼn ononderbroke tradisie van musikale en dansvaardighede wat strek vanaf die ontstaan van die Kaapkolonie tot vandag.

Wat die toekoms van langarm betref, sê Dunseith dit is nog lank nie dood nie.

Die May-Wedel Troubadours van Distrik Ses. Davy May en die Wedel-broers was die stigters van die groep. May was ‘n mentor vir Willie Jales (Foto: Met vergunning van Jerome Jales/Willie Jales Collection)

“Volgens ʼn navorsingskonsultant en voorste dansonderwyseres in Kaapstad, Shireen Steenkamp, is daar minstens 50 klein dansateljees in die Kaapse Metropool waar die volgende geslag baldans-langarm-dansers opgelei word.

“Die ouderdomme van diegene by hierdie geleenthede, wat gereeld oor die Kaapstadse Metropool in stads- en gemeenskapsale plaasvind, is eweredig versprei oor alle ouderdomsgroepe vanaf die mid-twintigs en ouer. Dieselfde geld ook vir die groepslede. Daar is ongeveer tien topdansgroepe in die Kaapse Metropool wat op geldinsamelingspogings vir inkomste staatmaak.”

Dunseith sê daar is steeds ʼn sterk bewustheid en kennis van formele baldans-langarm onder dansers van alle ouderdomme, asook die dansgroepe en hul keuse van musiek.

“Solank hierdie bewustheid gehandhaaf kan word, sal die danspubliek deur middel van dansateljees, gekombineer met die pret en kameraadskap van nuwe lyndanse, hierdie unieke gebeurtenisse as belangrike geleenthede vir sosiale wisselwerking in ʼn genotvolle en burgerlike omgewing binne die gemeenskap geniet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.