Bybel vertaal in klankformaat vir Afrika

Matthys-Maree-van-Atterbury-teater

Matthys Maree, musikant en mede-eienaar van die Atterbury-teater in Pretoria. Foto: Atterburytrust.org

Behalwe ’n plek waar kunstenaars hul talente op die verhoog vier, is die Atterbury-teater in Pretoria ook die tuiste van Odyssey Records se ateljee. En dis waar die teater se mede-eienaar, die musikant Matthys Maree, besig is met ʼn projek om die Bybel in verskeie Afrikatale te vertaal. Die span van die Atterbury Trust het meer oor dié projek gaan uitvind:

Wat is die grootste uitdagings as dit kom by Bybelvertalings?

Dis beslis die soeke na die mees kultuur-korrekte beelde in vertaling, en om steeds so na as moontlik aan die oorspronklike teks te bly. Daar is menige terminologieë wat doodeenvoudig net nie bestaan in sekere Afrika-kontekste nie en dan soek ons na parallelle wat dieselfde boodskap of beelde oordra. Nie alle verskille is versoenbaar nie, en die waarheid van die Bybel moet natuurlik steeds onverdun oorkom, maar om skielik in eeue-oue kulture in te stap met potensieel volksvreemde tekste is definitief nie eenvoudig nie! Gelukkig gebeur sendingwerk al vir baie jare en is die weg gebaan om nuwe vertalings na Afrika-gemeenskappe te bring of slegs bestaande vertalings te herbesoek. Die opnames waarmee ons besig is gaan gratis aan mense beskikbaar gestel word in klankformaat, vir diegene wat nie lees magtig is nie.

Het enigiemand voorheen die Bybel in Afrikatale vertaal?

Ja, maar hierdie vertalings is argaïes en dateer maklik van die veertiger- of vyftigerjare. In oorleg met taalkundiges in elk van hierdie tale word die ouer vertalings hersien en nou opgeneem tesame met die druk van nuwe Bybels.

Met hoeveel vertalings is julle nou besig?

Ons is bykans klaar met die tweede taal (Luganda uit Uganda) en reeds klaar met Shona (Zimbabwe). Ons het verder reeds stemtoetse gedoen vir Yoruba (Nigerië) en Asante Twi (Ghana) waarmee ons eersdaags begin. Chichewa (Malawi) is ook bevestig vir die nabye toekoms.

Hoe groot is die span wat hieraan werk?

In ons ateljees is daar vier voltydse ingenieurs wat aan die projekte werk in samewerking met die stemkunstenaars en taal-eksperts vir elke taal, asook die Afrika- en Suid-Afrikaanse span van Biblica vir wie ons hierdie projekte doen.

Het julle spesifieke doelstellings waarheen julle werk?

Ons het hierdie projekte geërf uit ander lande en ateljees wat nie die mas opgekom het nie. Een van die vorige tale kon nie eers binne ʼn twee jaar tydperk suksesvol afgehandel word nie. Ons probeer om dit betyds en met deeglike deurlopende kommunikasie af te handel. Ons eerste taal is gedoen in ongeveer sewe maande, die tweede een sal binne vyf afgehandel wees en ons hoop om die volgende twee albei af te handel binne ses maande van aanvang. Die proses om hierdie projekte so gou moontlik af te handel sal beteken dat meer tale vinniger aangepak kan word, ten einde miljoene mense regoor Afrika vir die eerste keer toegang te gee tot die Bybel in hul moedertaal. Daar is ook ʼn kans dat ons by ʼn paar Europese tale betrokke kan raak later in 2016.

Wie is die stemkunstenaars wat die voorlesings doen?

Ons doen oudisies vir stemkunstenaars en dan word ons keuses aan Biblica voorgelê – hulle kies. Waar moontlik is dit “expats” van die bepaalde land wat nou in Suid-Afrika woon; andersins vlieg ons iemand van daar in.

In watter formaat word die vertalings beskikbaar gemaak en wie versprei dit?

Enige oudioformaat – kompakskyf of MP3-spelers of datastokkies. Biblica doen die verspreiding.

Wat is die lekkerste terugvoer wat julle al gekry het op julle werk?

Die eerste tale gaan waarskynlik eers teen die einde van hierdie jaar of deur 2016 die grond tref, so ons is baie gretig om te hoor hoe dit ontvang word. Intussen probeer ons om almal wat saam met ons werk ʼn baie positiewe belewenis van Pretoria en Suid Afrika te gee tydens die opnameproses. Dis inderdaad ʼn voorreg om in hierdie grootse projek te deel en ek hoop regtig dat daar vele tale, nasionaliteite en kulture deur ons ateljees sal loop oor die volgende paar jaar!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hans ·

Sjoe Jaco – jy oordeel nou hard en dit gaan jou nog inhaal. Dink terug aan die gelykenis van die barmhartige samaritaan en dan dink jy ook sommer aan wat Jesus gesê het oor oordeel. Om so ‘n goeie inisiatief en die klomp mense wat dit bereik sommer so af te skryf is kortsigtig en word nie in liefde gedoen nie.
Almal het gesondig en kort die genade van God. Rom 3:23

Hans van Aardt ·

Fantastiese projek – ons is betrokke by Bybels vir Afrika en versprei reeds die Bybel gratis op CD aan onder andere trok bestuurders. Die terugvoer is fantasties en so bereik mens die masses met die kragtige genade van God.
Ek sal graag wil uitvind hoe mens met hulle kontak kan maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.