Covid-19: Ons land se dokters praat

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Ani Kolleshi/Unsplash.)

“Met alles wat ons al gesien het wat wêreldwyd gebeur, is ons regtig bang. Nie net bang dat ons ons eie lewe in gevaar stel nie, maar bang dat ons dit dalk na ons huisgesinne kan bring en hulle in gevaar stel.” So vertel Stefanie De Wit, ’n dokter wat tans haar gemeenskapsdiensjaar in ongevalle en narkose by die Witbank-staatshospitaal doen.

De Wit vertel verder: “As mediese dokter in hierdie tyd waar ons nou is met Covid-19, is daar beslis gemengde gevoelens. Voor Covid-19 was ons reeds elke dag blootgestel aan siektes wat oordraagbaar is met die risiko dat ons dit wel kan kry.

“Maar Covid-19 lê ‘n swaar, soms negatiewe gevoel in ons harte en gemoedstoestand elke dag. Ons besef ook dat ons hospitale nie die kapasiteit gaan hê om hierteen te veg nie, want meeste van die hospitale het nie genoeg van die nodige toerusting nie. Ons is besig om ‘n stryd te stry wat nie net afhang van ons mediese kennis nie, maar wat grootliks afhang van Suid-Afrika se inwoners en hul samewerking. Ons besef elke dag dat daar wel nog mense is wat hierdie siekte ligtelik opneem, wat nie besef wat die implikasies van hierdie oor ‘n paar weke kan wees nie. Daarom doen ons ‘n beroep op elkeen om die reëls na te kom wat vir ons uiteengesit is.”

Hierdie vroue staan op die voorgrond met die koronavirus wat tans ons land se mense vreesbevange laat. Hulle staan elke dag op, klim in hul motors om hospitaal toe te ry en te gaan help – soms met ’n hart vol vrees, maar definitief met ’n gees gevul met roeping.

Solidariteit Helpende Hand het verlede jaar Augustus die FroueVonds gestig (die naam word met opset verkeerd gespel want alles loop nie altyd reg nie). Helpende Hand het ook tydens die Covid-19-uitbreking in Suid-Afrika ’n inisiatief met die naam #WitStrik van stapel gestuur. Ons het die land gevra om ’n wit strik tuis te maak en dit op hul bors te dra asook op sosiale media te plaas om vir alle mediese personeel te wys dat ons vir hulle bid en dat ons dankbaar is dat hulle op die voorgrond werk om hierdie virus te bekamp.

Met hierdie twee veldtogte saamgevat, het ek besluit om te gesels met vroulike mediese personeel wat tans werk terwyl almal veilig tuisbly.

Rina Jacobs is ’n sterk vrou wat al vir langer as 30 jaar haar man, dr. Johan Jacobs, ’n algemene praktisyn van Secunda, bystaan. Haar woorde laat my ys – ek het skaars geweet wat om vir hierdie gelowe dogter van God te sê toe sy met my begin gesels oor haar vrese elke keer wat haar man in die motor klim om te gaan werk.

“Die Here gooi ’n kleed van beskerming oor my man elke dag. My man bly op sy voete, want ek bly bid op my knieë. Ek bly bekommerd elke dag as hy die huis verlaat, maar ek weet die Here is by hom en by ons. Ek keer altyd terug na Psalm 91 ek klou vas aan die woorde: ‘Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou’.”

Dr. Marina Friend is ’n algemene praktisyn in Centurion. Sy werk ook nou saam Centurion Hospice om kankerpasiënte by te staan, sy assisteer by Mediclinic Kloof met keisersneë en ginekologiese operasies.

“’n Klein virus is besig om die wêreld om te dop. In Februarie laai ek my man by die lughawe op en lag in my mou vir mense wat met maskers rondloop.

“’n Maand later neem ek saam met ’n vriendin ’n voertuig vir my man sodat hy 14 dae in isolasie kan deurbring in ons tuinwoonstel sodat ek kan voortgaan om veilig te praktiseer en niemand in gevaar te stel nie.”

Praktisering verander, almal moet veilig voel en sien ons doen moeite. Wonderlike ontvangspersoneel verlig ons las deur belangrike sifting te doen en moontlike Covid-19-pasiënte te help sonder dat hulle ons praktyk besoek. Handhigiëne is die belangrikste voorsorgmaatreël om verspreiding van die virus te voorkom. Handewas, oppervlakke skoonmaak en die reiniging van instrumente raak deel van ’n nuwe ondersoekroetine. Afsprake duur nou bietjie langer, want as algemene praktisyn is jy die pasiënte se bron van inligting. Hulle soek inligting en die gerusstelling dat jy sal weet wat om te doen en leiding sal gee as hulle dalk blootgestel word.

Wees verseker, as mediese personeel, is ons toegewyd om u te help met u gesondheidsuitdagings op elke gebied, ook met Covid-19.”

Terwyl ek met van die mediese personeel reëlings tref om vir my ’n stukkie te skryf oor hoe hulle tans die virus beleef, hoe meer besef ek dat hulle werklik moeg en uitgeput klink. Ek voel skoon skuldig omdat ek vandag tussendeur my werk vir Helpende Hand nog kon kans kry om my kombuiskas reg te pak – en ek het gekla daaroor. Daar is soveel om voor dankbaar te wees.

Dr. Lize van Schalkwyk is ’n algemene praktisyn in Swellendam.

“Tans het ons nog geen bevestigde gevalle in Swellendam nie. Daar is baie mense wat paniekerig is omdat hulle vermoed hulle kan moontlik die virus hê en toetse daarvoor wil laat doen, maar nie aan die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) se toetskriteria voldoen nie. As gevolg hiervan moes ons praktykprosedures verander om onsself, die personeel en ander pasiënte te beskerm. Die wêreldwye tekort aan beskermende toerusting, soos maskers en handskoene, maak dit vir ons feitlik onmoontlik om enige iets te kry. Ek en my kollega het al twee gesinne met jong kinders waaroor ons baie bekommerd is om die virus aan oor te dra. Ons wil graag mense help en die beste doen wat ons kan, maar ons het ook ’n verantwoordelikheid teenoor ons eie gesinne. Ons berei onsself so goed voor as moontlik vir dit wat kom, maar soms voel ek oorweldig en soos ’n soldaat wat oorlog toe gestuur word sonder ’n geweer.

Ek het ook nou onlangs ’n vraelys op sosiale media geplaas. Die vraag en % was: Indien jy op die voorgrond werk as mediese personeel, kies ’n opsie. Opsie 1: Wanneer ek werk toe gaan, is ek positief en hoopvol = 36%. Opsie 2: Wanneer ek werk toe gaan, is ek bang en onseker = 64%

Dit laat mens met kommer in jou hart, want jy besef elke dag hoe bang en onseker ons mediese personeel tydens dié pandemie is om werk toe te gaan. Dit laat mens met ’n gevoel om net op jou knieë te gaan en te bid vir hulle, want een ding is verseker: ons het hulle nou nodiger as ooit!

Suster Adri van der Walt van Alldays sê dit is reeds ’n harde wêreld daar by hulle en nou is dit die toeslaan van ʼn ander dodelike onsigbare vyand wat hulle verder weerloos en vreesbevange in rye en rye voor die spreekkamer laat staan.

Sy begin ook haar dag met Ps. 91, “want net vir elke dag vra ek vir sterk hande, vir krag teen die moegheid, vir moed om te troos en om die wedloop te hardloop solank ek kan”.  Want dis hier waar die Here haar wil hê.

Dokter Angela Colquhoun van Pretoria-Oos is ’n pediater en sy sê dat hulle in hierdie tyd van die Covid-19-siekte oorversigtig is in hulle praktyk en is bekommerd oor hul kinderpasiënte. Daar is maatreëls ingestel om almal te beskerm so ver hulle kan. Op die perseel is daar twee susters saam met haar aan diens en hulle bly sterk en sal daar wees vir die kinders.

Ek het enorme respek vir die hart en ywer wat hierdie vroue steeds behou in ’n staat van afsondering, oorval met ’n dodelike virus. Nadat jy hierdie artikel gelees het, is jy welkom om jou wit strik tuis te maak en te dra, plaas dit op sosiale media met die hutsmerk #WitStrik en wys jou ondersteuning.

  • Rene Roux is Helpende Hand se adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie.
  • Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Genis ·

Al wat ons kan ons doen is om alle voorsorg te tref, gehoorsaam te wees, en bid.. bid vir almal… Net God kan ons red van die epedemie..

Pieter J ·

My jongste dogter is ń mediese dokter in die buiteland en ń mens voel so magteloos omdat jy niks kan doen om dinge veiliger vir jou kind te maak nie.

Jan ·

Ag asseblief mense hou op paniek saai omtrent almal word gesond vd corona kyk ou angus makeer skieli niks nie en prins charles en om trent almal is weer ouky so waaroor die bohaai wees eerdee bang vir kanker en diabetes ens…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.