Chemie-dosent trap 600 km fiets vir student

Dr Marietjie Lutz voor haar eerstejaars-chemieklas by die Universiteit Stellenbosch (Foto: Stefan Els)

Dr. Marietjie Lutz, ’n chemiedosent aan die Universiteit Stellenbosch, pak ’n ambisieuse projek aan om geld in te samel vir voorgraadse BSc-studente wat deur finansiële uitdagings in die gesig gestaar word. Sy gaan gedurende die Paasnaweek die pad tussen George en Stellenbosch per fiets aandurf en ongeveer 600 km oor slegs ses dae aflê.

Lutz sê die inspirasie om hierdie projek aan te pak het gekom nadat sy in 2022 maniere probeer vind het om ’n skrander eerstejaar BSc-student in haar klas te help – die student was op die randjie van haweloosheid en honger. “Ten spyte van geweldige finansiële stres het hierdie vasberade student akademies uitgeblink en was ’n toonbeeld van veerkragtigheid en deursettingsvermoë”.

Lutz het toe besef sy kan haar passie vir fietsry inspan – sy hét immmers, onder meer, die Cape Epic in 2016 en 2017 voltooi – om studente te bemagtig wat toegewyd is aan hul studies, maar nie die finansiële hulpbronne het om die reis te voltooi nie.

Met die ondersteuning van haar man en vier kinders, sal sy (hoofsaaklik op grondpaaie) vanaf George ry, deur Oudtshoorn, Calitzdorp, Riversdal, Swellendam, en Greyton tot op Stellenbosch. Hierdie unieke fondsinsamelingspoging sal oor die Paasnaweek, van 29 Maart tot 3 April, plaasvind.

Sy nooi diegene wat haar visie deel om geleenthede vir belowende studente te bied, om by te dra tot hierdie verdienstelike saak.

Om die Wheels of Opportunity-inisiatief te ondersteun, kan belangstellendes bydra deur die GivenGain-platform.

“Elke bydrae, hoe klein ook al, sal ’n betekenisvolle impak maak op die lewens van studente wat streef na uitnemendheid, kom wat wil.”

Indien jy saam wil trap of die saak op enige anderder wyse wil ondersteun, kan jy haar direk kontak by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.