Buffelsfontein Baard-olie se groot skenking aan Helpende Hand

Meyer-le-Roux

Meyer le Roux. Foto: Facebook

Die maatskappy, Buffelsfontein Baard-olie, het R13 000,00 aan Solidariteit Helpende Hand geskenk na afloop van die Buffelsfontein Lewerolie-witbier bekendstelling in Pretoria. Die bier is in samewerking met Brouer Broers gemaak.

“Helpende Hand is ʼn organisasie wat my baie na aan die hart lê,” sê Meyer le Roux, eienaar van Buffelsfontein Baard-olie. “Ek hou daarvan om te weet waarheen die geld gaan wat mens aan ʼn liefdadigheidsorganisasie skenk. Met Helpende Hand weet ek dat my geld by my mense uitkom,” sê hy.

“Dis vir ons baie belangrik,” vertel Le Roux verder. “Ons is baie bewus van hoe geseënd en bevoorreg ons is om so ’n voortstrewende maatskappy te kon bou in so ’n kort tyd,” sê hy.

“Ons wil baie graag ons sukses met ander deel. Die impak wat regstellende aksie op ons mense gehad het, word dikwels onderskat. Die meeste mense sal hulle boeglam skrik as hulle sien in watse benarde posisie van ons volksgenote hulself bevind,” verduidelik Le Roux. “As Solidariteit en al hul inisiatiewe nie daar was om sulke mense te help nie, sou dinge baie erger gewees het. Ons wil ook graag probeer om ’n verskil te maak,” sê hy.

“My venoot, Mark Eybers, het eintlik met die idee vorendag gekom om mense wat behoeftig is, te help so naby aan die feestyd,” vertel Le Roux. “Ons het die skenking as ʼn verrassing gehou. Jy kan maar sê dit was ʼn Kersgeskenk aan Helpende Hand.”

Michelle Burger, woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand, het beaam hulle was nie van die skenking bewus totdat Buffelsfontein Baard-olie dit op hulle Facebook-blad gedeel het nie. “Ons is altyd verheug oor skenkings en wanneer bekende organisasies soos Buffelsfontein Baard-olie ons ondersteun, help dit ook om ons naam uit te bou,” sê sy geesdriftig.

“Ons hoop ons sal met hulle kan saamwerk in die toekoms,” sê Burger. “Ons personeel by Helpende Hand giggel gereeld oor die Baard-olie advertensies en is groot aanhangers. Met een van ons bemarkingsvideo’s wat ons vroeër vanjaar vervaardig het, het ons toevallig inspirasie gekry by die bekende Baard-olie video’s op Youtube,” sê sy.

https://www.youtube.com/watch?v=xyD4wz84EIs

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Francois ·

Dit is werklik verblydend om te sien hoe organisasies soos Solidariteit en Afriforum ons mense saamsnoer. Eendrag maak mag!

Deon ·

Vir solank as wat dit julle houding en kultuur by Buffelsfontein Baardolie is, sal ek die produkte koop om julle te ondersteun.

Francois ·

Deon, ek stem. Ek verneem die manne van Buffelsfontein baard-olie het ook ‘n aandeel in ‘n bier onder ‘n Afrikaanse etiket wat pas vrygestel is. Nou wonder ek hoe ‘n mens te werk moet gaan om ook dié produk te bekom en die kêrels nog meer te ondersteun?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.