Covid-19 kon Afrikaanse debatskompetisie nié sink

Carien Bloem (voor, links) saam met die beoordelaars van vanjaar se virtuele Dink of Sink-debatskompetisie. (Foto: Verskaf)

Die burgerregte-organisasie AfriForum bied die afgelope vyf jaar al ’n uiters suksesvolle kompetisie vir onvoorbereide debatvoering, Dink of Sink, aan. Dié kompetisie is egter vanjaar soos baie ander kompetisies genoodsaak om die gewone formaat vir ’n virtuele formaat te verruil weens Covid-19.

’n Virtuele Dink of Sink-kompetisie is geskep en hoërskoolleerders kon steeds in spanne van drie lede, met die nodige Covid-19-regulasies van toepassing, inskryf en aan hierdie populêre kompetisie deelneem. Oor ’n tydperk van vyf maande is 55 inskrywings ontvang, waarvan 23 inskrywings vir die juniorafdeling en 32 inskrywings vir die seniorafdeling was.

“’n Nuwe plan is bedink en dis wonderlik dat Dink of Sink hierdie jaar steeds kon voortgaan en nie gesink het nie. Ons is baie bly oor al die inskrywings. Ons was maar bekommerd dat leerders onseker sal wees en dalk nie sou wou deelneem nie, maar ten spyte van ’n moeilike en onsekere skooljaar het leerders steeds bewys dat hulle aanpasbaar is en ’n behoefte het aan buitemuurse kultuuraktiwiteite,” sê Carien Bloem, bestuurder vir Onderwyssake by AfriForum.

Onderwerpe het net soos vorige jare oor aktuele sake gehandel en is uniek vir elke span ontwikkel sodra hul inskrywing aanlyn ingestuur is. Spanne moes hul debat dan opneem binne ’n sekere tydperk en weer op die Dink of Sink-webtuiste laai.

Inskrywings is van reg oor die land ontvang. Elke kategoriewenner is met ’n prys beloon, asook die junior en senior span wat met die hoogste punte op die telbord geëindig het.

In die junior kategorie het Hoërskool Linden se Simon Killian, Mia Marais en Natasha Dixon as die wenners uit die stryd getree. Die naaswenner was Helpmekaar Kollege se Andries de Kock, Zander Marais en Nelius van Graan

Drie Affies Minè Hermann, Megan Kruger en Kristie Güldenpfennig het weer eens met hul ‘vlymskerp tonge’ lekker geredeneer tydens die jaarlikse Dink- of -Sink-debatskompetisie. Hulle is as die land se beste senior debatspan by diè Dink-of-Sink- virtuele debatfees aangewys. (Foto: Verskaf)

In die senior kategorie het Afrikaans Hoër Meisieskool se Kristie Guldenfennig, Mine Herman en Megan Kruger as die wenners van dié debatskompetisie uitgeblink. Die naaswenners was Arnold Hattingh, Gabi dos Santos en Andries Harmse van Hoërskool DF Malan.

Bloem sê AfriForum hoop dat die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie volgende jaar weer soos oudergewoonte sal plaasvind in sy vier verskillende streke reg oor die land.

Die datums vir 2021 se Dink of Sink-streeksuitdunne lyk soos volg:

  • Suidstreek – Gasheerskool: Hoërskool DF Malan – 7 Mei 2020
  • Verre-Noordstreek – Gasheerskool: Hoërskool Merensky – 10 Junie 2021
  • Sentraalstreek – Gasheerskool: C&N Sekondêre Meisieskool Oranje – 5 Augustus 2021
  • Noordstreek – Gasheerskool: Hoërskool Montana – 12 en 13 Augustus 2021

Die wenners van die onderskeie streeksuitdunne sal op 3 Oktober 2021 in ’n nasionale eindstryd teen mekaar te staan kom.

Volg gerus die verloop van die kompetisie op www.dinkofsink.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.