By dié dokter betaal jy net wat jy kan bekostig

Dr. Paulo de Valdoleiros in 'n skermgreep uit 'n onderhoud op die Home Channel, DStv-kanaal 176.

Dr. Paulo de Valdoleiros in ‘n skermgreep uit ‘n onderhoud op die Home Channel, DStv-kanaal 176.

As arm Portugese seun wat in Mosambiek grootgeword het, het Paulo de Valdoleiros altyd daarvan gedroom om ʼn dokter te word – een wat pasiënte behandel uit die liefde vir die saak en omdat hulle ordentlike gesondheidsorg nodig het, en nié vir die geld en status nie.

Nou het dr. De Valdoleiros uiteindelik dié droom bewaarheid deur ʼn praktyk te open waar daar nie ʼn vasgestelde fooi is nie en pasiënte vir sy dienste kan betaal wat hulle kan bekostig. Dié mediese praktyk, Walk-in Doctor, het verlede week in Bloemfontein sy deure geopen.

De Valdoleiros, wat gereeld ʼn gas op die Home Channel, DStv-kanaal 176, is en landwyd gesondheidspraatjies lewer, het in 1974 na Suid-Afrika gekom en sy mediese graad aan die Universiteit van die Vrystaat behaal.

“Ek het reeds van negejarige ouderdom af daarvan gedroom om ʼn dokter te word. My etos en uitgangspunt oor hoekom ek graag mense wil bedien, het baie te doen met my spirituele lewensreis,” vertel De Valdoleiros aan Maroela Media.

“Ek glo ons is almal met ʼn doel hier op aarde geplaas en ek wou nog altyd teen die status quo gaan. As jy nie anders is nie, gaan jy nie ander resultate kry nie. Ek het altyd gewonder hoekom mense sonder geld nie die voorreg het om ook ʼn dokter te sien wat voldoende mediese sorg kan bied nie. Daarom wou ek graag hierdie praktyk op die been bring,” sê hy.

Die praktyk is nie net beskikbaar vir mense wat nie duur mediese fooie kan bekostig nie, maar ook oop vir pasiënte wat oor ʼn mediese fonds beskik wat uitgeput is. “Selfs meer gegoede mense en kinders gaan deur moeilike tye en behoort nie weerhou te word van goeie mediese sorg nie,” sê hy.

Hy behandel egter nie kinders onder die ouderdom van sewe nie. “Ek glo dat kinders jonger as sewe jaar deur ʼn pediater behandel behoort te word. Pediaters wat elke dag met kinders werk, leer later om kinders te lees en hul vaardighede om kinders spesifiek te behandel is beter ontwikkel as wat myne is, aangesien ek vir baie jare nie net op kindergesondheid gefokus het nie. Ons as dokters het ʼn massiewe verantwoordelikheid teenoor ons pasiënte en dit is belangrik dat kinders gesien word deur dokters wat elke dag met kinders werk.”

Hy hou vol dat daar nie ʼn minimum bedrag betaalbaar is by sy praktyk nie, maar dat pasiënte wel iets moet betaal. “Ek lewer eers die diens en dan betaal hulle wat hulle dink my diens werd is. Ek ondersoek die pasiënt en gee vir hulle basiese medikasie en eenvoudige antibiotika. Hulle betaal dan na gelang van wat hulle kan bekostig.”

Volgens De Valdoleiros het geen pasiënt wat sedert verlede week die praktyk besoek het al minder as R50 betaal nie. “Niemand kan die stelsel misbruik nie, want daar is nie ʼn stelsel nie. Slegs jy sal weet as jy minder betaal as wat jy werklik kan bekostig en dit is dan iets wat jy met jouself moet uitklaar.”

Pasiënte wat die praktyk wil besoek, kan slegs opdaag of vooraf ʼn afspraak maak. Hy voeg by dat sy drumpel nog nie deurgetrap is sedert die praktyk verlede week oopgemaak het nie.

“Miskien dink mense dit is te goed om waar te wees of mense het nog net nie van ons gehoor nie, maar ek voorspel dat ons binnekort baie besig sal wees. ʼn Vrou het my kom sien al die pad van Dealesville af, wat omtrent 60 km van hier af is. In hierdie stadium vat ek nog my tyd om die pasiënte te ondersoek omdat ons stil is. As ons besiger is, sal ek strenger met myself moet wees ten opsigte van die tyd wat ek aan een pasiënt afstaan.”

De Valdoleiros se praktyk is by Kellnerstraat 100, Westdene, in Bloemfontein geleë. Vir afsprake, bel Loretta by 071 719 1675.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

34 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marinda

Dis voorwaar ‘n voorbeeld wat ons almal kan nastreef om ‘n diens vir ons medemens te lewer. Ek hoop ek en ander profesionele mense kry ook die geleentheid om jou te help. Baie dankie vir jou!

barend v d westhuizen

dit is nou n ware doktor gaan nie oor geld nie maar oor die mens

JK

Wat ‘n wonderlike idee – kom asb. Johannesburg toe

Zettie

Dié dokter stel ‘n flippen goeie voorbeeld vir ander. Ek hoop dat baie ander dokters ook in sy spore sal volg. Daar is ‘n baie groot behoefte vir sulke dienste anders as wat mens by die klinieke kry waar mens sleg behandel word en nie eens goeie diens kry nie. Welgedaan.

Magaretha van heerden

Dit moet versprei word op al die sosiale media. Dit is n skande wat mense vir mediese dokters moet betaal. So baie arm mense het geen toegang of die wat vir klein salarisse werk het net geld vir die dokters en medisyne. Niks oor om van te lewe nie. Ek haal my hoed af vir die dokter. Hy sal sy loon kry by God. Wens ek as verpleegkundige was naby om my dienste vir hom gratis aan te bied. Hy verdien die Nobel prys wat hulle sommer net weggee vir reeds ryk mense en vir niks. Kan iemand nie die… Lees meer »