Covid-19-uitdagings kan oorbrug word

Lynette Beer. (Foto: Verskaf.)

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds* poog om deur vroue se verhale en ervarings meisies en ander vroue te bemagtig om hul eie lewens te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word. Lynette Beer, ʼn lewensverrykingspesialis, vertel hoe sy te midde die Covid-19-pandemie kop bo water hou, én boonop ander inspireer.

‘As jy wil oorleef, moet jy nou fokus op wat jy het’

Die oomblik toe ek hoor dat daar ʼn lockdown op pad is, het my hart in my maag geval. As jou sakeonderneming en jou inkomste 95% afhanklik is van groepe mense, dink jy net aan een ding wanneer jy sulke nuus hoor – jy kan alles wat jy het, verloor. Om drie maande lank uit sirkulasie te wees, is finansiële selfdood.

Ek het gedink aan al die paaiemente wat ek nie sal kan betaal nie: my voertuig, my huis, medies en versekering asook die mense wat vir my werk.

Ek het gebewe en begin huil. Dit het deur my kop gemaal: “Hoe gaan jy dit wat jy opgebou het, behou, Lynette?” Maar terselfdertyd het ʼn ander stemmetjie in my kop geantwoord: “Netta, as jy wil oorleef, gaan jy nou moet fokus op wat jy het.” Dit het alles gelyktydig, binne ʼn minuut gebeur.

Van êrens af het die gedagte by my opgekom – ek kan video’s maak en my e-boeke adverteer. Iets wat ek nog nooit op my eie gedoen het nie. Ek is glad nie tegnologies ingestel nie. Ek het besef ek sal vinnig moet leer hoe om dit te doen en vir my ʼn ding gaan koop waarmee ek video’s kon maak. Ek het presies twee dae gehad om die ding te leer werk. My getroue assistent moes help waar hy kon.

Hardus moes my stap vir stap oor die foon verduidelik. Omdat ek alleen bly, was daar niemand wat die kamera kon vashou nie. Ek het met die wasgoedmandjie op die bank ʼn stellasie vir die foon gebou. Maar nes ek begin opneem het, het ʼn hond geblaf of een van die bure het begin boor. Dan begin ek maar weer van voor af. Dit was nag.

Ek het besef ek moenie fokus op my frustrasie nie. My doelwit was om een video ʼn dag te maak en op Facebook te deel. Op dié manier het ek die temperamentvraelys op my webwerf en die boek Pret met Persoonlikhede geadverteer. Die ses kort video’s het die bestellings laat instroom en ek kon Aprilmaand oorleef.

Toe volg Finesse se webinaar waarop meer as 1 700 mense ingeteken het, en ek kon Meimaand se rekeninge betaal. Ek het besef dat ek elke maand iets nuuts moes uitdink, myself as’t ware moes herskep om na ʼn volgende vlak te gaan.

Ek het my oor op die grond gehou en besef dat die matrieks gaan sukkel en vinnig het ek ʼn span van drie dinamiese vroue bymekaar geskraap en op 30 Julie sien ʼn splinternuwe gids, “Matrix Gefix”, die lig. Dít wil gedoen wees!

Ek het ook my boek As Emosies Kon Praat in kort video’s opgebreek en met mense weekliks oor emosies begin praat. My Facebook-volgelinge het met duisende gegroei en meer as 500 000 het op die video’s gekliek.

In dié tyd het twee mense my vreeslik sleggesê op Facebook. “Dis ou nuus” en “ʼn geldmaak-scam deur iemand wat nie kliënte het nie”, het die een geskryf. Ek het dit gelees en gedink hoe swart moet jou hart wees om iemand wat net probeer oorleef in hierdie tye uit te haal? Ek het nie toegelaat dat ʼn swart gal se negatiwiteit my onderkry nie.

Ek het besluit om hom te antwoord en met liefde te versmoor. “Jy is so reg, natuurlik het ek nie kliënte nie, want ons mag nie kliënte sien nie,” het ek geantwoord. Ek het hom gevra om ʼn bietjie genade uit te deel omdat my video’tjies tog vir baie mense iets beteken.

Die virus het my besigheid en my lewe direk geraak en ek was (en is!) soos die meeste mense in ʼn oorlewingstryd. Ek het myself toegelaat om my vrees te formuleer en my angs uit te huil – maar net vir ʼn baie kort rukkie. Want ek het geweet, as ek kon fokus op wat ek het – soos die twee vissies en die vyf brode – is wonderwerke moontlik.

Ek het myself daagliks herinner aan God se belofte, 1 Korintiërs 10:13: “God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.”

Ek het in hierdie dae die ongelooflikste oorwinnings oor myself behaal en wonderlike nuwe dinge bygeleer. Dit sou nooit gebeur het as ek nie moes oorleef het nie.

Ek dink voortdurend aan nuwe goed en aan oplossings. Ek dwing myself om glad nie op die probleem te fokus nie omdat dit my krag steel. Dis seker ʼn soort breinspoeling, maar dit werk vir my om myself uit te daag met die vraag: Hoe gaan ek hier uitklim?

Ek weet dat ek oor twee weke weer iets nuuts gaan probeer. Ek weet egter nog nie wat dit gaan wees nie…

  • Hierdie is ’n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hul steun aan die FroueVonds verleen. *FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek die FroueVonds se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.