Caroline-Grace gesels oor haar tuimelritjaar, en wat voorlê

Caroline-Grace Brüssow, haar man Heinrich en baba Marcel. (Foto: Verskaf)

Ons word gou oortuig ons is die enigste skrywers in beheer van ons lewensreis, terwyl 2020 vir ons die teendeel kom wys het. Sangeres Caroline-Grace Brüssow en oud-Springbok Heinrich Brüssow moes vanjaar hul eie storie aanpas, maar nou, ná ’n jaar, verstaan Caroline waarom.

Uit haar skoonouers se huis in Keerbos, Wes-Kaap, gesels Caroline-Grace oor hul aanpassings as gesin hierdie jaar – haar tweede swangerskap, baba Marcel, ’n nuwe dorp, en Heinrich wat tuis is.

Vir die eerste keer ná byna agt jaar trek die Brüssows in hul eie huis in. Caroline verduidelik weens Heinrich se rugbyrooster in Japan het dit nie sin gemaak om ’n huis in Suid-Afrika te hê nie en het hulle in ’n woonstel op haar ouers se erf in Bloemfontein gebly.

“Dit was altyd moeilik. Of ek was by my ma-hulle of oorsee, of by my broer in Pretoria of by my skoonma. Ek het nooit regtig ’n huis gehad waarheen ek kon gaan nie. Dit gaan vir my so lekker wees om te weet as ek ’n naweek gesing het, gaan ek terug na my huis toe.”

George is nou huis vir hulle.

“Dit was Heinrich wat met die idee gekom het. Ek dog eers hy grap. Maar hy gaan ’n nuwe lewe moet begin (ná sy rugbyloopbaan) en hy is mal oor bou. Hy het sy lewe lank huise gekoop, reggemaak en verkoop. Hy is baie lief daarvoor. Hy het daai geleentheid gesien in George.”

Volgens haar gaan sy nooit moeg raak vir die berge nie en voel George en sy mense baie soos Bloemfontein: vriendelik. Sy voeg wel by dat die grootste aanpassing die weer is, “want in Bloemfontein was dit of warm of koud, hier is dit alles!”

Heinrich en klein Marcel. (Foto: Verskaf)

Vir Caroline was die nasionale grendeltyd ’n genadetyd gewees.

Met Heinrich wat vir eers klaar is met rugby en nou die boubedryf betree, is hulle meer as ooit bymekaar.

“Dit was soos paradise. Ek en Heinrich was vir ’n lang tyd nie heeltyd by mekaar nie, dit was die eerste keer dat ons as familie saam kon wees – die heeltyd. Ons het tyd gehad om Marcel beter te kon leer ken. Jy leer nogal jou kind ken as jy 24 uur van die dag by hom is,” sê sy laggend.

Hoe is eerste keer Ma-wees?

“Dit is ’n voltydse werk! Maar dit is wonderlik. Mens leer baie. Dit is so lekker om die verskillende fases waardeur hulle gaan, te sien – dit is baie bevredigend. Die liefde wat jy van hulle af kry is net die beste ooit.

“Maak tyd vir jouself en weet as ’n ma gaan jy soms foute maak,” is Caroline se raad aan nuwe ma’s.

“As ma moet jy nie te hard op jouself wees nie. Mens wil die beste mamma wees, maar partykeer kan jy jouself te ver druk. Hê bietjie genade vir jouself. Jy is nie perfek nie en as ’n ma gaan jy foute maak. Dit is vir jou ook ’n leerproses. Maak ook tyd vir jouself, ek weet dit is nie vir almal beskore nie, maar dit is ook nodig. Die pappa moet ook help.”

Die byna eenjarige Marcel is baie lief vir sy pa, vertel Caroline. Sy verduidelik Heinrich is baie hands-on met jong Marcel, wie ook binnekort ’n sussie gaan kry. Die Brüssows verwag hul tweede kind, ’n dogtertjie, volgende jaar Maartmaand.

En as ma van byna twee, hoe balanseer sy ma-wees en haar loopbaan as sangeres?

Caroline-Grace op die verhoog. (Foto: Verskaf)

’n Kort stilte volg. Sy is bewus dat sy nog nie hierdie jaar op die verhoog was nie.

“Werk is tans ’n moeilike ruimte. Ek het vir Marcel gehad, toe is ek uit die bedryf. Dit was in Maart, toe ek net weer sou begin optree het, toe die grendeltyd begin. Dit het my nog langer uit die bedryf gesit. Ek is só gereed om weer te sing en aan te gaan.”

Weens haar tweede swangerskap – wat nie heeltemal beplan was nie, maar waaroor sy dankbaar en opgewonde is – sal sy eers in Julie 2021 weer voluit aandag aan haar loopbaan kan gee.

Vir Caroline en baie ander mense wêreldwyd het 2020 opnuut vir ons gewys dat hoewel ons hard werk en bydra tot ons lewenspad, is daar ’n ander Mag wat ons lewe stuur. En wanneer Caroline terugkyk, verstaan sy wat sy dié jaar moes leer.

“Die Here weet hoe gedrewe ek is. Mens het nog drome wat jy wil hê vervul moet word en dan gooi die lewe jou ’n curve ball en dan kan jy nie daai drome so vinnig bereik soos wat jy wil nie. Ek moes net weer leer om geduldig te wees, en te berus by waar ek nou is.”

“Dit is moeilik, en daar is uitdagings. Ek wou nou my musiek opneem en uitbring en nie wag tot volgende jaar nie, maar die Here het gewys dit was duidelik nie die regte tyd nie.

“Die Here wou my net weer kom leer: ‘Hou op om self in beheer te wil wees’.”

“Daar was darem ook hoogtepunte,” vertel Caroline en lag uit haar maag.

“Jy voel so bietjie verlore omdat jy nie nuwe musiek uitbring nie, dan kom die Here en seën jou met geleenthede”.

Caroline-Grace Brüssow en Len Muller. (Foto: Verskaf)

Hoewel optredes tans skaars is, en sy reeds ’n aanlynvertoning gehad het, sien sy uit om in Desember weer op die verhoog te wees. Daar is ook nuwe enkelsnitte op pad wat sy hoop om in Januarie op te neem. Sy skryf saam met verskeie liedjieskrywers en kan nie in dié stadium baie meer uitbrei nie, maar voeg dan by dat ’n liedjie wat sy saam met Len Muller geskryf het, “net een van daai songs is wat praat met my hart”.

Is haar enkelsnitte geïnspireer deur haar ma-wees of vanjaar se aanpassings?

Wanneer dié voormalige deelnemer van The Voice SA wel op die verhoog sing, kom jy gou agter dít is haar gawe. (Foto: Verskaf)

“Mense moenie verwag ek gaan sing oor my lewe nie. Ek gaan eerlik wees, ek is nog nie daar nie. Om te sing oor jou kind, is ’n baie spesiale ding, iets wat baie na aan jou hart is – dit is ’n moeilike ding om oor te skryf, mens kan amper nie die woorde vind nie. Dis iets wat op sy eie tyd kom, ek is nog nie daar nie.”

Sing sy vir Marcel?

Caroline vertel sy is bietjie van ’n introvert wanneer dit kom om voor familie te sing.

Kan Heinrich sing?

“Nee,” sê sy laggend, maar voeg vinnig by, “maar hy kan hier en daar ’n noot hou. Dit is baie snaaks, hy sing meer as ek.”

Maar wanneer dié voormalige deelnemer van The Voice SA wel op die verhoog sing, kom jy gou agter dít is haar gawe. Sy bevestig dit wanneer sy sê:

“Ag, ek wil nét sing!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.