Bybelgebaseerde geletterdheidsmateriaal in isiXhosa nou beskikbaar

foto: pixabay.com

foto: pixabay.com

Op 8 September, internasionale geletterdheidsdag, stel die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) sy Bybelgebaseerde geletterdheidsboekies in isiXhosa vir die eerste keer bekend. Die bekendstellingsgeleentheid vind plaas by die Laerskool Setlaarspark in Walmer, Port Elizabeth, en begin om 10:30. Die gasspreker by dié geleentheid is Mandla Makupula, die Oos-Kaapse LUR vir onderwys.

Hierdie basiese geletterdheidsprojek wat uit twee boekies bestaan, My eerste Bybel-doen-en-leerboek (IBhayibibhile yam yoKwenza nokuFunda: INcwadi-1 ) en My tweede Bybel-doen-en-leerboek (IBhayibibhile yam yoKwenza nokuFunda: INcwadi-2 ) is veral op voorskoolse kinders en grondfase-leerlinge (gr. R, 1 en 2) gerig.

Die BSA het twee gekwalifiseerde moedertaalsprekers genader om te help met die ontwikkeling, vertaling en redigering van die isiXhosa-boekies. Hulle is Pamela Ncapai, ’n voormalige onderwyseres wat tans betrokke is by die opleiding van gr.R-onderwysers en Ncebakazi Faith Saliwa-Mogale van NF Saliwa Publishing.

’n Paar jaar gelede het die BSA bewus geraak van duisende kinders in veral arm woonbuurte wat deur bedags in dagsentrums versorg word, maar aan geen vorm van geletterdheid blootgestel word nie. Baie van hierdie kinders het ook nie die voorreg om ontvangsfase-klasse (gr. R) by te woon nie. Vergelyk ’n mens hulle omstandighede met dié van kinders uit bevoorregte huise wat reeds voordat hulle met skoolopleiding begin gemiddeld aan ongeveer 400 uur van geletterdheidstimulasie blootgestel word, is dit duidelik dat baie gemarginaliseerde kinders hulle skoolopleiding met ’n agterstand begin.

Ná deeglike navorsing het die BSA besluit om Bybelgebaseerde geletterdheidsmateriaal te ontwikkel. Die program is geskoei op die Doen-en-leer-metode wat deur wyle dr. Rose Botha ontwikkel is, en wat goedgunstiglik aan die BSA beskikbaar gestel is. Die boekies betrek feitlik alle sintuie om basiese lees- en skryfvaardighede te ontwikkel. Die onderwyser se taak word vergemaklik deur die gebruik van kleurvolle illustrasies, ikone, flitskaarte en verskillende aktiwiteite soos lees, skryf, syfers, teken en sing.

Die Engelse sowel as die Afrikaanse boekies is reeds sedert 2013 beskikbaar. Die Sesotho-boekies word tans voorberei waarna isiZulu en Sepedi sal volg.

Ds. Dirk Gevers, uitvoerende hoof van die BSA, sê die genootskap wil met dié projek ’n verskil in gemeenskappe maak. “Dít wil ons doen deur hoop te bring en ons mense te help om hul volle potensiaal te bereik. Nie net kan hierdie boekies ’n bydrae lewer tot die lees- en skryfvaardighede van ons kinders nie, maar hulle kan ook reeds op ’n baie vroeë ouderdom begin om die Bybel, met sy boodskap van hoop, te ontdek.”

Danksy Bybelgenootskapdonateurs is duisende van hierdie boekies reeds gratis beskikbaar gestel aan kinders wat in veral arm dele van die land woon. Die BSA maak gebruik van implementeringsvennote, byvoorbeeld kerke, skole, organisasies en individue. Enige persoon wat kan lees kan, met behulp van flitskaarte en ’n handleiding wat saam met die boekies voorsien word, iemand anders help om die basiese lees- en skryfvaardighede te bemeester.

Vir nog inligting skakel jou naaste Bybelhuis of 021 910 8705 of stuur ’n e-pos na [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.