Cat Heaven: Kom geniet ’n koppie koffie saam met jou (s)kat

Valerie Steinmann is die vrou agter Cat Heaven en saam met haar span versorg hulle 22 permanente inwonende katte. (Fotoo: Verskaf.)

Deur Yolanda Taylor

Cat Heaven, geleë by Brightstraat 35, Somerset-Wes, is waarlik ’n paradys vir enige katteliefhebber. Ek was aangenaam verras toe ek net voor die afsonderingstydperk daar ’n draai kon maak. Ek het in verwondering alles besigtig en dit was werklik ’n besonderse ervaring en ’n moet-doen-besoek. Die behulpsame personeel kwyt hul goed van hul onderskeie take en het my vriendelik rondgewys.

Die eienaar, Valerie Steinmann, tesame met haar bekwame span, is die moeder van twee-en-twintig permanent inwonende katte. Dié niewinsgewende organisasie het sy deure geopen op 1 Junie 2018. Die inkomste word gebruik vir katkos, veeartsbesoeke  en versorging van die katte. Die geld wat oorbly, word geskenk aan ander dierewelsynsorganisasies.

Valerie se liefde vir katte, veral welsynkatte, oorskry alle grense en ná twee dekades se reise, waar sy veral geïnspireer is deur Asië, waar katkafees ’n algemene verskynsel is, het sy besluit om Suid-Afrika se eerste katkafee te open.

“Ek en my man het nie kinders nie en is versot daarop om te reis. Op dié reise het katte dikwels my pad gekruis tydens ons nomadiese leefstyl in die Suidelike en Noordelike Halfrond. In Thun, Switserland, het ek my eerste ware katteliefhebber-winkel ontdek. Ek was betower deur die ervaring en dit is hier waar my idee vir so ’n winkel in my tuisland ontstaan het. Ná vier besoeke aan Japan het ek geweet ek moes net hierdie droom bewaarheid. Dit is ’n voorreg om my drie liefdes, naamlik reis, katte en shopping, te kombineer – katte is voorwaar onontbeerlike kamerade.”

Valerie vertel dat die meeste katkafees oorsee rasegte katte het, Cat Heaven is anders omdat hulle poog om katte uit skuilings te red en só ’n verskil te maak.

“Daar is soveel pragtige katte wat in skuilings wag op ’n goeie huis, sonder dat jy ’n arm en ’n been hoef te betaal om een aan te neem en ’n gelukkige huis te gee. By Cat Heaven kan mense wel nie die kat aanneem om saam huis toe te neem nie, maar dit wys dat jy nie ’n rasegte kat hoef te koop om ’n pragtige, liefdevolle kameraad te hê nie.”

Danksy haar liefde vir dié akrobatiese spesie, is Cat Heaven die permanente tuiste van twee-en-twintig baie gelukkige katte. Op haar reise doen sy aankope vir die geskenkwinkel en bring die allermooiste goed terug. Van (s)kattige geskenke vir mense, boekies en skryfbehoeftes, hangertjies, ornamente, bordjies en koffiebekers tot T-hemde, kaartjies, serpe en legkaarte. Daar is tot vir katte self geskenkies – ’n redelike verskeidenheid speelgoed wat enige kat vir ure sal vermaak. Daar is werklik die oulikste geskenkies en ek as katteliefhebber het my omtrent vergaap aan die mooi goed. Daar is so ’n groot verskeidenheid en die een ding is ouliker as die volgende!

Sy het gewoonlik jaarliks gereis en was altyd op die uitkyk vir unieke kattegoed om na haar winkel te bring. Van die versamelaarstukke van Duitsland kan bewonder word waar dit uitgestal word in glastoonkaste.

Bo en behalwe die geskenkafdeling, is daar die Café, waar gaste koffie, tee, gaskoeldrank, koek, biltong en ander heerlike happies kan geniet terwyl jy uitspan onder die sambrele tussen die katte. (Let wel dat geen kinders onder 10 toegelaat word nie. Kinders onder die ouderdom van 14 mag binnegaan, maar onder die streng toesig van ’n volwassene.)

Dit is dikwels nie prakties moontlik vir almal van ons om katte te hê nie – soms weens ruimte of die plek waar ons woon – maar hier kan almal, ook veral bejaardes wat ’n kameraad mis in hul lewe, kom kuier en na hartelus saam met die katte kuier en weer eens die terapeutiese wonder van dieregeselskap ontdek en geniet. Hier kan jy rustig kom uitspan met ’n boek en koppie koffie of jou skootrekenaar en ongesteurd in die geselskap van katte kom werk.

“Dit is regtig ons missie dat mense die waarde van dierekamerade beleef en herontdek en hier kry hulle die geleentheid om gehaltetyd met ons inwonende katte te spandeer.”

Haar eie katte is ’n paar jaar gelede oorlede en dit is toe dat sy tot die besef en aanvaarding moes kom dat al haar allergieë en borsaandoenings (ná toetse) bevestig het dat sy hoogs allergies is vir katte.

“Ek het intussen ’n pragtige klein hondjie, Angel, aangeneem van ’n skuiling en dit is net die dierbaarste diertjie. ’n Mens kan nie sonder diere leef nie.”

Cat Heaven’s Rescue Café bied boonop die opsie van aanneming, waar jy as katteliefhebber ’n kat aanneem en ’n Paw Parent word vir ’n kat by Cat Heaven. Dit bied jou die geleentheid om jou kat na hartelus op ’n gereelde basis te besoek en gehaltetyd saam met hom/haar te spandeer teen ’n koste van R120 per maand. Dit sluit verskeie jaarlikse funksies in, foto’s en WhatsApp-nuus oor die kat wat jy aangeneem het en boonop hoef jy nie elke slag toegang te betaal nie.

Cat Heaven is enige kat se droom. (Foto: Verskaf.)

’n Plaaslike veearts, Dr. Mia Farr van die Animal Matters Veeartshospitaal in Somerset-Wes sê, “Dit is ’n groot beloning om ’n klein rolletjie te speel in die versekering dat hierdie spesiale mens-dier-band ’n langdurige een is.”

Sy besoek hulle maandeliks om seker te maak dat al die katte se inentings op datum is en dat hulle behandel word vir parasiete soos vlooie en wurms.

Ek het in verwondering rondgestap by Cat Heaven, want dit is voorwaar ’n paradys vir enige kat en katteliefhebber. Van die van die katte het lui-lui opgekyk, sommige het nuuskierig kom ondersoek instel en ander het verder geslaap. Hier leef hulle ’n gemaklike lewe in ’n veilige, rustige omgewing in ’n netjies omheinde en versierde binnehof. Dit is ’n lushof vir die oog met al die pragtige katmotiefdekor, aanhalings teen die mure, foto’s van al die katinwoners asook naamborde van die aanneemouers. Daar is ’n swetterjoel stimulerende speelgoed, ’n buitearea met ’n tuintjie met vars kattekruid en selfs ’n jungle gym.

Die lugversorgde volvloermatvertrek met sy krappale, klimrame, hoë en lae klim- en stapplekke, tientalle sagte bedjies op verskillende plekke en vlakke met boonop sagte musiek, maak dit beslis ’n plek waaroor menige kat sal droom!

Ek het ’n wyle hier deurgebring en die rustige atmosfeer is byna verslawend – sommige katte het kom kennis maak het en ander het verder in hul gemaklike bedjies geslaap.

Ek moet bieg ek is ’n volslae alurofiel, maar ek dink enige diereliefhebber moet ’n tydjie opsy sit en hier kom besoek aflê. Hulle is tans oop vir die publiek.

Van die jaarlikse gebeure is Internasionale Kattedag op 8 Augustus 2020 (die beplanning vir hierdie jaar is om ’n kunsveiling te hou); Cat Walk op 7 November 2020 (dit val jaarliks op die eerste naweek in November) en ’n Thanksgiving Paw-ty op 16 Desember.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Engela ·

Dis baie jammer hulle laat nie kinders onder tien toe nie. Sou graag my kleindogter, sy is vier, soontoe wou neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.