Comrades-uitdaging skep hoop vir vrou ná ongeluk

Cornelia Raath Lötter. (Foto: Verskaf)

Meer as 13 000 mense wêreldwyd het Sondag aan die Comrades-marathon se virtuele Centenary Hope Challenge-resies deelgeneem.

Cornelia Raath Lötter (51) van Montana in Pretoria is een van dié mense wat ʼn afstand van 5 km afgelê het as deel van die Comrades se viering van sy 100ste bestaansjaar.

Cornelia woon in die Fleurenville Bejaardesorgsentrum, waar sy die jongste inwoner is. Sy het hier ingetrek nadat sy in 2015 ʼn beroerte gehad het wat haar hand verlam gelaat het. Sy het ook haar man in 2016 aan die dood afgestaan.

ʼn Lang lewe van teleurstelling en pyn lê agter haar, vertel Cornelia, en daarom wou sy met die stap van die Centenary Hope Challenge hoop skep vir haarself én vir ander.

Cornelia vertel sy was ʼn professionele elektroniese ingenieur wat daarvan gehou het om in haar vrye tyd die adrenalien deur haar are te laat pomp met aktiwiteite soos motorfietsry, brug- en valskermspronge.

“Geen uitdaging was te groot vir my nie,” sê sy oor haar lewe, wat op Werkersdag in 1996 handomkeer verander het toe ʼn bejaarde ʼn stopteken verontagsaam het en vir Cornelia op haar motorfiets getref het.

“Ek is afgegooi, my helm het afgekom en my skedel is gebreek met die trefslag teen die randsteen. Volgens ʼn ooggetuie was my oë omgedop; ek was blou in die gesig en het nie asemgehaal nie. Hy het daar mond-tot-mond-asemhaling op my toegepas, maar ek was so te sê dood.”

Van links na regs: Matrone Estelle Dannhauser, Heidi Sephton, Cornelia Raath Lötter en Jan Heystek. (Foto: Verskaf)

Hoewel sy lid van ʼn goeie mediese fonds was, is sy na ʼn staatshospitaal geneem. Daar het sy langer as 24 uur sonder mediese sorg gelê en eers die dag ná die ongeluk – op aandrang van die ooggetuie wat intussen na haar kom soek het – ʼn operasie ondergaan vir die skedelbreuk en breinbloeding wat sy in die ongeluk opgedoen het. Sy was daarna weke lank in ʼn koma.

“Omdat ek ʼn dag gelos is voordat ek die regte mediese aandag gekry het, het ek geweldige skade opgedoen. Ek moes weer heel onder begin en soos ʼn babatjie leer kruip, loop en praat. Dit het agt jaar geneem voordat ek weer tot by tien kon tel,” vertel Cornelia.

Sy het ná die ongeluk 58 operasies ondergaan om haar gebroke liggaam te herstel, maar dit het haar nie gestuit om nog tot 2013 saam met haar man en die Christian Motorcyclists Association motorfiets te ry nie.

Sedert sy by die Fleurenville Bejaardesorgsentrum woonagtig is, word sy deur Heidi Sephton behandel. Heidi is ʼn arbeidsterapeut wat drie oggende per week die inwoners van die sorgsentrum bystaan met hulpmiddels en aanpassings asook kognitiewe en sensoriese stimulasie.

“Die inwoners raak afgestomp, veral nou in die Covid-19-tydperk waartydens die bejaardes glad nie mag uitgaan nie. As die kinders kom kuier, is dit ook net ʼn kort tydjie. Hulle vryetydsbesteding is die sleutel tot hulle emosionele welstand en voorkom dat hulle agteruitgaan.”

Tydens Cornelia se terapiesessies het Heidi voorgestel dat sy begin stap. Cornelia was vuur en vlam om aan die Centenary Hope Challenge deel te neem.

Heidi en Cornelia. (Foto: Verskaf)

“Weens haar verliese en omstandighede voel Cornelia dikwels asof niks in die lewe vir haar hoop gee nie,” vertel Heidi. Sy het veral in die afgelope paar maande ʼn hegte band met Cornelia gesmee.

“Ek was aan die begin versigtig met die idee van stap, omdat Cornelia soveel beserings opgedoen het. Sy het egter elke oggend wanneer ek aan diens was by die aftreeoord by die hek vir my gestaan en wag sodat ons kan gaan stap.”

Daar was wel dae wanneer die pad baie lank en swaar geraak het vir Cornelia terwyl sy vir die Centenary Hope Challenge geoefen het.

“Sy sukkel met asma en haar lyf raak met tye baie moeg en seer, maar sy het deurgedruk. Die uitdaging het vir haar ʼn doel en ʼn doelwit gegee. Dit het nie net vir haar hoop gegee nie, maar ook vir ander en sy het selfs van haar mede-inwoners by Fleurenville geïnspireer om saam met haar te stap.”

Cornelia was Sondagoggend ná afloop van die sorgsentrum se kerkdiens om 09:30 slaggereed om die pad te vat. Sy het die afstand van 5 km in net onder ʼn uur voltooi.

Volgens Heidi was dit ʼn baie spesiale geleentheid en het die ander inwoners van die sorgsentrum vir Cornelia met pannekoek en koffie ingewag.

“Die inwoners het buite in die son gesels en gelag terwyl hulle vir Cornelia gewag het. Ons het boeremusiek gespeel en koffie gedrink en daar was net ʼn heerlike gees in die lug,” vertel Heidi.

“Twee van die sentrum se bestuurslede het saam met Cornelia gestap en hulle sê sy het só flink gestap dat sy nie eens by die halfpadmerk wou stop om te rus nie.

Die dag is gevier met pannekoek en koffie. (Foto: Verskaf)

“Sy het op die rolbalbaan van die sentrum klaargemaak en twee van die inwoners het vir haar ʼn lint gehou om deur te stap. Dit was hoendervleismooi en ons is verskriklik trots op haar.”

Cornelia vertel die stapgogga het haar behoorlik gebyt en dat sy dadelik weer in die pad gaan val om te oefen vir volgende stapuitdagings, soos die Spar Women’s Race wat op 26 September plaasvind.

“Dit gee vir my betekenis en maak my trots dat ek ʼn mylpaal soos die Comrades se 5 km-uitdaging kon behaal. Dit was ʼn baie geseënde staptog gewees en daar was geen manier dat ek sou kop uittrek voor die uitdaging nie.”

Sy sê sy het die Donderdag voor die resies ʼn asma-aanval gekry. “Selfs dit sou my nie keer nie. Ek het geweet die Here sal my deur die staptog dra.”

Die stappery gee haar nuwe moed, sê Cornelia. “Geestelik en fisiek doen dit my baie goed. Psigies ook – ek sukkel met depressie en dit help baie om my kop skoon te kry. Heidi is die wonderlikste terapeut wat my behoeftes raakgesien het en uit haar pad gegaan het om my te help.”

Klik hier om meer uit te vind oor Cornelia se storie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pandora

Welgedaan! Dis so wonderlik om te lees hoe daar nog iemand is wat vasbyt ten spyte van struikelblokke en Cornelia se struikelblokke is GROOT! Ook groot waardering vir die aftree-oord wat aan haar die geleentheid bied om by hulle in te woon al is sy nog onder 60.

Cornelia

Dankie vir die pragtige artikel Leonie Bezuidenhout,.
Alle Eer aan God