Covid-19: ‘You’ll Never Walk Alone’ weerklink reg oor Europa

Foto: www.pixabay.com

Terwyl die koronavirus (Covid-19) wêreldwyd op almal se lippe is, het radiostasies reg oor Europa besluit om vir ʼn wyle ʼn ander deuntjie te sing.

Op 20 Maart het ongeveer 180 radiostasies in sowat 30 Europese lande, insluitend die BBC, gelyktydig Gerry and the Pacemakers se weergawe van “You’ll Never Walk Alone” gespeel.

Die BCC berig dat lande soos Luxemburg, Duitsland, Oostenryk, België, Bulgarye, Slowakye, Roemenië en Spanje ook aan die inisiatief deelgeneem het.

“Ons moet almal doen wat ons kan om die korona-krisis te oorkom,” het Sander Hoogendoorn, ʼn platejoggie en omroeper by 3FM, gesê. Hoogendoorn, wat die dryfveer agter dié inisiatief was, verduidelik dat hy hierdeur ʼn gevoel van samehorigheid wou skep.

“Die lied spreek tot ʼn wye gehoor,” sê Hoogendoorn. “Dit kan iets vir mense beteken wat tans ongelooflike werk in die gesondheidsorgsektor verrig, asook vir diegene wat siek is of vir ’n ruk nie hul huise kan verlaat nie.”

“You’ll Never Walk Alone” is in 1945 vir die musiekblyspel Carousel geskep. Die lirieke is deur Oscar Hammerstein II geskryf en Richard Rodgers het die musiek gekomponeer. Die lied is sedertdien deur talle musikante verwerk, insluitend Gerry and the Pacemakers se weergawe wat in 1963 uitgereik is.

Kyk hier na ʼn video wat deur 3FM gedeel is:

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.