Onderwysers, leerders én ouers van die Club21-leersentrum vir kinders met Down se sindroom het op 1 September karnaval gehou ter viering van Loslitdag, die land se grootste nasionale geldinsameling ten bate van mense met gestremdhede.
Maroela Media het vroeër berig dat dié uiters unieke skool, wat kampusse in Pretoria, Polokwane en Helderberg in die Wes-Kaap het, sedert 2012 in die opvoeding en ontwikkeling van mense met Down se sindroom spesialiseer, en jongmense met Down se sindroom selfstandig wil maak om die wêreld daarbuite te betree.
Volgens Amanda Fourie, hoof van die Club 21-leersentrum, is daar besluit om die Loslitdag-tema vir 2023, “Deel ʼn glimlag”, behoorlik ter harte te neem en boonop die skool se ouers ook deel van die pret te maak.
Daarom is daar vanjaar ʼn verskeidenheid van opwindende aktiwiteite en speletjies aangebied wat vir talle glimlaggende gesiggies onder oud én jonk gesorg het.
Benewens die smullekker kos, wat springmielies en spookasem ingesluit het, het die skool se eie “Musiekfabrieke” verder gesorg vir agtergrondmusiek om ʼn eg karnaval-gevoel te skep.
“Die karnavaldag het ʼn geleentheid geskep vir die skool om sy bande met die ouers en gemeenskap te versterk. Die ouers, en selfs grootouers, het aktief deelgeneem aan van die aktiwiteite wat baie pret en vermaak vir die toeskouers veroorsaak het,” sê Fourie.
- (Foto: Verskaf)
- (Foto: Verskaf)
“Almal wat die Club 21-karnaval bygewoon het, kan getuig dat elkeen deurgaans ʼn groot glimlag gehad en gedeel het.”
Die helfte van die fondse wat deur dié skool vir Loslitdag ingesamel is, sal aan die Nasionale Raad vir Persone met Gestremdhede (NRPG) geskenk word.
Boekebos steeds aan die bou
Sedert drie mammas van die Club21-leersentrum in Februarie vanjaar die saadjie geplant het om ʼn biblioteek vir dié skool op te rig, het skole, sakeondernemings, uitgewers en vrywilligers ingespring om hul droom te help bewaarheid.
Twee vragskiphouers word tans stuk-stuk opgerig en mooigemaak, terwyl duisende geskenkte boeke uitgesorteer word om binnekort as die blinknuwe “Boekebos-leessentrum” vir dié skool ingerig te word.
Die eerste sooi is in April by die skool se perseel in Centurion gespit, en met goedkeuring van die stadsraad sal die vragskiphouers binnekort op die skoolgronde geplaas word.
Die skool bied ook op 26 September sy jaarlikse gholfdag, wat sy grootste geldinsameling is, by die Waterkloof Gholfklub aan. Sakeondernemings en gholfliefhebbers word aangemoedig om dié geleentheid te ondersteun.
- Vir besprekings, inligting, of om pryse te borg vir die Club21-gholfdag, stuur ʼn e-pos na [email protected]
- Stuur ʼn e-pos aan Eugene Lottering na [email protected] indien jy graag items aan Club21 se Boekebos wil skenk. Tree eers met die projekspan in verbinding voordat enige aankope gedoen word.
- Kyk Maroela Media se video oor Club21 se sooispit-seremonie hier:
Mag julle van krag na krag gaan!
Dis wonderlik om te sien hoe instansies groei, dit terwyl ons landgenote niks op die been kan bring nie.