Covid-19 bied dalk Moeder Aarde ‘n blaaskans

Besoedeling (Foto: pixabay)

Die Covid-19-pandemie het wêreldwyd mense, fabrieke, maatskappye en opvoedkundige instellings byna tot ʼn algehele stilstand gedwing.

Weens die Covid-19-beperkinge op ekonomiese aktiwiteite in China het Nasa en die Europese Ruimteagentskap (ESA) ʼn drastiese afname in stikstofdioksied (NO2) oor die land opgetel, dae nadat Nuwejaarfeesvieringe vroeg Februarie tot ʼn einde gekom het. ʼn Troposferiese moniteringsinstrument het aangetoon dat daar in oostelike en sentrale China ʼn daling van 10% tot 30% van NO2 was teenoor dieselfde tydperk verlede jaar.

Kan dié voordeel van Covid-19 op die omgewing, soos in die geval van China, uitkring na ander lande namate maatreëls vir selfafsondering toeneem en mense binnenshuis moet verkeer?

Andrea Weiss van die Wêreldnatuurfonds Suid-Afrika (WWF) sê dit is nog te vroeg om te bepaal watter uitwerking Covid-19 op die omgewing en natuurlewe het of gaan hê.

Omgewingskenners het dit wel eens dat Covid-19 opnuut aan die mens uitwys watter wesenlike invloed ons op die omgewing het.

Prof. Juaneé Cilliers, hoof van stads- en streeksbeplanning by die Noordwes-Universiteit, verwys na twee gegewens wat die mens se invloed op die aarde uitwys.

Die een is die Globale Risikoverslag van 2019 wat jaarliks by die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos, Switserland, bespreek word. Dié verslag wys dat omgewingsrisiko’s die wêreld se grootste risiko tans is, in terme van waarskynlikheid dat hierdie risiko’s sal plaasvind, asook die uitwerking daarvan op die aarde.

Cilliers noem ook dat die mensdom tans 170% van sy natuurlike hulpbronne jaarliks opgebruik. Ons gebruik dus meer as wat die aarde kan genereer. Dié effek kan dalk nou afneem namate al meer mense gedwing word om tuis te bly.

“Ons kopersgewoontes het ʼn enorme uitwerking op die koolstofvoetspoor, die watervoetspoor en die afvalvoetspoor. Die mens se invloed is nou beperk deur sosiale distansiëring – ondernemings en nywerhede is nie in bedryf nie, en kan dus nie bydra tot verdere besoedeling nie,” wys Cilliers uit. “Weens Covid-19 is tele-pendel en afstandswerk ingestel as gesondheidsmaatreël. Maar dit is ook een van die maklikste en kostedoeltreffendste maniere om kweekhuisgas-uitlaatstowwe te verminder.”

Erge verkeersopeenhoping in Johannesburg. (Foto: Verskaf)

Verskeie maatskappye het hul werkers toestemming gegee om van die huis af te werk en selfafsondering toe te pas. Skole is ook sedert verlede week gesluit. Gevolglik is daar ʼn drastiese afname van motors op die paaie.

Volgens prof. Karen Esler, hoof van die departement van bewaringsekologie en entomologie aan die Universiteit Stellenbosch, is dit moeilik om te bepaal of minder motors op die pad minder besoedeling gaan voortbring. Esler meen ná die Covid-19-krisis gaan padverbruikers net weer terugkeer na hul oorspronklike roetine.

Daarom sê Cilliers mense moet herbesin oor hul daaglikse roetine.

Volgens Cilliers is dit belangrik om die invloed van die mens op die natuur te bestuur eerder as om die mens, in normale omstandighede, se toegang tot die natuur te beperk.

“Met bykans 8 miljard mense op aarde het dit ons elkeen se taak geword om beter na die aarde en ons omgewing te kyk. Ons het nie meer ʼn keuse nie,” sê Cilliers.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Niklaas

Die globale verliese weens geen of weinig produksie is onberekenbaar .Ongelukkig is lugbesoedeling sinoniem met nywerhede se werksaamhede. Dit toon egter , soos in lugfoto vergelykings duidelik gesien word , hoe erg besoedeling (veral in Sjina) voorheen was.

Johan Venter

Die presidente van baie lande, ook hier by ons in Suid-Afrika, sê ons sal moet verander, maar dit is als vaaghede, hoe, wat? Nie een van hulle erken dat die mens die natuur versaak het nie, dit nou buiten die aktiviste, nie dat hulle met als reg is nie.

Die presidente moet nie net wyshede en mooi woorde uiter nie, maar omdat die gebeure ‘n kentering in hul denke veroorsaak het, en hulle met ‘n passie glo dat hulle, hul regerings en hul ministers van omgewingsake die aarde kan dien soos wat Jehovah dit bestem het.

Bloedhond

My gedagte presies! Dankie Eunice Stoltz vir die uitstekende berig.