Covid-19: Dra wit vir dié op die voorgrond

Maak ’n wit strik uit enige soort materiaal en wys so jy gee om vir die medici aan die voorpunt van die koronavirus-geveg. (Foto: Verskaf.)

Die liefdadigheidsorganisasie Helpende Hand doen ’n beroep op die publiek om wit strikkies te dra om solidariteit te toon vir dokters en mediese personeel wat tans op die voorgrond werk om die nuwe koronavirus (Covid-19) te bekamp.

René Roux, Solidariteit Helpende Hand se adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie, sê die idee van dié gebaar is om soveel mense in die land, en hopelik die wêreld, sover te kry om vir hom of haar ’n wit strikkie uit enige materiaal tuis te maak, dit op sosiale media te plaas en dit dan elke dag te dra.

“Die bedoeling is om te wys ons dink en bid vir alle dokters en mediese personeel wat daagliks in moeilike omstandighede met pasiënte werk en aan die virus blootgestel word, terwyl daar onverpoos gewerk word om lewens te red en ’n entstof teen die virus te vind,” sê Roux.

“Ons land is tans in ’n donker plek, mense is onseker en bang. Maar net soos wat die Here ons hierdeur sal bystaan en ons rustig sal maak, stel Hy ook mense met die nodige vaardighede in plek om ons gesond te maak en siekes by te staan.”

Volgens Roux kan ouers die geleentheid gebruik om dié strikkies saam met hul kinders te maak. “Nie net kan dit jou kinders besig hou nie, maar dit leer hulle ook om om te gee vir ander, al kan hulle nie noodwendig die persoon ’n drukkie gee of met die persoon praat nie,” voeg sy by.

Dra jou wit tuisgemaakte strikkie met trots en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #WitStrik en wys vir ons mediese personeel wêreldwyd dat hulle werk waardeer word en dat hulle in mense se gebede is.

“Ons moet onthou, tye van nood gaan ook verby, maar die gedagtes wat jy by mense laat gedurende die tye bly ’n leeftyd. Ons bly positief, ons bly sterk en ons bly saamstaan as een groot Suid-Afrika om mekaar ook emosioneel en geestelik te ondersteun. Helpende Hand glo sterk daaraan om nie net arm en kwesbare mense fisiek by te staan en te ondersteun nie, maar ook geestelik en emosioneel,” sluit Roux af.

  • Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.