CANSA kry vlerke

Duiwe_Cansa_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

[Promosie]

Een van die mees gevreesde woorde wat uitgespreek kan word, is die woord kanker. Dit is ʼn siekte wat geen ouderdom, geslag of status in ag neem nie.

So veel as ʼn kwart van die Suid-Afrikaanse bevolking het self kanker of het ʼn familielid, ʼn geliefde, ʼn vriend of ʼn kollega wat ʼn stryd voer teen die siekte. Elke jaar word so veel as 1 000 Suid-Afrikaners gediagnoseer met ʼn vorm van kanker.

Die uitdagings vir instansies soos CANSA is geweldig groot. Van bewusmaking tot by die bestryding van dié gevreesde siekte is dié niewinsgewende organisasie se doelwit. Kankerpasiënte kan op verskeie maniere gehelp word, maar ʼn gebrek aan geld staan in die pad hiervan.

Bothaville se CANSA-vrywilligers en die Westelike Posduifunie het hande gevat en só is die projek “Wings for CANSA” gebore. Met dié projek gaan daar gepoog word om geld in te samel en elke sent gaan vir die bestryding van kanker.

Jy kan help!

Die vraag is nou, hoe is die duiwe betrokke by dié projek en hoe jy kan help?

 wings-of-cansa.jpgMaak nie saak waar jy woon nie, jy kan deel wees van die projek. Dit is baie eenvoudig. Jy koop ʼn kaartjie vir R100 (jy kan ook meer koop) en jou kaartjienommer word dan aan ʼn duif se ring aangebring.

Saterdag 25 Augustus is dan die groot dag! Die wedvlug word aangebied by Drie Susters en strek oor ʼn afstand van om en by 600 km. Daar is ʼn hele paar deelnemende wedvlugklubs wat deel is van die inisiatief en sluit in dorpe soos Mafikeng, Lichtenburg, Klerksdorp, Ventersdorp, Koster, Potchefstroom, Stilfontein, Viljoenskroon, Bothaville en Wesselsbron.

Die wenduif sal die een wees wat hierdie afstand die vinnigste na sy hok aflê. Die afstand na elke duif se hok word afsonderlik gemeet om sodoende die korrekte afstand te bereken. Dié berekenings word deur elke klub self gedoen en deur onderskeie owerhede in wie se jurisdiksie die klubs is, nagegaan. Daar sal gepoog word om die uitslae binne sewe tot tien dae bekend te maak.

Benewens jou bydrae deur ʼn duif te borg kan jy ook self die dag bywoon. “Wings for CANSA” se duiwe word op dieselfde tyd en plek losgelaat as die provinsiale wedvlug wat die Noorwes-streek aanbied. Dit beloof om ʼn ongelooflike ondervinding te wees.

Daar is verskeie pryse, van kontant tot geskenkpakke, wat gewen kan word. As jou duif die wenduif is, kan jy wegstap met R10 000.

Wil jy deel word van die opwindende projek? Stuur e-pos na Johan Weyers by [email protected]  of skakel 083707800 vir jou kaartjie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.