Covid-19 stuit nie studie by Akademia

(Foto: Akademia)

Ondanks die ontwrigtende tydperk waarin die wêreld tans verkeer, is Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia reeds goed op dreef om hierdie akademiese jaar op ʼn hoë noot af te skop.

Daar heers wêreldwyd groot onsekerheid by studente oor wanneer hulle akademiese jaar afskop, maar Akademia-studente sal vanjaar voortgaan om ongesteurd onderrig en opvoeding van gehalte in hulle moedertaal te ontvang.

“In 2020 kon 1 283 Akademia-studente oor nege programme steeds voortgaan met hulle studie om vir hulle ʼn blink toekoms te skep,” sê Marthinus Visser, besturende direkteur van die instelling. Akademia se gevorderde tegnologie, wat deel vorm van sy nauurse onderrigleermodel, is van so ʼn aard dat die aanpassing by klasbywoning tuis redelik glad kon verloop. “Hierdie model is goed gevestig en het sigself verlede jaar tydens die pandemie reeds deur en deur bewys.”

Akademia bou vanjaar voort op die sukses en lesse wat in 2020 geleer is om die nuwe akademiese jaar selfs beter in te rig.

Akademici se voorbereiding en beplanning vir kontaksessies is in kanne en kruike, met seniors wat op 23 Januarie vir oriëntering verwelkom word. Akademia se dosentekorps vergroot ook vanjaar met 21 deeltydse dosente, nege voltydse dosente en ʼn departementshoof vir professionele studies. Dr. Rachel Maritz, voorheen verbonde aan die Universiteit van Pretoria, sluit ook as dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by Akademia aan.

“Hierdie posaanstellings is daargestel om bykomende akademiese ondersteuning te bied vir die groei wat Akademia in die instelling se akademiese aanbod ervaar,” sê Visser. “Vyf splinternuwe kwalifikasies word vanjaar vir die eerste keer aangebied.” Een hiervan is die Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en VOO-onderwys), wat reeds ʼn aanvang geneem het. Verdere kwalifikasie-ontwikkelings word ook beplan.”

ʼn Verdere verwikkeling is die voltydse kampus wat onlangs ingerig is om vanjaar voltydse studierigtings by die Centurion-kampus aan te bied. Visser noem dat die instelling gerat is om voort te gaan, ongeag die twee scenario’s wat vanjaar kan uitspeel.

“Indien daar inperkingsmaatreëls van krag is, sal voltydse studente solank nodig aanlyn kan voortgaan weens die gevorderde tegnologie en onderrigmodel wat reeds gevestig is. Sou die inperkingsmaatreëls opgehef word, sal studente op ons nuut ingerigte kampus kan klasdraf en word maatreëls ingestel sodat studente in ʼn veilige en gesonde omgewing hulle studie kan voortsit.”

Aansoeke vir voorgraadse studierigtings is nog tot 2 Maart oop om voornemende studente verder in onsekere tye tegemoet te kom. Vanweë die matriekuitslae wat vanjaar later bekendgemaak word, sal voorgraadse eerstejaars op 15 Maart oriëntering bywoon en klasse daarna ʼn aanvang neem. Die akademiese roosters is nougeset verpak om steeds te verseker dat studente suksesvol deur die akademiese jaar kan vorder.

Om eerstejaars te help wat later met die akademiese jaar begin, bied Akademia reeds vanaf Februarie waardetoevoegende ondersteuning aan studente. Studente kan in die gerief en gemak van hulle eie huis ʼn gratis kursus bywoon om die kuns van studentwees baas te raak – selfs nog voordat hulle akademiese reis by Akademia begin. Hier word nuttige temas soos basiese rekenaarvaardighede, voorbereiding vir die akademiese jaar, akademiese taal- en skryfvaardighede, basiese akademiese navorsing en wenke vir die aflê van assesserings hanteer.

Ongeag wat vanjaar gebeur, is Akademia gereed om weer soos voorheen wêreldklas-onderrig aan studente te bied.

Hou hierdie ruimte dop, want daar is nog groot dinge op pad. Vir meer inligting oor Akademia, besoek www.akademia.ac.za, of stuur ʼn WhatsApp na 0861 222 888. Akademia, jou Afrikaanse studietuiste!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.