Bybelvasvra gaan volstoom voort

(Foto: Aaron Burden/Unsplash)

Vir langer as vier dekades daag die Rapportryersbeweging se Bybelvasvra-kompetisie laerskoolleerders se Bybelkennis uit, ’n instelling wat vanjaar voortgesit word.

Inskrywings het reeds aan die einde van Januarie vanjaar geopen, en sal op 30 Junie sluit.

“Die kompetisie het ’n reuse-invloed op kinders. Hulle leer van jongs af hoe om ’n groot hoeveelheid werk te memoriseer,” het dr. Hennie Schmidt, hooforganiseerder van die kompetisie, aan Maroela Media vertel.

Schmidt het al die impak wat die kompetisie op kinders se akademiese loopbane het, self beleef.

“My jongste dogter wat nou 22 jaar oud is, het vir twee jaar in haar laerskooldae aan Bybelvasvra deelgeneem. Sy het met sewe onderskeidings haar matriekjaar afgesluit.”

Hy vertel verder dat dit nie ’n vreemde verskynsel is nie.

“Ons [Schmidt en sy vrou] bly op hoogte met kinders wat in die verlede aan die kompetisie deelgeneem het. Hulle is dikwels diegene wat matriek met ’n hele paar onderskeidings slaag en selfs later hul grade met lof verwerf.”

Die kompetisie bied ’n omgewing waarin leerders kan leer hoe om in ’n span saam te werk.

“Dit kweek ’n gesonde selfbeeld onder die leerders en leer hulle om selfdissipline aan die dag te lê. Uit die aard van die saak kweek dit ook ’n liefde vir die Bybel onder diegene wat deelneem.”

Leerders is gretig om aan die kompetisie deel te neem.

“’n Skool in die Wes-Kaap wil veertig leerders inskryf, en dit is net uit een skool uit!”

Die kompetisie was in 2020 in sy spore gestuit as gevolg van die pandemie.

“2020 was ’n moeilike jaar; ons het dit gebruik om ander stelsels in plek te kry. Die kompetisie het in 2021 elektronies voortgegaan. Hierdie jaar is die eerste jaar wat ons die finaal weer by die ATKV-oord in Hartenbos kan aanbied,” het Johan Roos, president van die Rapportryersbeweging, verduidelik.

Gr. 4‑ tot 7-leerders van reg oor die land word uitgenooi om aan die kompetisie deel te neem.

Daar is nie ’n beperking op die aantal spanne wat deur skole, gemeentes en ander instansies ingeskryf kan word nie, alhoewel daar vir die eerste vier spanne inskrywingsgeld betaalbaar is. Verdere spanne sal gratis aan die kompetisie kan deelneem.

Die eerste uitdunronde vind van 18 tot 22 Augustus plaas. Die top-10‑spanne sal teen 26 Augustus bekend gemaak word. Leerders kan daarna hul vere regskud vir ’n heerlike finale ronde wat tussen 14 en 16 Oktober vanjaar sal plaasvind.

  • Vir meer inligting oor die kompetisie en die inskrywingsproses, stuur gerus ’n e-pos aan [email protected] of kontak 084 603 6037.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.