Carel Boshoff oor ereleerstoel: ‘Alles is beslis nie verlore’

Carel Boshoff, hoof van die Vryheidstigting, is as die eerste bekleër van Akademia se NP van Wyk Louw-ereleerstoel aangewys. (Foto: Verskaf)

Carel Boshoff, hoof van die Vryheidstigting, is Donderdag as die eerste bekleër van die NP van Wyk Louw‑ereleerstoel aangewys.

Die Afrikaanse private hoëronderwysinstelling Akademia het besluit om ereleerstoele soos hierdie te vestig met die doel om die akademiese statuur van die instelling uit te bou; om die kultuur van navorsing aan Akademia verder aan te wakker en te versterk; en om die opvoedingsideaal van Akademia te ondersteun.

Die NP van Wyk Louw‑ereleerstoel in kultuurkritiek is vanjaar in samewerking met die FAK gevestig en Boshoff staan nou aan die hoof van dié ereleerstoel. Die nuwe amp wat Boshoff nou beklee, kan met dié van ’n ereprofessoraat vergelyk word.

Die amp hoop om kritiese denke aan te moedig oor die kultuur van die Afrikaner, met vrae oor die waarde, toekoms en plek van die Afrikanerkultuur binne die breër Suid-Afrikaanse konteks.

Boshoff het self al ’n lang pad met NP van Wyk Louw gestap. In 2014 gee die FAK Boshoff se boek, NP van Wyk Louw en die derde Afrikaner, uit, waarin Van Wyk Louw se kulturele denke uitgebou en op ons eie tyd toegepas word. Die boek word beskryf as ’n gesprek tussen twee denkers wat mekaar nooit ontmoet het nie, maar wat dieselfde vraag stel.

Boshoff het al verskeie ampsposisies beklee, waaronder as lid van die Noord-Kaapse wetgewer. Hy het ook ’n meestersgraad in Kultuurgeskiedenis behaal, waarna hy aangegaan het om aktief aan die politiek deel te neem. Boshoff is deurlopend betrokke by aktivistiese veldtogte ten einde die Afrikaners se saak op die openbare verhoog te bevorder.

“Ons (Afrikaners) het ’n aantrekkingskrag tot selfstandigheid wat ’n lewenswyse word wat ons in staat stel om te presteer. Selfstandigheid is ons identiteit.

“Ons (Afrikaners) het trots verwar met arrogansie en ons het wyse manne en vroue nodig, onlosmaaklik nodig, wat gewortel is in Afrikaans. Ons het jou wyse stem nodig,” het dr. Danie Langner, die besturende direkteur van die FAK, by die geleentheid gesê.

Boshoff het gedurende sy inhuldigingstoespraak gesê Afrikaners moet soos Van Wyk Louw nasionalisme uit ’n liberale hoek benader. Hy het voorspraak gemaak vir ’n Afrikaneridentiteit wat gewortel is in ’n ryke tradisie, maar wat ook ontvanklik is vir die verskeidenheid van verskillende uitings wat hierdie tradisie oplewer.

“As ons nie ons eie bestaansvoorwaardes voorsien nie, gaan niemand dit vir ons doen nie.

“Alles is nie verlore nie, want wat ons kan dink, kan ons doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.