Comrades-medalje vir chirurg wat sy lewe red

Prof. Kenneth Boffard, De Wet, Alet Van Tonder, Endri Kretsenger en Zasskia Wiese van Netcare Milpark (Foto: Verskaf)

Die 35-jarige Danie de Wet wat vroeër dié maand die Comrades-marathon voltooi het nadat ʼn fratsongeluk drie jaar gelede byna sy lewe geëis het, het vandeesweek sy Comrades-medalje aan die traumachirurg wat destyds sy lewe op die operasietafel gered het, oorhandig.

De Wet is op 10 Januarie 2015 deur ʼn 1,8 m lange koevoet van sy lies tot sy linkerskouerblad deurboor. Dié ingenieurstoesighouer en reddingswerker by die Sibanye-goudmyn buite Carletonville in Gauteng was met verlof toe hy op die spesifieke dag gevra is om by die myn te help. Wat veronderstel was om ʼn doodgewone werkdag te wees, het sy lewe “totaal verander” – maar nét ten beste.

De Wet het die Comrades-marathon, wat vanjaar tussen Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal gehou is, in net 11 uur 30 minute voltooi; ʼn uitdaging wat hy gedink het hom ná die ongeluk nooit beskore sou wees nie, daarom ag hy dié prestasie as een van die grootste ooit in sy lewe.

“Die marathon was ongelooflik straf – ek moet dit erken,” sê hy. “Toe ek die 60 km-punt haal, het ek absoluut uitgeput gevoel, maar my vrou en soveel ander wat my ondersteun het, het my krag gegee om die marathon te voltooi,” vertel hy.

Danie en sy vrou Lizl.

Hy wou dié medalje aan prof. Kenneth Boffard, direkteur van Netcare Milpark se trauma-eenheid, oorhandig vir elke ander lewe wat Boffard volgens hom “ingrypend verander het”. “Hierdie medalje kom nie net van my af nie. Ek praat namens soveel ander pasiënte wat by die Netcare Milpark-hospitaal se trauma-eenheid behandel is. Ek wil elkeen, onder wie die paramedici, traumachirurge en -verpleegsters én al die ander gesondheidspraktisyns, bedank vir die professionele en sorgsame manier waarop ek behandel is, en dat julle jul lewe daaraan wy om ander lewens te red.”

Boffard, ook die sekretaris-generaal van die International Society of Surgery, het na De Wet as ʼn buitengewone pasiënt verwys – een wie se “merkwaardige herstel” vir internasionale hoofopskrifte gesorg het.

“Toe ons hom behandel het, so ʼn ruk voordat hy ontslaan is, het ek met De Wet gepraat en vir hom gesê: ‘Jy is nou op die herstelpad en ek wil vir jou ʼn uitdaging gee. Voor die ongeluk was jy ʼn drawwer en ook ongelooflik fiks. Nou gaan jy gesond word – en die probleem met gesond word, is die verantwoordelikheid wat daarmee gepaardgaan. Een van daardie verantwoordelikhede is my uitdaging: Ek daag jou uit om weer die Comrades-marathon te hardloop.’ En hy het my ernstig opgeneem.”

Boffard het ook aan die familie ʼn glaskunsbeeld wat ʼn trop olifante uitbeeld aan De Wet oorhandig. Op die beeld staan: “Hiermee erken ons Daniël en Liezl de Wet en hul familie wat ʼn uitdaging aanvaar het en ʼn voorbeeld is vir almal op hul onderskeie herstelpaaie.”

‘n X-straal wat wys hoe die koevoet Danie deurboor het.

Danie de Wet en sy vrou, Lizl. Foto: Facebook

Danie de Wet in die hospitaal. Foto: Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

B ·

Sjoe – geluk en wat ‘n pragtige gebaar.

Dankie MM dat julle hierdie opgevolg het.

Johan ·

Ja dankie vir opvolg – het gewonder hoe Danie gedoen het. Welgedaan Danie en so ook Prof Boffard. Mooi storie om die naweek in te gaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.