Cradock-boere hoop op reën; kry intussen droogtehulp

Cradock-droogte. (Foto: Willie Ferreira)

Sowat 60 boere in die Cradock-distrik in die Oos-Kaap het Donderdag saamgetrek vir hul beurt om droogtehulp te ontvang.

Boere Droogtehulp SA se trokke, wat sowat 400 ton ruvoer, 15 ton hoendermis, 60 000 liter water, kruideniersware, hondekos en dies meer vervoer, het Donderdag omstreeks 11:00 in die distrik aangekom.

Cradock is die grootste bokhaarproduserende distrik in die land.

Chris van Beljon, stigter van Boere Droogtehulp SA, vertel aan Maroela Media dat die skenkings op die trokke van reg oor Suid-Afrika kom, insluitend Frankfort, Rustenburg, Lichtenburg, Ventersburg en Bloemfontein.

Wat hierdie uitreik anders maak as die voriges, is dat die konvooi van Rustenburg tot in Cradock deur die nasionale metropolisie bygestaan is. “Dit is baie uniek, want dit is iets van die regering se kant af wat ons begin help.”

Voer word afgelaai in Cradock. (Foto: Chris van Beljon)

Die trokke het Woensdag in Bloemfontein gestop waar die konvooi deur die gemeenskap iets te eet en drink aangebied is vir die lang, warm pad Oos-Kaap toe.

Willie Ferreira, wat op die plaas Elinus boer en sowat 47 km buite Cradock woon, sê dat omtrent al die boere in die streek hul vee moes verminder. Ferreira, wat hoofsaaklik met skape en angora-bokke boer, sê hy het self al baie vee verloor.

“Weinig van ons boere het ooilammers oor wat ons kuddes moet aanvul, want ons het nie kos nie. Die wild op my plaas het ook drasties afgeneem. Van my springbokke en koedoes het redelik baie gevrek en ek het so 200, 300 springbokke verloor. Die koedoes lê oral dood.

Voer in Cradock. (Foto: Chris van Beljon)

“ʼn Boer wat sy sout werd is voer sy vee, maar jy kan ook net voer tot op ʼn punt. Ons het ons kudde maar minder gemaak en voer maar soos wat ons kan. Dit is ʼn uiters duur storie,” sê hy en verduidelik dat boere in die omgewing gewoonlik selfstandig was en hul eie voer kon kweek, maar dat die droogte die aanplantings van dié gewasse ook ingekort het.

Ferreira sê verder dat boere in Cradock normaalweg so 350 mm reënval per jaar gekry het, maar dat daar oor die laaste sewe jaar baie minder reën begin val het. Vanjaar het Ferreira slegs 56 mm gehad.

“Verlede jaar het ons ook maar 101 mm gehad en die jaar voor dit 120 mm reën. Dit is egter nie die geval vir elke boer hier nie. Ons plaas is in ʼn baie droë streek in die omgewing. Een boer kry miskien soveel reën en die volgende boer kry meer.

“Ons hoop om vanjaar maar ʼn vroeë Kersgeskenk in die vorm van reën te ontvang,” sê hy.

Boere van Cradock. (Foto: Chris van Beljon)

Verder sê hy dat die boere se gemoed wisselvallig is. “Die een dag is ons positief, ander dag is ons negatief. ʼn Projek soos dié maak ʼn mens positief en laat jou vergeet van die droogte vir so twee weke. Daarna kan ons die dag weer aanvat, want jou moed is weer hoog.”

Volgens Ferreira het sowat 80% van die hoërliggende dele omCradock nie meer water nie. Die gebied het nie windpompe, dompelpompe of boorgate nie, omdat dit nooit voorheen nodig was nie. “Gewoonlik het hierdie areas fonteine gehad waarop boere kon staatmaak, maar die water het al opgedroog.”

Cradock val in ʼn somerreënvalstreek.

Van Beljon het mense wat graag deel wil word van die konvooi genooi om hom te kontak. “Hierdie is ʼn belewenis wat vir niemand beskryf kan word nie. Ons het een keer per maand ʼn groot aflaai op ʼn ander dorp. As jy dit nog nie gedoen het nie, mis jy uit, dit moet eintlik op jou bucket list wees. Nie een aflaai is dieselfde nie. Ek het al ʼn klomp van hulle gedoen en elke keer is daar iets nuuts wat jy saam met jou vat,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Koos ·

Lyk my die boere kan nie mooi dink nie. Hoekom bou hulle nie net meer opgaardamme nie kyk hoe baie water loop in die see. Dis die probleem wat ek het met solidariteit hulle bou n onnodige kollege terwyl daar baie beskikbare geboue is maar pleks dat hulle meet damme bou want dis wat werklik nodig is..

Commie ·

@Koos, ek bly in ‘n vuil Stad maar daar is een ding wat ek nooit sal doen en dit is om ons Boere te kritiseer nie. Die Solidariteit kollege is baie nodig. Jy lewer seker kommentaar vanuit jou leunstoel ?

Outoppie ·

Koos hoe moet jy ń dam bou waar daar nie water vloei nie. Alle water kan nie opgedam word nie

Willie ·

Koos jy weet regtig nie waaroor droogte gaan nie! Bly liewer stil en maak ‘n positiewe bydrae.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.