Choc wil internet goud ‘verf’ vir kinderkankermaand

Lipbalm wat deel is van Choc se spesiale reeks swart en goue handelsware (Foto: choc.org.za)

As deel van Kinderkankerbewusmakingsmaand het Choc, die kinderkankerstigting van Suid-Afrika, besluit om vanjaar hoop te skep met ʼn spesiale reeks swart en goue handelsware wat in hul aanlyn winkel beskikbaar is.

Dit bestaan uit ʼn versameling gesigmaskers, gesigsokkies (buffs), hemde, sakke en polsbandjies wat ter viering van die bewusmakingsveldtog bekendgestel is.

Die Choc-span doen ʼn beroep op ondersteuners om sosiale media goud te “verf” met selfies en die hutsmerke #BeBoldGoGold, #SupportKidsWithCancer, #Gold4Hope en #RaiseYourHands4Survivors.

(Foto: CHOC Childhood Cancer Foundation SA/Facebook)

“Het jy al ʼn kilometer in die skoene van kankerfamilies gestap? Ons wil jou uitdaag om die pad saam met Choc te stap,” sê Taryn Seegers, Choc se kommunikasiebestuurder. “Jy kan ’n verskil in iemand se lewe maak deur deel te neem aan ons Gaan goud-veldtog.”

In September word kinderkanker wêreldwyd in die kollig geplaas met die doel om hoop te skep vir pasiënte en geliefdes wat hierdeur geraak word. Die veldtog poog verder om ʼn positiewe toekoms vir jong kankerlyers te bewerkstellig.

‘n Gesigsokkie (buff) wat deel is van Choc se spesiale reeks swart en goue handelsware (Foto: choc.org.za)

“Diegene wat nog nie ʼn kind se kankerdiagnose moes trotseer nie, is gelukkig. In Suid-Afrika sal een uit elke 500 kinders nie so gelukkig wees om ʼn kankerstryd vry te spring nie,” vertel Seegers.

Choc is ʼn internasionaal geregistreerde, niewinsgewende organisasie wat fokus op ondersteuning van kinders, en hul families, wat ʼn stryd voer teen kanker of ander lewensbedreigende, bloedverwante siektes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.