Covid-19: Wees ’n helpende hand vir jou gemeenskap

Die eerste skenking wat by Ons Plek Strand gemaak is. (Foto: Verskaf.)

Suid-Afrika en die hele wêreld bevind hulle in uitdagende tye en daarom het die welsynsorganisasie Helpende Hand besluit om die Bybel as riglyn te gebruik om seker te maak dat mense in nood tydens die isolasietydperk genoegsame kos kry.

Hannes Noëth, Solidariteit Helpende Hand se uitvoerende direkteur, benadruk dat met dié instansie se nuwe inisiatief, Josef Silo’s, Helpende Hand die beginsel gaan volg om “reg te gee” in die wete dat mense gerus kan wees dat dit wat hulle ook al skenk, reg uitgedeel en aangewend gaan word.

Noëth verduidelik die naam van die projek spruit uit die Bybel toe Josef opdrag gekry het om tydens die sewe jaar van oorvloed in Egipte kos bymekaar te maak en te stoor vir die sewe jaar van hongersnood wat sou volg.

“Ons bedoeling met Josef Silo’s is dus om voorsiening te maak vir die moeilike tye wat ons tans ervaar én voorsorg te tref vir moeilike tye wat kan kom nadat die 21 dae van afsondering verby is,” sê Noëth.

“Helpende Hand beskik oor gevestigde strukture en het ook ’n lys van waar die nood groot is onder ons Afrikaanse gesinne. Ons voed reeds al die afgelope 13 jaar lank duisende kinders by hulle skole. Dié kinders is nou by die huis, maar moet kos kry. Ons voedingsprojek moet steeds aanhou terwyl die land in die staat van afsondering geplaas is.”

Noëth sê armoede kan nie soos die land “afgeskakel” word nie. “Helpende Hand werk nou nog harder om te sorg dat veral ons behoeftige kinders, bejaardes en gestremde persone die kos en sorg kry wat hulle benodig.”

Hy sê Helpende Hand weet waar die nood is en het 15 maatskaplike werkers landwyd wat daagliks die situasie monitor en Helpende Hand se stelsel bywerk waar nood onverwags opduik.

“Die komende 21 dae lange afsondering gaan nie net ’n uitdaging bied nie, die tye wat daarna volg, sal ook. Dus versoek ons die publiek om te help waar hulle kan, maar om reg te help en die regte kanale te gebruik om dit te doen,” sê Noëth.

Noëth sê Helpende Hand het in sy jare van bestaan al ’n volhoubare manier uitgevind om Afrikaner-armoede te verlig, te verbreek en te voorkom.

“Ons moedig ’n #GeeReg-beginsel aan by mense. Om reg te gee gaan twee kante toe: mense moet reg gee in tye van nood, en diegene en instansies wat ontvang, moet betroubaar wees en onderneem om dit reg te versprei. Helpende Hand is ’n gevestigde en betroubare instansie wat dit nie sou kon doen sonder ons ondersteuners nie. Dit wat ons jaarliks sonder die regering se hulp doen, spreek boekdele.”

Helpende Hand het tans ’n vaste lys van adresse waar niebederfbare goedere afgelaai kan word. Voorsorgmaatreëls sal getref word om dit te reinig en só te verhoed dat die virus nie moontlik op die goedere versprei word nie.

Die publiek in afsonderlike dorpe kan ook binnekort registreer om ’n “Silo” te wees, onderhewig aan beperkings en voorwaardes. As die 21 dae van afsondering verby is, sal meer plekke by die lys gevoeg word.

“Dit word soms nodig, selfs in tye van nood, dat wanneer ’n mens nog het, jy ook uitdeel aan diegene wat nie het nie. Dit is veral in tye van nood dat ’n mens moet leer om te bly gee, want dit doen jou goed om te gee as jy self onder druk is,” sê Noëth.

Helpende Hand doen ’n beroep op mense om as hulle in dié tyd van afsonderig goedere aankoop, iets ekstra te koop en by die Josef Silo’s in hul gebied te gaan aflaai. As die afsondering verby is, sal die geriewe vir ’n geruime tyd bedrywighede voortsit tot die krisistyd heeltemal verby is. Alle voorsorgmaatreëls sal getref word om die publiek se veiligheid te verseker.

Hier volg ’n lys van die broodnodige items wat benodig word. Ondersteuners hoef slegs die nodige nommer te skakel en kan dan reël om vanuit hul motors die ware aan welsynswerkers te oorhandig.

Besoek www.josefsilos.co.za om die afsetpunte en kontaknommers te kry.

Kospakkielys vir skenkings:

Niebederfbare produkte:

  • Mieliemeel
  • Pasta
  • Rys
  • Soja-bief
  • Soja-hoender
  • Sardyne (pilchards)
  • Blikkies bone
  • Boeliebief
  • Blikkies Weense worsies
  • Blikkies tamatie-en-uiesmoor
  • Blikkies soetmielies en/of ertjies
  • Gemengde groente
  • Soppoeier
  • Olie
  • Sout
  • Grondboontjiebotter
  • Konfyt

Toiletware:

  • Handseep
  • Toiletpapier
  • Sanitêre ware
  • Seeppoeier
  • Skottelgoedwasseep

Opsioneel:

  • Tee
  • Koffie
  • Suiker
  • Langlewe-melk

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Phillip

Wonderlike inisiatief. Dankie Helpende Hand.