Bybel oorhandig as simbool van vriendskap, vrede

Blyth Thompson en Johan Uys met die Bybeloorhandigingseremonie te Bybelmonument in Grahamstad. (Foto: Verskaf)

Op 29 November, die dag waarop die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling bekend gestel is, het Johan Uys, ’n direkte nasaat van Jacobus Uys, namens die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) die nuwe Afrikaanse 2020-Bybelvertaling aan Blythe Thompson by die Bybelmonument in Grahamstad oorhandig.

In 1820, vanjaar 200 jaar gelede, het die Britse setlaars voet aan wal gesit. Op 23 Augustus 1820 is die South African Bible Society, ’n hulpvereniging van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap, in Kaapstad gestig. Die aanvanklike doel was om Bybels vir die inwoners van die Kaap beskikbaar te stel. Hierdie klein hulpvereniging het gegroei tot wat ons vandag ken as die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. In 1933 het die Bybelgenootskap die Bybel in Afrikaans gepubliseer.

Met die oorhandiging van die nuwe 2020-Afrikaanse vertaling aan ’n direkte afstammeling van die Britse setlaars vier die FAK nie net die nuwe Afrikaanse vertaling nie, maar gee ook erkenning aan die waarde wat die Britse setlaars oor twee eeue tot Suid-Afrika toegevoeg het en die besondere vriendskap wat tussen Afrikaners en die Britse setlaars op die destydse Oosgrens ontstaan het.

In April 1837 het Thomas Phillips naby Grahamstad namens die Britse setlaars ’n Bybel aan die Uys-trek oorhandig wat as deel van die Groot Trek die Oosgrens verlaat het.

Die granietborde by die Bybelmonuement wat aangebring is met die woorde van William Thompson, Blyth Thompson, se grootoupa. (Foto: Verskaf)

Die Bybelmonument, net buite Grahamstad, is op die presiese plek gebou waar die Uys-laer in 1837 gestaan het en die Statebybel 183 jaar gelede deur Blythe se voorouer, William Thompson, aan Jacobus Uys oorhandig is.

William het destyds verduidelik dat die gebaar ’n simbool van vriendskap, vrede en welwense is. In die Voortrekkermonument is die gebeure in ’n marmerfries verewig, maar meer nog, die oorspronklike Uys-Bybel word in die Monument bewaar.

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, is die verskyning van ’n nuwe Afrikaanse Bybel nie net belangrik vir kerke nie, maar het in ’n tyd waar Afrikaans op soveel terreine uitgeskuif word ook groot kulturele betekenis.

“Die Bybel is immers steeds die fondament waarop blywende vriendskappe en goeie verhoudinge in die land gebou kan word. Dit is vir die FAK belangrik om met die gebaar van vriendskap erkenning te gee aan die groot historiese rol wat die Britse setlaars in ons land gespeel het en steeds vervul.”

Blythe het op sy beurt meer oor die Thompson-familie en hulle verbintenis met en betrokkenheid by hulle Afrikaanse landgenote vertel.

“In die sestigerjare is ek as die voorsitter van The South Africa Society in Londen genooi om ’n referaat te lewer tydens die Internasionale Kongres oor Kommunisme wat in die stadsaal in Pretoria gehou is. My toespraak was getiteld ‘The illusion of kindness’.

“Aan die einde van my toespraak het die gehoor soos een man opgestaan en ‘Die Lied van Jong Suid-Afrika’ vir my en my oorlede eerste vrou, die moeder van my kinders, gesing. Ek was diep geroer hierdeur.

Hy het verder uitgebrei en vertel dat hy vandag steeds die woorde van simpatie en vriendskap van sy oupagrootjie, wat op die Bybelmonument staan, wil beklemtoon.

Die woorde op die monument lui:

Thereupon said my good friends – The inhabitants of Graham’s Town and its vicinity hearing of your arrival in this district with the intention of quitting for ever the land of your birth have entered into a public subscription to purchase this Bible and I am deputed with the gentlemen who accompany me now to present it to you. – William Roland Thompson

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vrijburger ·

Baie interessant en roerend. Mag die stukkie geskiedenis nie verlore gaan nie.

Helgard ·

Baie dankie vir n grootse werk. Tog ook interessant dat die medewerkers besonder grys gevorderd is in jare. Waar is die effe jongeres?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.