By dié dokter betaal jy net wat jy kan bekostig

Dr. Paulo de Valdoleiros in 'n skermgreep uit 'n onderhoud op die Home Channel, DStv-kanaal 176.

Dr. Paulo de Valdoleiros in ‘n skermgreep uit ‘n onderhoud op die Home Channel, DStv-kanaal 176.

As arm Portugese seun wat in Mosambiek grootgeword het, het Paulo de Valdoleiros altyd daarvan gedroom om ʼn dokter te word – een wat pasiënte behandel uit die liefde vir die saak en omdat hulle ordentlike gesondheidsorg nodig het, en nié vir die geld en status nie.

Nou het dr. De Valdoleiros uiteindelik dié droom bewaarheid deur ʼn praktyk te open waar daar nie ʼn vasgestelde fooi is nie en pasiënte vir sy dienste kan betaal wat hulle kan bekostig. Dié mediese praktyk, Walk-in Doctor, het verlede week in Bloemfontein sy deure geopen.

De Valdoleiros, wat gereeld ʼn gas op die Home Channel, DStv-kanaal 176, is en landwyd gesondheidspraatjies lewer, het in 1974 na Suid-Afrika gekom en sy mediese graad aan die Universiteit van die Vrystaat behaal.

“Ek het reeds van negejarige ouderdom af daarvan gedroom om ʼn dokter te word. My etos en uitgangspunt oor hoekom ek graag mense wil bedien, het baie te doen met my spirituele lewensreis,” vertel De Valdoleiros aan Maroela Media.

“Ek glo ons is almal met ʼn doel hier op aarde geplaas en ek wou nog altyd teen die status quo gaan. As jy nie anders is nie, gaan jy nie ander resultate kry nie. Ek het altyd gewonder hoekom mense sonder geld nie die voorreg het om ook ʼn dokter te sien wat voldoende mediese sorg kan bied nie. Daarom wou ek graag hierdie praktyk op die been bring,” sê hy.

Die praktyk is nie net beskikbaar vir mense wat nie duur mediese fooie kan bekostig nie, maar ook oop vir pasiënte wat oor ʼn mediese fonds beskik wat uitgeput is. “Selfs meer gegoede mense en kinders gaan deur moeilike tye en behoort nie weerhou te word van goeie mediese sorg nie,” sê hy.

Hy behandel egter nie kinders onder die ouderdom van sewe nie. “Ek glo dat kinders jonger as sewe jaar deur ʼn pediater behandel behoort te word. Pediaters wat elke dag met kinders werk, leer later om kinders te lees en hul vaardighede om kinders spesifiek te behandel is beter ontwikkel as wat myne is, aangesien ek vir baie jare nie net op kindergesondheid gefokus het nie. Ons as dokters het ʼn massiewe verantwoordelikheid teenoor ons pasiënte en dit is belangrik dat kinders gesien word deur dokters wat elke dag met kinders werk.”

Hy hou vol dat daar nie ʼn minimum bedrag betaalbaar is by sy praktyk nie, maar dat pasiënte wel iets moet betaal. “Ek lewer eers die diens en dan betaal hulle wat hulle dink my diens werd is. Ek ondersoek die pasiënt en gee vir hulle basiese medikasie en eenvoudige antibiotika. Hulle betaal dan na gelang van wat hulle kan bekostig.”

Volgens De Valdoleiros het geen pasiënt wat sedert verlede week die praktyk besoek het al minder as R50 betaal nie. “Niemand kan die stelsel misbruik nie, want daar is nie ʼn stelsel nie. Slegs jy sal weet as jy minder betaal as wat jy werklik kan bekostig en dit is dan iets wat jy met jouself moet uitklaar.”

Pasiënte wat die praktyk wil besoek, kan slegs opdaag of vooraf ʼn afspraak maak. Hy voeg by dat sy drumpel nog nie deurgetrap is sedert die praktyk verlede week oopgemaak het nie.

“Miskien dink mense dit is te goed om waar te wees of mense het nog net nie van ons gehoor nie, maar ek voorspel dat ons binnekort baie besig sal wees. ʼn Vrou het my kom sien al die pad van Dealesville af, wat omtrent 60 km van hier af is. In hierdie stadium vat ek nog my tyd om die pasiënte te ondersoek omdat ons stil is. As ons besiger is, sal ek strenger met myself moet wees ten opsigte van die tyd wat ek aan een pasiënt afstaan.”

De Valdoleiros se praktyk is by Kellnerstraat 100, Westdene, in Bloemfontein geleë. Vir afsprake, bel Loretta by 071 719 1675.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Marinda ·

Dis voorwaar ‘n voorbeeld wat ons almal kan nastreef om ‘n diens vir ons medemens te lewer. Ek hoop ek en ander profesionele mense kry ook die geleentheid om jou te help. Baie dankie vir jou!

barend v d westhuizen ·

dit is nou n ware doktor gaan nie oor geld nie maar oor die mens

Jaco ·

Wow wat n Dr. Hier in die stad as jy Dr toe gaan en nie gesind word en weer terug gaan moet jy elke keer R500 betaal onge ag.

Haal my hoed af vir hom

Patient Bloemfontein ·

Nee, hy kan nie. Is ons s’n! LOL
Ons is bevoorreg om die dokter te he.

Zettie ·

Dié dokter stel ‘n flippen goeie voorbeeld vir ander. Ek hoop dat baie ander dokters ook in sy spore sal volg. Daar is ‘n baie groot behoefte vir sulke dienste anders as wat mens by die klinieke kry waar mens sleg behandel word en nie eens goeie diens kry nie. Welgedaan.

Magaretha van heerden ·

Dit moet versprei word op al die sosiale media. Dit is n skande wat mense vir mediese dokters moet betaal. So baie arm mense het geen toegang of die wat vir klein salarisse werk het net geld vir die dokters en medisyne. Niks oor om van te lewe nie. Ek haal my hoed af vir die dokter. Hy sal sy loon kry by God. Wens ek as verpleegkundige was naby om my dienste vir hom gratis aan te bied. Hy verdien die Nobel prys wat hulle sommer net weggee vir reeds ryk mense en vir niks. Kan iemand nie die ouens wat dit uitdeel van hom laat weet nie. Goeie beginsel om te vra net wat hulle kan. In die ou dae was die dokter betaal met n hoender of skaap of wat ookal.

Melissa ·

Mag daar meer mense in die mediese beroep soos dr De Valdoleiros wees. Wat ‘n wonderlike voorbeeld is hy nie vir ons almal nie? My eie GP het my al, met mediese fonds wat uitgeput is, al deur die jare by tye wanneer die nood druk verniet gesien. Sulke mense maak ‘n groot verskil in ons lewens. Dit gaan werklik nie oor geld en status nie maar die liefde vir hul beroep en medemens. Baie sterkte dr, mag jy nie gekruisig word vir die goed wat jy doen nie.

pearl peterson de beer ·

FANTASTIES. hOOP DAAR SAL NOG DRS WEES WAT SY VOORBEELD VOLG.

Bloudrom ·

Nee ek kan jou verseker daar sal nie een van die geldwolwe sy voorbeeld volg nie.

charmaine ·

Dit is so n wonderlike gebaar dit sal die oumense wat so swak pension kry baie help.
Die HERE seen hierdie man dat dit net goed sal gaan in sy besigheid

bokkie ·

Dit is voorwaar wat ons ook in die Noordwes provinsie nodig het. Veral omdat wanneer jy wel siek is en na jou plaaslike kliniek toe gaan nie wil gehelp word nie. Toe ek vroeg in die maand by my kliniek was het ek gevra vir flu medicine. Die antwoord was dat hulle nie flu medicine het nie. Ek moes warm water honey and lemon gedrink het vir flu. Dr de Valdoleiros stel vir ons almal n pragtige voorbeeld. Bravo vir jou.

BOKKIE LANGEVELDT ·

Dit is voorwaar wat ons ook in die Noordwes provinsie nodig het. Veral omdat wanneer jy wel siek is en na jou plaaslike kliniek toe gaan nie wil gehelp word nie. Toe ek vroeg in die maand by my kliniek was het ek gevra vir flu medicine. Die antwoord was dat hulle nie flu medicine het nie. Ek moes warm water honey and lemon gedrink het vir flu. Dr de Valdoleiros stel vir ons almal n pragtige voorbeeld. Bravo vir jou.

Annalene ·

My hart swel sommer om te dink daar is regtig nog mense soos die dr. Jy sal vorentoe baie gessend word. Die Kaap het iemand soos jy nodig wat regtig omgee. My hart breek veral vir die ou mensies wat in die koue by daghospitale moet staan vir ure en dan die meeste van die tyd nie eers gehelp word nie. Ek gee nie om om te wag in n ry nie, my bene staan nog maar daardie oumense is nie so sterk nie.

Jessica ·

Here in Johannesburg we get charged from R380.00 – R650-00 a consultation without medication.

Madeleine ·

Jys n inspriasrie dokter!! Dankie vir jou voorbeeld.
Ekt gister n aanlyn afspraak vir n dokter gemaak en gesien dat die tydgleuwe net 10 min lank is….

Ella Jansen van Vuuren ·

Wat `n man. Daar is soveel mense wat net eenvoudig nie mediese fondse kan bekostig nie en die staats instansies is belaglik. Dr ek hoop jy word geseen in oorvloed.

Veronica ·

Mag ek bid dat dieselfde hier in PTA kan gebeur!!!!!!
My Ouers is albei oor die 70 en het geen mediese fonds nie, hulle trap beslis nie die Drs se drumpel deur nie maar soms is dit tog nodig vir medikasie en ondersoeke . . .
wat hulle maklik meer as n duisend rand uit die sak jaag terwyl hulle albei net ouderdoms pensioene verdien. Ek help waar ek kan en mag God iemand stuur PTA toe . . ….. hier is baie nood

A ·

Dr. Suna Moller in Pta Cbd ook net basiese fooi en alle medikasie en opvolg ingesluit. Wonderlike dr en lewer gratis diens aan kinderhuise in oggend. Sy doen dit ook vir die liefde van haar beroep.

Huisvrou ·

“Ek lewer eers die diens en dan betaal hulle wat hulle dink my diens werd is.”

Dit is die enigste werkbare arbeidswetgewing.

Dokter, vir my is net hierdie benadering goud werd.

Chantelle ·

Ek kom nou net van Johan Heyns Hospitaal af in Vanderbijlpark met my skoonma van 80. ons sit daar van vanoggend 6 uur af in temperatuur van -2.5. Ons het 6 ure gesit voor die dokter haar kon sien. En gee haar 3 pille en ‘n handvol pynpille. Sy het longontsteking. dit maak my ongelooflik hartseer, die goedkoopste dokter wat ek kon kry is R350, dit kan ek nog help betaal, maar die medikasie is onbekostigbaar. Maar om ons oumensies so te moet laat sit is ook nie aanvaarbaar nie. Ek sal definatief so ‘n dokter ondersteun.

Barend ·

In 1974 het ek en my vrou in Petrus Steyn gekuier. In die loop van die kuier het my vrou ‘n besering opgedoen en ons is dokter toe – onbekend aan ons en ons onbekend aan hom. Hy kon nie veel doen nie, behalwe om die wond skoon te maak, verband aan te sit en ons na die hospitaal op Reitz te verwys. Toe ons betaal, sê hy jammer, hy kon nou nie eintlik iets doen nie, hy vra ons net die ½ van die normale konsultasiefooi. Dit was die eerste en die laaste maal dat ons so-iets teëgekom het. Ongelukkig kan ek nie onthou wie die dokter was nie.

Realis ·

So hoe gemaak as ordentelike medisyne (wat hy waarskynlik nie gee nie) hom meer kos as wat die pasiënt dan bereid is om hom te betaal – gaan hy dit dan subsidieer?

kolla ·

Hy sal verseker nie medisyne verniet kan uitdeel nie. Konsultasie is een ding, medikasie kos geld.

pieter ·

Arme dokter, dink net hoeveel mense gaan nou van sy goedheid misbruik maak….

Frm ·

@pieter ek stem saam met die misbruik in plaas van gebruik maak in uiterse gevalle.

Jaco ·

Wow wat n Dr. Hier in die stad as jy Dr toe gaan en nie gesind word en weer terug gaan moet jy elke keer R500 betaal onge ag.

Haal my hoed af vir hom

Anoniem ·

Ek het die grootste ontsag en respek vir hierdie man. Mag die Here hom Seën en sy praktyk Seën vir al die mense wat hy gaan help. Dis EEN man wat ek glo, sy roeping uitleef en dokter geword het vir die regte rede. Nie om geld te maak nie.

Mel ·

Dis wonderlik! Al wat ek wel ervaar het is dat dokters se konsultasies wild opgegaan het agv die astronomiese versekering wat hulle betaal. Ek wonder hoe werk dit in sy geval?
Maar nietemin – wonderlik!! Mag hy ryklik geseen word en sy naam onthou word.

Ed ·

Die Dr se hy het sy mediese graag in Bloemfontein betaal, van wanneer af het Bloemfontein n mediese fakulteit???????

Bruinoog ·

Mag hierdie Dr se praktyk net geseen word en mense nie sy goeie hart misbruik nie.
My pa wat n pensioenaris is moes die plaaslike dr gaan besoek en sy eerste besoek het R2100 uit gewerk en n opvolg weer R1200. Mense hoe werk dit? Is dit bloot n geld maak storie of wat? Goeie Dr of nie – waar is jou hart, by geld of by jou liefde vir jou beroep – om mense gesond te maak of jou bankrekening vol te stop.

JHR ·

Ed. above wants to know since when does UFS have a medical faculty. Since 1969. If you bother to do a little research the answer to your questions is there. I admire the doctor for what he does, our country is so besotted with greed that it does one well to hear of someone who practices in his/her profession for the love thereof.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.