Centurion-mark ’n baken van hoop vir gemeenskap

Die eerste Centurion Gemeenskapsmark in Maart word op Vrydag 28 Mei met nog ‘n mark opgevolg. Die mark se doel is om plaaslike entrepreneurs ‘n hupstoot te gee. (Foto: Verskaf)

Driné de Bruyn het haar tuin op 26 Maart vir die eerste keer oopgegooi vir ʼn gemeenskapsmark en meer as 1 200 mense het die 60 stalletjies daardie aand kom besoek.

Dit nadat almal gewaarsku het ʼn mark van die aard sal hoogstens ʼn honderd besoekers kry, veral omdat dit die eerste keer aangebied word en boonop in drie weke gereël is en die weervoorspelling gewys het dit sou die aand nog reën.

De Bruyn, ʼn haarkapper van beroep en stigter van die niewinsgewende organisasie Time 2 Thrive, was egter nie verbaas oor die sukses van die mark nie. Sy het geweet God het ʼn plan daarmee.

“Ek het vroeër vanjaar besef net hoe swaar ons gemeenskap kry. As jy by ʼn kliënt, wat soos ʼn vriendin is, hoor haar onderneming moet dié keer werk of anders moet haar dogtertjie weer by haar pa gaan bly, of ʼn verpleegster vertel jou 90% van die mense wat sy sien, moet slaappille of antidepressante gebruik, weet jy daar is fout,” vertel De Bruyn.

Sy het ernstig oor die saak begin bid en gevra hoe kan sy help. God het vir ʼn haar die idee van die mark gestuur, wat plaaslike entrepreneurs ondersteun. Die mense kon gratis produkte en dienste uitstal en dit dan natuurlik ook verkoop. Boonop moes dit op 26 Maart aangebied word, presies ʼn jaar na die inperkingstyd aangekondig is.

(Foto: Verskaf)

“Ek het van God ʼn boodskap gekry dat Hy mense nodig het om op te staan vir die verandering en golf van genesing wat Hy in die land wil bring. Hierdie is ʼn manier om dit te doen.”

De Bruyn sê na die mark het sy soveel getuienisse gekry: “Die man van koffiestalletjie het die heeltyd vir my vertel dit is ʼn wonderwerk; hy kon amper nie voorbly om koffie te verkoop nie. Ander uitstallers het twee tot drie kontrakte vir produkte en dienste by organisasies en maatskappye ontvang.”

In die tussentyd het talle borge aan boord gekom en ʼn tweede Centurion Gemeenskapsmark word nou vir Vrydag 28 Mei by Doxa Deo Raslouw in Celtisdal, Centurion, beplan.

Mense kan steeds gratis uitstal en besoekers kan uitsien na talle stalletjies met handgemaakte produkte, kos, koffie en koeldrank.

Leandie Bräsler. (Foto: Verskaf)

“ʼn Mark soos hierdie is deel van AfriForum se plan vir gemeenskappe. Jy kan ʼn verskil maak deur ʼn plaaslike entrepreneur te ondersteun, veral nadat die pandemie soveel werksgeleenthede geëis het,” verduidelik Leandie Bräsler, bestuurder van AfriForum se jeugleierskapontwikkeling. AfriForum is een van die borge vir die dag en het talle projekte ontwikkel wat entrepreneurskap help. Bräsler is ook ʼn sangeres en sal by dié mark sing.

Sy glo ʼn mark soos hierdie kan na elke dorp en selfs na woonbuurte uitgebrei word.

“Ons moet self inspring om mense te help en ons gemeenskappe sterkter te maak,” voeg sy by.

“Enige iemand kan kom en ons sal tot op die nippertjie probeer om uitstallers te akkommodeer. Ek vra mense, kom ondersteun mekaar en vier jou gemeenskap na die inperkingstyd,” sê De Bruyn.

Bring ʼn kombers of kampstoel saam en kom smul aan die heerlike kos of geniet ʼn lekker koffie onder die sterre terwyl jy na mooi musiek luister en terselfdertyd jou plaaslike gemeenskap ondersteun.

Die tweede Centurion Gemeenskapsmark vind van 16:00 tot 21:00 op Vrydag 28 Mei by Doxa Deo Raslouw in Alettastraat in Celtisdal, Centurion, plaas. Alle Covid-19-maatreëls sal gehandhaaf word.

  • Bel gerus vir Driné of Retha by 083 279 9942 of 082 872 9774 vir meer inligting oor dié mark.

(Grafika: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.