Buffels en bulte in Baviaanskloof

Kronkel al met die “Bobbejaan se Rug” langs tot op Grasnek, met manjifieke uitsigte oor die digte montane-woudklowe (hou jou oë wawyd oop vir iesegrimmige buffels). (Foto: Jacques Marais)

Deur Jacques Marais

Wie’s bang vir Baviaans? Daar’s grotte en klowe en watervalle en ongediertes by die duisende in hierdie mega-reservaat, en dis gewis die wildste trap wat jy in Suid-Afrika op ʼn ysterperd kan aanpak.

Die bestemming

Duskant Willowmore wag daar ʼn ongerepte stuk wildernis op jou (dis nou te sê as jy bereid is om die sinkplaatpad en stof en hitte te hanteer). Mik “Kloof” se kant toe met die grondpad langs verby Nuwekloofpas, waarna jy dan deur die “Baviaans se Sleutel” glip.

“Langwater” staan bekend as een van die meer tegniese rivieroorgange tydens die Trans-Baviaans, omdat vloedwater die diepte en die klipperige bodem elke jaar affekteer. Die “groot honde” maak dit gewoonlik ongeskonde deur, maar daar is gewoonlik ʼn tuimel of tien wanneer die agter-garde arriveer. (Foto: Jacques Marais)

Wat op jou wag gaan jou mond laat oophang. Rotswande tuimel chaoties na waar bek-breek klowe die landskap deurkruis, al asof ʼn ouwêreldse god – dalk ʼn bedonnerde Prometheus? – sy humeur hier verloor het. Hierdie asemrowende mega-reservaat beslaan sowat 500 000 ha, met 59 soogdiere, 293 voëlspesies en sewe van Suid-Afrika se agt biome (www.ecparks.co.za).  

Die wedren

Die “MAK” – ofte wel die “Moeder van Alle Klimme” is ʼn bliksem van ʼn 8 km-klim tot bo-op Bergplaas, en daar is sommer hope pyn en lyding op deelnemers se gesigte wanneer hulle hier swoeg en sweet (en swets). (Foto: Jacques Marais)

Saal op en trap vir ʼn vale, want dié 24-uur bergfietsmarathon word gereken as een van die taaiste enkeldag bergfietsritte ter wêreld. Deelnemers takel 230 km deur die ruwe hart van die Baviaanskloof-erfenisgebied, die hele ent van Willowmore tot in Jeffreysbaai. Wat dit selfs meer uitdagend maak is die feit dat die roete nie gemerk is nie, met spanne wat deur die nag trap in ʼn reservaat waar buffels, luiperds en renosters los loop (www.transbaviaans.co.za).

Die roete

Trans-Baviaans se aantrekkingskrag lê in die feit dat mens deur sewe biome trap tydens die wedren, met veldwagters al met die roete langs wat help om ryers waarsku waar daar dalk buffels of ander gevaarlike diere mag wag. (Foto: Jacques Marais)

Trap vanuit Willowmore al met ʼn geleidelike 30 km klim tot bo-op die Nuwekloofpas voor jy “Die Kloof” binnevaar. Die volgende 80 km stofstreep jy verby private plase tot jy die wildernisgebied se hek bereik. Nou raak dinge rof, met ʼn witkneukel-afdraand verby Geelhoutbos en die taaiste gedeelte van die roete wat wag.

ʼn Uitmergelende klim neem jou tot bo-op Bergplaas (147 km) voor jy deur beboste inheemse woude kwieng-kwang tot in Cambria se sitrusboorde. Hamer hard verby Komdomo teenaan die Grootrivier (175 km) voordat jy regs draai om die “Nimmer-Einder” tot in Jbay kaf te draf, ʼn massiewe 230 km en 2 540 m se klim later.

Die “Big Dipper”-soeper-tjoep jou van Bergplaas af tot binne in die sprokieswoude wat duskant Poortjie op jou wag. Dit bly my gunsteling-deel van dié 24-uur-wedren. (Foto: Jacques Marais)

Ryers se ligte trek lig strepe deur die donkerte van “Die Kloof”, al met die verlate grondpaaie wat na Cambria se kant toe wentel. (Foto: Jacques Marais)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kerneels ·

‘n Moet vir enige hardebaard mtb-er wat sy sout werd is. “Not for the faint hearted”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.